Jy sluk swaar as jou versekeringspremies afgaan, maar sou jou eie noodfonds enigsins beter wees? Ons geldghoeroe Nico Swart gee raad
Cecilia en Stoffel het reeds 20 jaar geen korttermynversekering nie. Hulle voel dis ’n mors van geld. Dink net aan hoeveel hulle gespaar het, redeneer hulle, veral omdat die finansies maar druk. Sowat drie jaar gelede het hulle, op aandrang van hul bure, besluit om hulself te begin verseker. Is selfversekering die oplossing of hou dit verdere gevare vir hulle in?
Verseker of nie?
Maandelikse premies vir korttermynversekering is reeds dekades deel van die meeste huishoudings se begrotings. Dit is nogtans ontstellend om te sien hoe dié premies jaarliks styg, of daar geëis is of nie. Boonop moet polishouers jaarliks hul dekking verhoog. Doen jy dit nie, is jy onderverseker (volgens die awery-beginsel) en sal die versekeraar slegs ’n gedeelte van jou eis uitbetaal. Net so moet jy eers die risiko vir die versekeraar verlaag deur onder meer ’n alarm of immobiliseerder in jou motor te installeer en diefwering en ’n alarmstelsel gekoppel aan ’n reaksie-eenheid plus veiligheidshekke by jou woonhuis aan te bring. Waarom mense nie verseker nie: n Daar is geen opbrengs op my korttermynversekeringspremies nie. n Die premie is ’n “mors van geld”. n My begroting klop nie. n My bankrekening bly oortrokke. n Die premies is te hoog. n Ek eis nooit nie. n Sodra ek eis, styg die premie. n Een van ons is werkloos. n Die premie dek alle meubels en huisinhoud (beddens en kaste), terwyl diewe slegs elektroniese toerusting steel. n Premies styg jaarliks met 10%. Wat is ‘n noodfonds Die gevolg van bogenoemde koste is dat versekerdes begin voel hulle moet soveel geld bestee dat hulle netsowel ’n noodfonds vir doeleindes van selfversekering kan stig. Hierdie noodfonds word alleen of saam met ’n paar vriende of familielede gestig (’n soort stokvel) waarin daar maandeliks premies geplaas word. Hierdie geld moet beskikbaar wees in geval van ’n toekomstige verlies, soos ’n inbraak, ’n motorongeluk of ’n huis wat afbrand. Die risiko word dus nie na ’n versekeraar oorgeplaas nie, maar die mense maak self vir hierdie risiko’s voorsiening. Hierdie metode vereis selfdissipline om die geld wel maandeliks oor te betaal.
Wat beteken onderverseker?
Om te onderverseker, beteken om ’n eiendom of motor of woonhuisinhoud vir laer as die werklike vervangingswaarde daarvan te verseker. As onderversekerde eiendom beskadig of vernietig word (op watter manier ook al), sal dit onregverdig wees om van die versekeraar te verwag om die eienaar (die versekerde) ten volle te vergoed. Die rede is dat die versekerde nie die volle premies betaal het wat die volle vervangingswaarde van die eiendom weerspieël nie. Net so sal dit onregverdig teenoor ander polishouers wees wat wel hul volle premies betaal het.
Soorte selfversekering
1 Eerstens kan mense hul korttermynversekering kanselleer en hul premies in ’n eie noodfonds (byvoorbeeld ’n spaarrekening) deponeer. Hieruit moet alle eise dan betaal word omdat daar nou selfversekering plaasvind.
2 Tweedens kan mense gedeeltelike selfversekering toepas. Hiervolgens kan jy slegs die ander motor in geval van ’n ongeluk by ’n versekeraar laat verseker (beperkte motorversekering), terwyl jou eie motor deur jouself gedek word. Dieselfde kan gedoen word deur die huis slegs teen brand te verseker.
3 Derdens kan ’n gesamentlike fonds gestig word met vriende en/of familie. Gesamentlike premies verhoog die geld in die fonds vinniger en daar word meer rente verdien. Daar moet ’n geskrewe dokument opgestel word wat elke aspek van hierdie gesamentlike fonds beskryf en beheer, veral die eise. ’n Prokureur se hulp moet hier ingeroep word.
