Wees versigtig as jy ’n onderneming koop, want daar is slaggate, waarsku ons geldghoeroe Nico Swart
Fransie en Michelle is vanaf hul skooljare boesemvriendinne. Albei werk vir die staatsdiens, maar oorweeg dit om ’n bestaande onderneming te koop. Dit lyk vir hulle so lekker om jou eie onderneming te besit en te kan bestuur. Jy is dan self vir jou uiteindelike sukses (of mislukking) verantwoordelik, asook vir die inkomste wat jy verdien. Hulle het reeds ’n klompie geld in hul aftreefondse by hul werkgewer en wil dit gebruik om die onderneming mee te koop. Dit lyk so maklik om ’n onderneming te koop, maar daar is talle slaggate waarin ’n mens kan trap.
Jy kort inligting
Dit is belangrik dat ’n potensiële koper weet waarna om te kyk, met of sonder die hulp van ’n deskundige. In elke sake-onderneming is daar dokumente wat hul eie storie oor die onderneming vertel. Net so is daar gegewens wat nie sommer op sigwaarde aanvaar moet word nie. ’n Voornemende koper moenie sonder meer aanvaar dat alles wat die verkoper (eienaar) omtrent die onderneming sê, korrek is nie. Dié inligting kan vanweë die volgende redes foutief wees: foutiewe aannames deur die eienaar; finansiële druk om te verkoop; ’n gebrek aan bestuurskennis; swak administrasie; en swak finansiële bestuur. As potensiële koper stel jy in die finansiële prestasie van die onderneming belang. Finansiële inligting is ’n voorvereiste vir die beoordeling van enige onderneming. Dié inligting word in die jaarstate (inkomsteen balansstaat) van die onderneming verkry. Sonder hierdie state is dit moeilik om die onderneming te beoordeel. In so ’n geval moet die koper soveel dokumente moontlik van die onderneming probeer opspoor. Finansiële state moet dan met die hulp van hierdie dokumente opgestel word. Gebruik ’n ouditeur om jou hiermee te help. Die meeste dokumente sal met die toestemming en hulp van die verkoper (eienaar) bekom kan word. Die volgende dokumente kan van nut wees: bankstate, depositostrokies, tjekboekteenblaaie en debiet- of aftrekorders. Die banksaldo van ’n onderneming dui nie noodwendig op gunstige/ongunstige sake-aktiwiteite nie. Private inbetalings asook onttrekkings vir persoonlike gebruik kan uit die onderneming se bankrekening gedoen word. Depositostrokies en/of bankstate kan van die bank verkry word as die eienaar nie daaroor beskik nie. Tjekboekteenblaaie of afskrifte van tjeks wat teen die onderneming getrek is, kan gebruik word om uitgawes in die kasboek te help bereken. Die bank sal, met die eienaar se toestemming, besonderhede van debieten stoporders verskaf.
Maak seker van die volgende:
Inkomstebelastingopgawes Die verkoper se jaarlikse inkomstebelastingopgawes sal nie noodwendig ’n aanduiding van die onderneming se belasbare inkomste wees nie omdat inkomste vanuit ander bronne (man of vrou) ook hierby ingesluit mag wees. Daar kan ook meer uitgawes aangetoon en afgetrek word as wat werklik aangegaan is, meestal uitgawes vir persoonlike doeleindes. ’n Mens kan wel aanvaar dat niemand meer belasting sal betaal as wat nodig is nie, maar betaal die persoon wel die minimum belasting?
BTW -papiere Hierdie belasting is tweemaandeliks betaalbaar en word op die bruto-omset van die vorige twee maande bereken. Opgawes is van die belastinggaarder verkrygbaar, sou die eienaar nie daaroor beskik nie, en kan gebruik word om die bruto-verkope (omset) van die onderneming te bepaal. Daar kan aanvaar word dat die werklike verkope nie laer sal wees as wat die betaalde belasting aandui nie, eerder hoër.
Rekeninge – veral telefoon, krag, water en huurgeld Elkeen van die rekeninge sal ook iets van die onderneming vertel. Afskrifte behoort maklik by die betrokke instellings verkry te kan word.
Eiendomsbelasting As die gebou waarin die onderneming is, aan die eienaar behoort, word huurgeld deur erfbelasting vervang. Die bedrag betaalbaar kan van die plaaslike munisipaliteit bekom word.
Salaris- en loonaftrekkings Afskrifte van weeklikse of maandelikse aftrekkings van salarisse of lone vir belasting, werkloosheidsversekering, ensovoorts, kan van die Inkomstekantoor (SARS) bekom word.
