Ons geldghoeroe Nico Swart gee vir ons hierdie week raad oor trusts
Len en Clarissa het vier kinders: ’n seun op universiteit, ’n dogter wat pas haar eie onderneming begin het, ’n dogter met ’n verstandelike gestremdheid en ’n agtjarige laatlammetjie. Die ouerpaar het ’n huis en ’n plaas wat Len van sy ouers geërf het. Clarissa gaan moontlik ook ’n huis en meenthuis by haar ouers erf. Die prokureur het hulle reeds daarop gewys dat hulle ná hul dood met boedelbelastingprobleme gaan sit. Hulle is veral bekommerd oor hul dogter met ’n gestremdheid se toekoms. Die koerante skilder geen rooskleurige prentjie van hul toekoms en dié van hul kinders nie. Miskien moet hulle ’n trust of twee vir die kinders oprig, maar hoe kan ’n trust hulle help?
Dit is wat dit is ’n Trust is ’n regspersoon (net soos ’n beslote korporasie of maatskappy) wat om bepaalde redes opgerig word. ’n Trust word opgerig deur ’n skenker (persoon) wat vaste bates (soos geboue of plase) aan ’n trust skenk. ’n Trustee bestuur dit om inkomste vir ’n begunstigde te genereer. In die meeste gevalle word dit opgerig om bepaalde boedelbeplanningsprobleme op te los, soos verskeie erfgename; moeilik verdeelbare bates (huis, meenthuis, plaas); minderjarige kinders; of ’n kind met ’n verstandelike gestremdheid. ’n Trust kan om dié redes gebruik word: n Om bates en toekomstige inkomste vir ’n minderjarige kind te bestuur. n Om lewenslank in ’n kind met ’n gestremdheid se inkomstebehoefte te voorsien. n Om bates en inkomste namens ’n verkwister (’n kind wat geensins met geld kan werk nie) te bestuur. n Om die inkomste vanuit ’n onverdeelbare bate (soos ’n plaas) vir vier erfgename te bestuur. n Die groei in jou boedel word verwyder en na ’n trust oorgeplaas waar dit teen boedelbelasting beskerm is (die staat hef dit teen 20% op die bedrag waarmee jou boedel R3 500 000 oorskry) en kapitaalwinsbelasting (gehef op die kapitaalgroei van elke bate). n Die oordrag van bates en inkomste na volgende geslagte word verseker. n Om voorsiening vir ’n kind se opvoedingsbehoeftes te maak. n Om bates gedurende jou leeftyd reeds na verskillende erfgename oor te dra deur ’n trust vir elke erfgenaam op te rig. n Om bates vir erfgename te beskerm teen skoonkinders en kinders se huweliksgoederebedelings wat jou nie aanstaan nie.
Die moet jy weet
DIE PARTYE Sodra ’n trust opgerig word, is daar drie partye betrokke, die skenker; die trustee(s) en die begunstigde(s). Die skenker kan enigeen wees. Die trustee(s) word deur die skenker gekies en kan ’n gade, ’n familielid, ’n professionele persoon (prokureur, boekhouer of makelaar) of onderneming (bank, ouditeursfirma of versekeringsmaatskappy) wees. ’n Begunstigde(s) word ook deur die skenker gekies, gewoonlik ’n gade, kind of familielid, maar dit kan enigiemand of selfs ’n onderneming wees.
INKOMSTEBELASTING Sodra ’n trust opgerig is en die trustbates (vaste bates) ’n inkomste genereer, word daar inkomstebelasting deur een van drie partye of ’n kombinasie van die trust en begunstigde betaal en wel soos volg: Die skenker, indien die skenker beheer oor die trust uitoefen of die mag behou het om begunstigdes te wysig; die trust op alle inkomste wat die trust nie aan ’n begunstigde uitkeer nie; en die begunstigde op alle inkomste wat van die trust ontvang word.
STIGTING Jou prokureur, ouditeur of makelaar kan jou help om ’n trust op te rig. Sorg dat jy by ’n kenner uitkom wat in trusts spesialiseer. ’n Trust word vir baie jare of vir altyd opgerig en dit kan slegs volgens die inhoud van die skikkingsakte deur jou gewysig word. Maak seker dat jy die doel van jou trust begryp. Die persoon, bank of versekeringsmaatskappy wat jy kies, sal die trustakte (die dokument waarin alles omtrent die funksionering van die trust aangedui word) opstel. Die trust sal uiteindelik by die Meester van die Hooggeregshof geregistreer word en deur die trustee(s) geadministreer word.
