Kan jy jouself ryker maak? Ons wonder ook, maar ons geldghoeroe Nico Swart sê ‘ja’
Nico Swart
Welvaart, oftewel rykdom, is die motivering vir die meeste mense wat ‘n gemiddelde of bogemiddelde inkomste verdien. Vir talle mense is dit en sal dit altyd maar net ‘n droom bly, tensy hulle meer kan verdien as ‘n blote bestaansloon en geleer word om om geld te bestuur en welvaart te begin skep.
Die primêre doelwit tydens persoonlike finansiële beplanning en bestuur is maksimum welvaart op die lang termyn. Jou welvaart moet jou tot en met aftrede kan dra of kan help dra. Net so wil jy graag hê jou kinders moet ná jou dood van hierdie welvaart erf, sonder om die staat onnodig op jou swaarverdiende inkomste en kapitaal te laat teer.
Wat is wins?
Wins is die vergoeding vir die vier produksiefaktore wat ons as mens kan aanwend, naamlik: arbeid, kapitaal, grond en ondernemerskap. Nogtans is maksimum wins nie ons langtermyndoelwit nie. Die rede is die volgende: Jy kan baie wins maak sonder om hoegenaamd of enigsins jou welvaart te verhoog. Dit beteken dat jy die wins vir allerhande dinge gebruik sonder enige toekomstige kapitaalgroei. Jy kan dus jou suksesvolle onderneming se geld wanbestee sonder om die nodige belegging in sakeprodukte en -toerusting (vir die voortbestaan van die onderneming), vaste bates of finansiële bates te maak.
Hoe gebruik jy tans jou geld?
Vra jouself die volgende vrae oor die aanwending van jou geld:
• Watter deel daarvan wend jy aan om jou finansiële toekoms te “verseker” en welvaart te skep?
• Watter deel daarvan wend jy sodanig aan dat dit ‘n negatiewe bydrae tot jou gesin se voortbestaan oor 10-20 jaar sal lewer?
• Watter deel daarvan wend jy sodanig aan dat dit ‘n positiewe bydrae tot jou gesin se voortbestaan oor 10-20 jaar sal lewer?
Let veral op die betekenis van die volgende drie begrippe. Dit kan jou help om meer oor jou finansiële situasie met betrekking tot jou welvaart en welvaartskepping te wete te kom. Jou rekenmeester/ouditeur of gesertifiseerde finansiële beplanner kan jou hiermee help vanuit jou inkomste- en balansstaat.
1. Wat beteken nettowaarde?
Jou nettowaarde beteken die verskil tussen jou totale bates en jou totale laste. Hoe groter hierdie verskil, hoe groter is jou nettowaarde oftewel jou welvaart. Sou jou laste (skuld) jou bates oorskry, het jy ‘n negatiewe nettowaarde.
2. Hoe vergelyk jou netto-inkomste/salaris met jou skuldterugbetaling?
Die meeste mense bestee ‘n groot gedeelte van hul netto- inkomste/salaris op die terugbetaling van skuld. Suid-Afrikaners bestee soveel as 80% daarvan op skuldafbetaling. Dit kan baie gevaarlik wees as jy byvoorbeeld meer as 50% van jou salaris gebruik om skuld af te betaal, veral as dit nie skuld is wat jou welvaart kan verhoog nie. In die geval van skuld wat jou welvaart kan verhoog, kan jy byvoorbeeld die rente wat jy moet betaal van jou belasbare inkomste aftrek, vir doeleindes van die berekening van jou belastingaanspreeklikheid. Of jy kry langtermynkapitaalgroei op die aanwending van die skuld.
Skuld wat jou welvaart kan verhoog
• ‘n Woning, finansiële beleggings (jy kry kapitaalgroei).
• ‘n Tweede eiendom vir verhuring.
• ‘n Eie onderneming (jy kan die rente, onderhoud, salarisse, alle uitgawes en korttermynversekering van belasting aftrek).
Skuld wat nie jou welvaart verhoog nie
Motors, meubels, vakansies, dobbel, bote, rekenaars, kredietkaarte, mediese rekenings, ‘n onnodig hoë lewenstyl, om ryk te probeer voorkom, ensovoorts.
3. Jou kontantvloei
Hiermee bedoel ‘n mens die verhouding tussen jou inkomste en jou uitgawes. Sukkel jy om jou uitgawes te betaal? Of om enige verhogings in koste te betaal? Dit is belangrik om jou kontantvloei te bestuur as jy jou welvaart wil vermeerder. Sorg dat jy die regte uitgawes aangaan waarvoor jy beplan het en om bepaalde doelwitte, insluitende die bou van langtermynwelvaart, te bereik. ‘n Swak kontantvloei sal jou verhinder om jou eie welvaart te kan skep. Iemand kan dus baie geld verdien, maar ‘n swak kontantvloei hê vanweë te veel skuldverpligtinge en verkeerde betedingspatrone. Net so kan iemand met baie bates ‘n lae nettowaarde hê.