Leweransiers Leweransiers kan geskakel word om inligting oor onder meer die volgende te bekom: die gemiddelde jaarlikse of maandelikse aankope; uitstaande paaiemente (bedrae); en veral die onderneming se beeld en kredietwaardigheid. Onthou aankope kan dikwels ook vir privaat doeleindes wees.
Huidige huurkontrak Die voornemende koper moet vooraf vasstel of die huurkontrak (indien die gebou gehuur word) oordraagbaar sal wees. Indien nie, moet ’n ander gebou met ’n gunstige ligging gesoek word. Die huurkontrak moet andersins noukeurig bestudeer word ten einde te bepaal wat die huurder se regte en verpligtinge is, asook presies wat gehuur word.
Personeeladministrasiedokumente Sommige eienaars van klein ondernemings hou geen aantekeninge van hul werknemers se kwalifikasies, vorige ervaring, dienstydperke en selfs salarisverhogings nie – met voorspelbare gevolge. Net so dui die afwesigheid van volledige finansiële state op swak bestuur, wat moontlik die rede kan wees waarom ’n onderneming nie so goed vaar nie. ’n Slim potensiële koper sal daarin vir haar/hom ’n geleentheid sien.
Voorraadopnames ’n Voorraadopname sal aan die potensiële belegger toon hoeveel voorraad daar in die onderneming is. Die eienaar se kode wat die kosprys van produkte bepaal, kan met die leweransiers se kosprys vergelyk word om die winsgrens te help bepaal. Daar moet verder ook gelet word op moontlike beskadigde of verouderde voorraad, asook die voorraad wat gebêrekoop word. Die kernvoorraad moet ook bepaal word. Onthou, voorraad huur net die ruimte in enige onderneming. As dit nie goeie huur betaal nie, moet dit uit.
Debiteure ’n Lys met die name van alle debiteure moet van die eienaar bekom word. ’n Groot aantal debiteure wat hul verpligtinge betyds nakom, verhoog die waarde van die onderneming. Debiteure moet geskakel word ten einde hul skuldbedrae met dié op die lys te vergelyk, asook om die kredietbeleid met hulle te bespreek. Dieselfde geld vir krediteure.
Markkennis Daar moet ondersoek na die onderneming se ligging, produkte, pryse, dienslewering en promosiebeleid ingestel word en hierdie aspekte moet met dié van mededingers vergelyk word.
Onderhoude met personeel Onderhoude moet met alle werknemers gevoer word. Gesels oor verkope, produkte, pryse, mededingers, kliënte, beeld van die onderneming, verhouding met die eienaar, salarisse en lone, opleidingstandaard en ervaring, voorstelle vir veranderings, werktevredenheid en moontlike bedankings.
Goeie trou Goeie trou verwys onder meer na die waarde van ’n onderneming op grond van die aantal jare wat dit ’n diens gelewer het en die feit dat ’n bepaalde eienaar of bestuurder aan die hoof daarvan staan. Moenie te veel vir goeie trou betaal nie omdat dit dikwels die onderneming saam met die vorige eienaar verlaat. Veral as die belegger nie oor voldoende kapitaal beskik om die bestaande standaarde te handhaaf nie.
Voorkoms Die voorkoms van die onderneming kan die rede wees waarom mense nie daar koop nie. ’n Nuwe kleur verf, opknappingswerk en ’n ander winkeluitleg kan dit verander. As die gebou gehuur word, moet ’n mens natuurlik nie te veel geld daaraan spandeer nie.
Werklike verkoopsrede Dit is moeilik om die werklike rede vir verkoop te bepaal. ’n Goeie finansiële ontleding verskaf gewoonlik die antwoord.
Verkoopprys ’n Lae verkoopprys dui nie noodwendig op ’n winsgewende beleggingsgeleentheid nie. Dis dikwels die teenoorgestelde. Net so min kan ’n hoë verkoopprys ’n winsgewende belegging waarborg. Kry ’n kundige om ’n realistiese koopprys te bepaal. Die koop van ’n bestaande onderneming kan vir doeleindes van loopbaanbeplanning, beleggingsbeplanning asook aftreebeplanning gedoen word. Diegene wat ’n aftreepakket ontvang het, word gewaarsku om nooit meer as die helfte van hierdie pakket in so ’n onderneming te waag nie. Daarom is dit belangrik om die finansiële prestasie van die onderneming met die hulp van ’n ouditeur te bepaal. Sodoende kan jy ’n prentjie kry van hoe lewensvatbaar die onderneming is al dan nie.
Besoek www.moneyskills.co.za vir Nico se boeke Vk