DIE KOSTE As jy jou trust op die platteland laat oprig, kos dit R2 000. In die stad kos dit R4 000-R5 000.
WETLIKE VEREISTES Enkele wetsvereistes bestaan vir die oprigting van ’n trust: n Die skenking van vaste bates moet skriftelik in ’n skenkingsooreenkoms in die trustakte ingesluit word. n Die skenker en die trustee(s) moet handelingsbevoeg (21 jaar oud) wees. n ’n Afskrif van die trustakte moet by die Meester ingedien word. n Die vaste eiendom moet wettiglik vanaf die skenker na die trustees oorgedra word (die eiendom word dus in die naam van die trust geregistreer en hereregte en oordragskoste word deur die skenker betaal). n Die begunstigde(s) moet duidelik geïdentifiseer word. Die verskillende tipes Daar bestaan hoofsaaklik twee soorte trusts wat as boedelbeplanningstegnieke gebruik kan word, naamlik die testamentêre trust en die trust inter vivos. Maak seker jy begryp die doelwitte van elke soort trust asook die finansiële gevolge vir jou boedel. Die inhoud van die trustakte moet baie sorgvuldig met die hulp van ’n regspersoon wat trusts oprig, ontwerp en beplan word. Al jou bedoelings moet duidelik vanuit die trustakte afgelei kan word. Die magte en pligte van die trustee(s), wanneer die trust beëindig mag word, wanneer begunstigde(s) vaste bates mag ontvang al dan nie, asook of die begunstigde(s) kapitaal (vaste eiendom) en inkomste mag ontvang en wanneer, word hierin aangedui.
’n Testamentêre trust As jy in jou testament ’n trust vir oprigting ná jou dood beplan, word dit ’n testamentêre trust genoem. Hierdie trust se inhoud en bepalings word vanuit jou testament afgelei. Dit word dus in jou testament beskryf. Die eksekuteur van jou boedel (wat jy in jou testament bepaal het) moet gevolglik toesien dat die testamentêre trustopgerig word. Jy kan solank jy nog lewe, die bepalings van hierdie te stigte trust wysig (net soos jou testament). Die groot voordeel is die feit dat jou boedel ná jou dood (hopelik indien jy goed beplan het) die geld vanuit ’n groot lewenspolis ontvang om: die trust op te rig; alle vaste bates se oordragskoste na die trust te betaal; en die ander boedelkoste te betaal. Len-hulle sit die plaas in hierdie trust vir die drie gesonde kinders.
’n Trust inter vivos As jy ’n trust oprig terwyl jy nog leef, word dit ’n trust inter vivos genoem (’n trust tussen lewendes). Die doel van hierdie trust is om vaste bates aan ’n trust oor te dra, maar om steeds beheer oor die bates te behou. Die trust inter vivos is buigsaam en kan maklik by veranderde omstandighede aangepas word. Die buigsaamheid van dié tipe trust is geleë in die bepalings van die trustakte. Die skenker het die diskresionêre magte om onder meer die volgende te doen: n Die aantal trustees te wysig. n Trustees aan te stel of te vervang. n Diskresionêre magte (om self te oordeel of inkomste betaal en of nog eiendom aangekoop kan word) aan trustees te verleen – dit geld ook vir die testamentêre trust. n Sekere take vir homself/haarself uit te hou. n Die grootste nadeel is dat jy gewoonlik nie terwyl jy leef, die kontant (likiede middele) het om vaste bates teen ’n koste van 10% (slegs hereregtekoste – jy moet byvoorbeeld R100 000 op ’n vaste eiendom ter waarde van R1 miljoen betaal) na die trust oor te dra nie. Daarom gebruik die meeste mense die testamentêre trust omdat jou lewenspolis jou kan help.
’n Spesiale trust Jy kan ’n spesiale trust stig as jy ’n kind het wat gestremd is om die kind te versorg. Len sit byvoorheeld hul woonhuis in hierdie trust vir hul kind met ’n gestremdheid. Besoek www.moneyskills.co.za vir meer inligting oor Nico se boeke Vk