Raadop oor inkomstebelasting? Ons geldghoeroe Nico Swart gee wenke
Maritha Botha* werk as mondhigiënis by ’n tandarts. Sy verdien nie veel nie en dra gevolglik slegs ’n klein bedraggie per maand tot ’n uittreeannuïteit by. Haar ma is onlangs oorlede en sy het haar woonstel in die stad asook ’n lewenslange maandelikse inkomste geërf. Die afbetaalde woonstel verhoog nou haar inkomste met sowat R4 500 per maand, maar sy was onbewus van die talle kosteaspekte daaraan verbonde. Sy beskik oor geen belastingkennis nie. Haar dogter is in matriek en haar man verdien self ’n gemiddelde salaris. Moet sy nou ’n boekhouer nader vir hulp en wat van die belasting wat sy nou moet betaal? Ja, sy moet ’n boekhouer kry! Net soos ’n goeie prokureur is ’n goeie boekhouer of ouditeur ’n moet vir jou persoonlike geldsake. Boonop verleen dit meer kredietwaardigheid aan die inhoud van jou voltooide inkomstebelastingvorm. Die ouditeursfirma se etiese optrede en voortbestaan is immers op die spel. ’n Ouditeur kan jou miljoene rande oor ’n leeftyd spaar en daarmee saam het jy meer gemoedsrus. ’n Ouditeur is ’n rekeningkundige beampte wat oor ’n geoktrooieerde rekenmeester(CA)-kwalifikasie beskik. Hierdie mense bly op hoogte van belastingaspekte en wetgewing. As jy nie self hierdie kennis het nie, moet jy van hulle gebruik maak.
Jy moet betaal!
Elke mens wat jaarliks meer as ’n sekere bedrag aan inkomste verdien, moet belasting aan die staat betaal. Die geheim is egter om nie meer te betaal as wat jy moet nie. Jy kan van wettige metodes gebruik maak om jou belastingaanspreeklikheid te verlaag. Ons noem dit belastingvermyding. Onwettige metodes word belastingontduiking genoem en is met boetes en selfs tronkstraf strafbaar.
WAAROP WORD JY BELAS? Die volgende soort inkomste is belasbaar: jou salaris (lone, oortyd en byvoordele soos behuising en ’n motor); besigheidsinkomste; beleggingsinkomste (rente, dividende, huurinkomste); annuïteite; pensioen; en kapitaalwinsbelasting (wins op Maritha se woonstel as dit die dag verkoop word). Maritha moet sowel haar salaris as huurinkomste aan die Inkomstediens verklaar.
WAT MAG AFGETREK WORD? Maritha mag die volgende vir belasting aftrek: die gebouebelasting en heffing op haar woonstel; die onderhoud daarvan; salarisse van ’n tuinwerker; invorderingskoste; administrasiekoste; en ’n gedeelte van haar jaarlikse annuïteitsbydrae. Dit is belangrik om vir ’n periode van vyf jaar alle bewyse van inkomste en uitgawes vir doeleindes van belasting te bewaar.
JOU BELASTINGOPGAWE (ITR12) Met die nodige kennis kan sy self haar belastingvorm voltooi, al sou ek anders voorstel. Die belastingopgawe kan op verskeie maniere voltooi en ingedien word, onder meer: n eFiling – die gerieflikste en vinnigste manier om dit in te dien (registreer eers by www.sarsefiling.co.za). n Dien dit elektronies by ’n SAID-tak in. Vind uit watter stawende dokumente jy moet saamneem. n Voltooi die papierweergawe van jou opgawe en pos dit in aan SAID of plaas dit in ’n SAID-posbus (vra jou inkomstebelastingopgawe aan). Ten tyde van die voltooiing daarvan, moet sy ook ’n IRP5-vorm van haar werkgewer hê en ingee, asook bewyse van jaarlikse beleggingsdokumente wat van beleggingsfirmas en versekeringsmaatskappye ontvang word. Laasgenoemde dui belastinginligting aan vir die SAID. Maritha se annuïteitsbydraesertifikaat sal só ’n dokument wees.