Hoe finansier jy jou skuld?
Jou welvaart word nie slegs bereken deur na jou bates en laste te kyk nie, maar ook hoe jy jou bates finansier.
• In die geval van die koop van ‘n woning vir eie gebruik is dit wys om dit so vinnig moontlik af te betaal. Verhoog dus jou maandelikse paaiement as jy dit kan bekostig. Moenie dink dat jy sonder baie risiko ‘n beter opbrengs op ‘n ander soort belegging sal kry nie. Boonop betaal jy geen belasting op jou belegging in jou verband (die afbetaling van jou huisverband) nie. Op ander soorte beleggings sal jy byvoorbeeld belasting op rente wat jy verdien moet betaal.
• Gestel jy koop ‘n meenthuis wat jy wil verhuur. Jy kan natuurlik nou jou eie geld gebruik, jou eie geld asook ‘n lening van ‘n finansiële instelling of net ‘n lening van ‘n finansiële instelling. Hierdie opsies bestaan slegs vir diegene wat reeds oor ‘n bepaalde kontantbedrag of -belegging beskik. Hoe minder jy van jou eie geld gebruik, hoe hoër is die nabelaste opbrengs op jou belegging.
Jy kan verder alle onderhoudskoste, rente op die verband, korttermynversekering, salarisse/lone, ensovoorts, van belasting aftrek. Jy moet egter die hoër maandelikse rentekoste kan betaal totdat jy dit dus met die indiening van jou belastingopgawe (aan die einde van die belastingjaar) kan aftrek. Eers daarna (soms ‘n paar maande ná die indiening) sal jy minder belasting moet betaal vanweë jou hoër koste/rente-aftrekking.
Jy gebruik dus geleende geld om jou welvaart te verhoog. ‘n Mens noem dit “finansiële hefboomwerking”. Hoe meer geld jy leen, hoe hoër is jou maandelikse paaiement en hoe hoër is die na-rente-opbrengs wat jy op jou belegging verdien. Noodwendig moet jy hierdie geleende geld op ‘n maandelikse grondslag kan terugbetaal.
• Sou jy oor ‘n onderneming beskik, geld dieselfde. Jy kan van meer geleende geld gebruik maak om jou nettowins ná die aftrekking van die rente te verhoog. Ons noem dit ‘n “positiewe bedryfshefboomwerking”. Raadpleeg jou rekenmeester of ouditeur vir hulp en advies.
Stappe om jou nettowaarde of welvaart te verhoog
1. Bereken jou huidige finansiële situasie rakende bates, laste, kontantvloei, nettowaarde en skuld tot nettosalarisverhouding.
2. Raadpleeg jou rekenmeester/ouditeur/finansiële beplanner vir hulp rakende jou huidige welvaart oftewel die afwesigheid daarvan.
3. Neem die voorstelle en aanbevelings van laasgenoemde partye ernstig op.
4. Besluit om jou situasie oor tyd te verander.
5. Maak seker dat jy deurgaans jou laste verminder wat nie tot welvaartskepping lei nie.
6. Maak seker dat jy deurgaans jou bates vermeerder en in stand kan hou, wat tot welvaartskepping lei.
7. Probeer om jou kontantvloei te verbeter deur jou inkomste te verhoog.
8. Raak van onnodige skuld en skuld sonder belastingaftrekkings ontslae – sekere skuld is egter deel van die lewe.
9. Noodwendig sal jou beleggings moet aangaan, die besteding van jou inkomste (salaris of eie onderneming) moet verander of dalk meer klem op die bemarking van jou onderneming moet plaas (om sodoende jou inkomste en gevolglik jou kontantvloei te verbeter)
10. Kies beleggings met kapitaalgroei oor die lang termyn, byvoorbeeld: kollektiewe beleggings (effektetrusts); aandele; vaste eiendom; uittree-annuïteite; ‘n pensioen- of voorsorgfonds by jou werkgewer.
11. Onthou dat dit nie moontlik is om die langtermyngevolge en die invloed (byvoorbeeld die koste om die bates te administreer, te bestuur en in stand te hou) van die bates op jou toekomstige kontantvloei (inkomste en uitgawes) nou reeds te bepaal nie.
12. Onthou om altyd die belegging te kies wat die grootste na-belaste-opbrengs lewer.
13. Onthou om van “finansiële hefboomwerking” gebruik te maak om welvaart te skep.
Jou welvaart verhoog dus as jy oor bates beskik wat oor tyd in waarde toeneem. Hoe meer geld jy bestee op bates wat welvaart skep, hoe vinniger verhoog jou nettowaarde.
• Nico Swart is aan Unisa verbonde en het al meer as 70 boeke oor persoonlike finansiële beplanning geskryf. Besoek www.moneyskills.co.za