Ons geldghoeroe Nico Swart sê hoe jy jou werklose kind kan help
Nog nooit tevore het Martie so hulpeloos gevoel nie. Dit is April en haar kind is steeds werkloos. Sy het altyd net gehoor van ander se kinders wat nêrens werk kry nie, maar nou is dit ook haar en Jan se werklikheid, om nie eers van die gefrustreerde kind te praat nie. Nodeloos om te sê, begin dit nou hul finansies ook negatief beïnvloed. Sonder universiteitsvrystelling, geld vir voltydse studie of ’n beurs, kyk ’n mens met nuwe oë na die lewe. Duisende skoolverlaters sit sonder werk en bly soms nog baie jare hul ouers se finansiële verantwoordelikheid. Vir elke 100 skoolverlaters kry nie eers sewe werk nie.
Behalwe vir die miljoene werkloses, wat jaarliks toeneem, is daar die miljoene geboortes jaarliks asook miljoene werkloses wat vanuit Afrika ons land binnestroom. Elkeen van hierdie werkloses staan in die ry en wag vir (of eis) ’n werk, ’n pensioenfonds en ’n mediese fonds om aan te behoort, ’n mooi huis en ’n luukse voertuig, asook aandele in maatskappye en myne, om nie eers van eie ondernemings en plase (grond) te praat nie.
Dit behoort kristalhelder te wees dat kennis oor geldsake die grootste bate vir finansiële oorlewing in ’n toekomstige Suid-Afrika, Afrika en die res van die wêreld gaan word. Ons moet weet hoe om te kan oorleef, ongeag ons land se nimmereindigende finansiële eise, behoeftes en voortdurend veranderende wetgewing. Dit word net moeiliker om die pot aan die kook te hou en om vir alles te kan betaal. Geen jongmens kan die lewe ingaan sonder kennis van geldsake nie. Daarmee word hulle finansieel bemagtig en hul ouers finansieel beskerm. Kinders word dan gouer finansieel onafhanklik en aanvaar self verantwoordelikheid vir hul geldsake.
LEES OOK: As jy en jou maat oor geld stry
Hulle begin gouer hul eie potjie krap en ouers kan gouer weer met beleggings vir hul aftrede voortgaan. Hulle kan ook voor hul aftrede ’n hoër lewenstandaard handhaaf en seker maak dat hulle wel finansieel onafhanklik kan aftree. Ongelukkig is geldsakekennis nie baie hoog op die lewensagenda van jongmense nie. Daarom is dit ouers se plig om seker te maak dat hul kinders wel hierdie lewensvaardigheid op of ná skool bekom.
Ouers se finansiële toekoms is immers self op die spel. Werklose kinders wat ná skool steeds by ouers woon, is aan die orde van die dag. Ouers sit nou met die kinders se koste vir kos, klere, vervoer, studies, versekering, verlowing-, trou- en egskeidingskoste en soms babakoste. Ouers moet dus hul bydraes of addisionele bydraes tot aftreefondse en beleggings staak totdat die situasie verander. Hoe eerder kinders hul eie finansies kan beplan, hoe gouer is ouers finansieel los van hulle. Geldsake is ’n vaardigheid wat aangeleer kan word. Die finansiële status en agtergrond van jongmense bepaal grootliks hul reeds bestaande kennis oor bepaalde begrippe.
Die huishouding is dus ’n belangrike plek om geldsakekennis op te doen, maar daarna moet dit deur persoonlike finansiële opvoeding voortgesit en ontwikkel word (net soos met alle ander grade). Geldsakekennis is die beste lewensvaardigheid waaroor skoolverlaters kan beskik. Hetsy jy werkloos is of ’n werknemer of werkgewer is, kan geldsakekennis deurlopend positief aangewend word. Persoonlike finansiële bestuur leer jou om die faktore te kan identifiseer (en te kan kwantifiseer) wat ’n positiewe of negatiewe invloed op jou finansies en finansiële toekoms kan uitoefen. Jongmense begin ook makliker en gouer ’n eie onderneming, veral as hulle werkloos is.
LEES OOK: Handige wenke wanneer geliefdes geld wil leen
Werklose jongmense het veral die tyd om hulself finansieel vir die lewe, asook vir die geweldige finansiële dienstesektor (bedryf) met talle moontlike werkgeleenthede voor te berei. Geen persoon kan ’n onderneming begin of koop sonder die nodige geldvaardighede nie. Jou kind moet die verwantskap tussen ’n eie onderneming en persoonlike finansiële beplanning begryp. Geen belegging in die wêreld kan jou en jou kind so ’n geweldige opbrengs gee as hierdie belegging nie. Die opbrengs strek oor ’n leeftyd en kinders sal finansieel ingelig die lewe ingaan en deurgaan. Hulle sal talle lewensrampe kan afweer omdat hul ouers hulle bemagtig het. Geldsakekennis is baie aansteeklik en studente stop nie by ’n enkele kursus nie. Hulle bou aan hul nuutgevonde sukses.
