’n Huwelikskontrak is een van die belangrikste kontrakte wat mense sluit, maar tog is baie paartjies onkundig daaroor, sê ons geldkenner Nico Swart
Johan en Carina se jongste kind is smoorverlief en almal weet dat trou net om die draai is. Hulle is egter bekommerd, want hul oudste dogter se huwelik het maar sowat twee jaar gehou, maar die finansiële eise veel langer. As ouers deel hulle in hierdie finansiële laste. Hul kind het nou nefrotiese sindroom ná die jare se spanning. Daar was afpersing vir nog geld, mediese en regskoste, bedrog en laster deur die eiser. Watter huwelikskontrak sal hul jongste en hulself kan beskerm? ’n Huwelikskontrak is ’n kontrak wat gesluit word tussen twee mense wat trou en wat die soort huweliksisteem aandui waarvolgens hulle getroud is. Drie sisteme word hoofsaaklik onderskei naamlik: binne gemeenskap van goed; buite gemeenskap van goed met insluiting van die aanwasbedeling; en buite gemeenskap van goed met uitsluiting van die aanwasbedeling en wins en verlies. Elke sisteem hou verskillende finansiële gevolge vir die partye tot die huwelikskontrak in, hetsy goed of sleg. Die huwelikskontrak word opgestel om te bepaal wat in geval van hul dood of egskeiding met die getroudes se besittings moet gebeur. Ongelukkig weet die partye nie altyd watter finansiële gevolge hul gekose sisteem vir hulle kan inhou nie. Die partye se huwelikskontrak word in die Hoë Hof geregistreer. Dit beteken dat die kontrak meer waarde inhou as byvoorbeeld die ouers se testamentêre bepalings oor hul kind se erfporsie. ’n Huweliksvoorwaardekontrak is veral belangrik as ’n mens na Suid-Afrika se skeisyfers kyk waar ongeveer 50% van eerste huwelike misluk. Die syfer is 75% as tweede en derde huwelikspogings bygetel word. In 88% van die gevalle skei mense na bewering oor aspekte rondom geld.
Waar lê die probleem?
Jongmense het dikwels geen kennis van geldsake as hulle trou nie. Hulle ken gevolglik nie die finansiële implikasies van die huweliksisteem wat hulle kies nie. Hulle dink die soort kontrak bepaal hul liefde vir mekaar en dis begrippe waarvan hulle in hierdie stadium net mooi niks weet of wil weet nie. Hulle dink nie daaraan dat egskeidingswette in die toekoms in die prokureur se kantoor vir hulle kan wag nie, of hulle daarvan kennis gedra het al dan nie. Kennis van geldsake is nie op hul lewensagenda nie en kennis oor hul huwelikskontrak is taboe. Hulle wil net trou en sê dinge soos: “Ons gaan nooit skei nie.” Hoe vinniger hulle uit die prokureur, wat die kontrak opstel en die sisteme probeer verduidelik, se kantoor kan kom, hoe beter.
Beskerm jou kind
Jou huweliksvoorwaardekontrak is die belangrikste kontrak wat jy in jou lewe sal sluit. Dit bepaal jou toekoms en alle finansiële besluite vir die res van jou lewe. Ouers soos Johan en Carina kan dus help dat hul kind nie jare se inkomste, beleggings en pensioen aan ’n moontlike geldjagter en psigopaat moet afstaan nie. Sodoende ontkom jou kind die verskriklike gevolge van egskeidingswette waarvan sy nie in hierdie stadium weet of wil weet nie. Sekere negatiewe gevolge daarvan is dan vir altyd uitgesluit. Jou kind het dan nie haar man se handtekening nodig vir enige finansiële besluit wat sy wil neem nie. Sy kan dus haar eie finansiële toekoms beplan ten einde haar doelwitte te bereik, sonder ’n meulsteen wat niks wil doen, net skuld wil maak en vir niks gesamentlik wil teken nie. Jy kan baie verloor as jou kind skei en ingevolge ’n sisteem getroud is (binne gemeenskap of buite gemeenskap met insluiting van die aanwasbedeling) wat nie help om julle te beskerm nie. Die oplossing As jyself die een is wat trou, raak betrokke by die opstel van die kontrak en praat met die prokureur wat dit gaan opstel om die beste bedeling te kry. Ouers soos Johan en Carina kan hul kind lei om die beste opsie te kies, naamlik: buite gemeenskap van goed en wins en verlies met uitsluiting van die aanwasbedeling. Die aanwas moet skriftelik in die kontrak uitgesluit word. Sodoende ontvang jou kind en jou gesin beskerming teen die optrede (wettig en onwettig) van: n ’n gade (moontlike bedrog, afpersing, sekwestrasie, kriminele rekord); n ouers of skoonouers (moontlike geldjagters met bedrog as lewenswyse); n skuldeisers; n derde partye in die huwelik; en/of n ’n sakevennoot.
Ongetroud, getroud of geskei?
Ongetroud Trou soos voorgestel.
Getroud Maak die beste van jul huweliksisteem – kry kennis oor geldsake.
Geskei Jy weet nou watter huweliksisteem om volgende keer te kies.
’n Belangrike vraag
My vraag aan almal is altyd: As jy nie vir die ander party se geld of besittings met hom trou nie, waarom pla dit jou dan dat die ander party met baie besittings (of baie meer), buite gemeenskap met uitsluiting van die aanwasbedeling wil trou? Dit is immers daardie persoon en/of familie se besittings. Met die egskeidings- en die skuldvirus aan die orde van die dag, om nie eers te praat van die lewenslange finansiële implikasies vir die een party en sy onskuldige familie nie, behoort elkeen sy lewe en finansiële toekoms teen egskeidingswette en geldjagters te kan beskerm. Beskerm jouself of jou kinders: Kies die beste sisteem! Lees Nico se boek, Lewenstyl finansiële beplanning vir leerders – saambly, verloof, trou en skei. Besoek www.moneyskills.co.za Vk