Wat is die awery-beginsel?
As ’n meenthuis met ’n vervangingswaarde van R1 000 000 vir R750 000 verseker is en dit brand geheel en al af, sal die versekeraar net R750 000 uitbetaal en die eienaar R250 000 skade ly. Brand die meenthuis gedeeltelik af, verander die prentjie dramaties. As die skade slegs R150 000 beloop, sal die versekerde slegs vergoed word in verhouding tot die mate van onderversekering, naamlik drie tot vier (R750 000 tot R1 000 000). Die versekerde sal gevolglik slegs driekwart van R150 000, naamlik R112 500 ontvang. Sou jy ’n noodfonds vir jou korttermynpremies stig, geld die volgende gevaarlike aannames: n Daar sal nie ’n groot ramp soos diefstal van jou motor, ’n groot motorongeluk of die afbrand van jou woning plaasvind nie – jy sal eenvoudig nie genoeg geld daarvoor in jou noodfonds hê nie. n Daar sal nie meer as een ramp kort ná mekaar plaasvind nie. n Geen ramp sal binne die eerste tien jaar plaasvind nie – jou geld sal te min wees. n Kleinerige verliese sal sommer uit die sak betaal word en nie uit die fonds nie. n Daar sal nie deur meer as een mens geëis word nie (kort na mekaar of in dieselfde jaar nie).
Nadele van selfversekering Daar is talle nadele aan ’n noodfonds verbonde, naamlik: n Jy betaal belasting op die rente in die fonds bo ’n sekere jaarlikse bedrag. n Inflasie verlaag die waarde van die geld in die fonds en die maandelikse premies moet dus jaarliks met die inflasiekoers verhoog word. n Die fonds groei nie vinnig nie. n As die woning binne die eerste jaar deur ’n brand verwoes sou word, kan die persoon gesekwestreer word of selfs nog met ’n verband sit om te betaal. n Dit neem ongeveer tien jaar se premies om slegs die meubels van ’n woonhuis te vervang. n Twee of drie rampe/ongelukke kan in dieselfde jaar plaasvind. n Dit neem ’n leeftyd se spaar om ’n woonhuis te vervang as dit sou afbrand. n Besittings wat oor ’n leeftyd bymekaargemaak is, kan enige tyd verloor word. n Dit veroorsaak stres en ’n gesin kan nie met gemoedsrus met vakansie gaan nie. n Die risiko van selfversekering is hoër as die risiko van die riskantste belegging. n Die risiko om iets te verloor en in rampe betrokke te wees, is net te hoog. n Die fonds moet selfs ná dag een groot genoeg wees om die grootste finansiële ramp te kan dek. n Vriende of familie kan sterf waarna ’n gade die geld in die fonds kan opeis. Net so kan die gade weier om verder enige premies te betaal. Wat dan? n Vriende of familie skei, met dieselfde gevolge as laasgenoemde. ’n Geskeide gade wil dikwels ’n nuwe lewe begin en eis die geld in die fonds en/of staak die premies. ’n Gade kan ophou om die ander gade se besittings te “verseker”. n Waar sake-eiendom betrokke is, word dit nog gevaarliker, vanweë die groter risiko. n Die risiko is net so hoog as wat jy jou mediese premies in ’n eie fonds sou plaas en uit jou mediese fonds bedank.
Dis beter om maar te betaal
Die staking van jou korttermynversekering is baie dwaas en riskant. Om al jou besittings te waag ten einde premies te spaar, is swak finansiële beplanning. ’n Noodfonds vir doeleindes van selfversekering bied nie ’n alternatief vir die dekking van die talle moontlike finansiële verliese wat jy kan ly nie. Dit verhoog die risiko van die gesin se finansiële voortbestaan en finansiële toekoms. Die betaling van korttermynversekeringpremies dui op goeie persoonlike finansiële beplanning. Selfversekering deur middel van ’n noodfonds moenie oorweeg word nie. Betaal eerder die premie en oorhandig alle finansiële risiko’s aan ’n korttermynversekeraar. Dit is en bly die moeite werd.
Nico Swart is die outeur van meer as 70 boeke oor finansiële beplanning. Besoek www.moneyskills.co.za Vk