Die berekening van inkomste geskied só:
Stap 1: Bereken belasbare inkomste Totale inkomste ontvang – vrygestelde inkomste – toelaatbare aftrekkings + kapitaalwinsbelasting = belasbare inkomste
Stap 2: Bereken belasting wat daarop betaal moet word (belastingaanspreeklikheid): Belasbare inkomste bereken belastingbedrag (gebruik belastingtabelle) – primêre rabat = normale belasting betaalbaar – SITE/PAYE/Voorlopige belasting reeds afgetrek = belastingaanspreeklikheid
SOORT BELASTING
Waar Maritha voorheen slegs SITE betaal het wat deur haar werkgewers afgetrek was, verdien sy nou ook ander inkomste en vanuit verskillende bronne. SITE is die standaardinkomste wat vir alle werknemers afgetrek word. Hiervolgens hoef ’n werknemer wat slegs dié inkomste ontvang, nie ’n belastingopgawe in te dien as die inkomste laer as ’n bepaalde bedrag is nie. Maritha moet nou as ’n voorlopige belastingbetaler registreer. Voorlopige belasting beteken dat sy nou twee keer per jaar (in Augustus die helfte en in Februarie die volgende jaar die ander helfte) belasting aan die SAID moet betaal. Hierdie twee bedrae word op haar belasbare inkomste van die vorige jaar gegrond. Onthou, ’n belastingjaar begin in Maart en eindig in Februarie die volgende jaar. Die geheim? Betaal so min belasting moontlik binne die wet. Daarom moet Maritha kennis dra van belastingslaggate.
Leer hieruit
Watter belastingslaggate en moontlike planne van aksie bestaan? n Sy gee nie haar ouditeur al die feite en bewyse nie. Sodoende sal sy nie die talle slaggate kan vermy nie. Haar adminstelsel is nie op datum nie en boonop weier sy om daaraan aandag te gee. Sy weet genoeg, dink sy. n Sy belê nie belastingvry in haar eie huisverband nie. Sy sit nog so ’n ietsie weg in ’n spaarrekening/vaste deposito teen baie lae rente (2%). Op haar eie verbandafbetaling sal sy vier tot vyf keer soveel rente (8%-10%) verdien (of spaar) en dis belastingvry. n Maritha het voorheen ’n aftreepakket van ’n werkgewer ontvang. Sy het dit direk in haar bankrekening laat inbetaal (in plaas van direk in haar nuwe werkgewer se aftreefonds), met die gevolg dat sy vir ’n tweede keer daarop belasting sal moet betaal. n Toe sy van nog ’n werkgewer bedank het, het sy haar totale aftreepakket in ’n annuïteit belê. Sy het egter reeds daarop belasting betaal. Sodoende neem sy belastingvrye geld en maak dit weer belasbaar. Sy kon dit egter belastingvry direk in die annuïteit oorgeplaas het. Nou sal sy twee keer daarop belasting moet betaal. n Boonop kon sy ’n belastingrabat (aftrekking) gekry het omdat sy haar geld vanuit ’n voorsorgfonds ontvang het. n Sou haar inkomste drasties toeneem (dalk by ’n ander werkgewer) kan sy byvoorbeeld geld in haar dogter se naam belê. Sodoende sal niemand daarop belasting hoef te betaal nie, tot tyd en wyl die dogter self meer as die minimum belastingperk vir die betaling van belasting verdien. n Haar man wil ’n onderneming vanuit die huis begin. Hulle kan nou die volgende vir belastingdoeleindes aftrek: ’n gedeelte van die telefoonrekening; ’n gedeelte van die grondbelasting (die verhouding van die werksplek tot die totale woning, byvoorbeeld); adminkoste; instandhoudingskoste van rekenaars; salarisse van personeel; en korttermynversekering van die onderneming se bates. Gebruik die kinders as werknemers. Sodoende verdien hulle ’n inkomste en word hulle boonop entrepreneurs. n Open ’n beleggingsrekening vir die dogter en plaas gereeld geld daarin. Sodoende verdien sy die inkomste en betaal Maritha nie belasting op die rente/dividende vanuit die belegging nie. n Haar man wil R50 000 by die bank leen. Hy kan dit dalk goedkoper by haar leen terwyl die rente-inkomste sy inkomste aanvul. Verdeel soveel inkomste moontlik tussen haar en hom. Sodoende word die belastinglas verdeel. Boonop bou hulle twee boedels op wat goed te pas kan kom vir doeleindes van boedelbelasting sou een van hulle te sterwe kom. n Sy moet die inkomste vanuit haar beleggings so laat moontlik in haar lewe gebruik. Los die rente in die beleggings asook die inkomste vanuit annuïteite totdat jy regtig die inkomste daaruit nodig het. Sodoende stel jy die betaling van belasting daarop so lank moontlik uit. n Sou sy of haar man eendag aftree, sal die ouditeur die wetgewing rakende die belastingposisie van hul verskillende aftreefondse asook hul annuïteite verduidelik. Wetgewing en bedrae (aftrekkings) verander elke paar jaar, soms jaarliks. n Bemagtig jouself. * Skuilnaam
Besoek www.sars.gov.za en www.moneyskills.co.za vir inligting oor Nico se meer as 70 boeke Vk