Jou kind se selfbeeld
Geldkennis verhoog ’n kind se selfbeeld soos min ander dinge. Veral waar die kind boonop die koerante en die nuus verstaan. Jou kind se hulpelose instelling sal grootliks verander na dié van ’n wenner en ’n kenner.
Die voordele sluit in (ook vir ouers en belastingbetalers):
- Kinders leer finansiële dissipline (waar geld vandaan kom en hoe ’n mens dit slim gebruik om bepaalde doelwitte te bereik).
- ’n Voorsprong bo tydgenote, al is hulle ’n paar jaar werkloos (hulle sal dit inhaal). n Hulle is gemotiveerd om hul huidige geldsituasie te verander en gouer werk te kry.
- Hulle ontwikkel ’n positiewe houding oor hierdie tydelike terugslag.
- Hulle is meer gedissiplineerd en het meer begrip as dit by ouers se beperkte geld kom.
- Hulle maak nie onnodig skuld nie en leef spaarsamig.
- Daar is minder onbeplande babas, omdat dit baie geld kos.
- Hulle wil graag self die pot aan die kook begin hou – en neem verantwoordelikheid vir hul lewe
Voordele vir die ekonomie sluit in:
- Meer produktiewe werknemers. n Minder afwesigheid van die werk.
- Minder eise vir stakings, medies en pensioen.
- Hoër maatskappywinste en aandeelpryse.
- Hoër pensioenfondswaardes.
- Minder sekwestrasies, egskeidings en onbeplande babas.
’n Waardevolle kursus
Die Sentrum vir Sakebestuur aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) bied tans ’n basiese geldsakekursus aan: Short Course in Basic Financial Life Skills (SBFS016). Die geldkursus sluit geld-, sake- en bankvaardighede in.
Die spesifieke onderwerpe is:
- Hoe om jou geldsake te beplan
- Hoe om ’n begroting op te stel n Hoe om skuld te beplan, daarvoor te begroot, hoe om ’n skuldkrisis te hanteer en die rol van die Nasionale Kredietreguleerder (Nasionale Kredietwet)
- Beplanning vir die gebruik van mikrolenings
- Beplanning vir die koop van ’n motor n Beplanning vir die koop van ’n woning
- Hoe om te spaar, beleggings te maak en beleggingslaggate te vermy
- Hoe om jou inkomste en bates te beskerm
- Hoe om vir finansiële onafhanklikheid ná aftrede te beplan
- Hoe om jou werk te beskerm n Entrepreneurskap: hoe om ’n onderneming te begin
- Die koop van ’n onderneming (ook ’n konsessie of franchise)
- Bankvaardighede, -dienste en -produkte
Dit is ’n sesmaandekursus en geskied deur middel van afstandsonderrig. Daar is geen registrasievereistes nie – enigeen kan registreer. Om vir die eksamen te kwalifiseer, moet jy ’n gemiddelde punt van 50% vir albei werkopdragte hê. Studente kan hul werkopdragte en eksamen in Afrikaans of Engels beantwoord, maar die studiemateriaal is slegs in Engels. ’n Twee-uur-eksamen word in Mei of Oktober geskryf. ’n Student het twee kanse om die eksamen te slaag. Eksamens word regoor Suid-Afrika by die verskillende Unisa-sentra geskryf. Die kwalifikasiekode is 7182X op NQF vlak 5. Die student ontvang 12 krediete volgens die nasionale stelsel. Die totale koste (alles ingesluit) vir die kursus is R1 100. ’n Unisa-sertifikaat word uitgereik aan alle studente wat die kursus suksesvol voltooi het. Dit kan by ’n gradeplegtigheid ontvang word of dit word gepos. Dit gee jou kind ’n finansiële voorsprong bo sy/haar tydgenote, hoofsaaklik omdat jou kind nou reeds weet hoe om sy/haar finansiële toekoms te beplan. Gee jou kind die beste agtergrond en lewensvaardigheid!
Nico Swart is outeur van meer as 70 boeke oor persoonlike finansiële beplanning Geldsakeboeke: www.moneyskills.co.za Registrasie en kontaknommers vir kursus: tel: 012 352 4307/4322/4170/4288/ 012 352 4317/4383; faks na e-pos: 086 686 3401; eposadres: [email protected] Vk