Wil jy ’n franchise koop? Ons geldghoeroe Nico Swart gee raad
Nico Swart
Dit lyk so lekker om jou eie franchise te besit as jy in die ry by die wegneemplek staan. Die geld stroom sommer net so van die môre tot die aand in iemand se bankrekening in. Die meeste van ons dink per geleentheid só as ons produkte of dienste by iemand anders se franchise koop. Vir die afgelope drie jaar dink René en Brett oor hierdie soort sakegeleentheid. Hulle wonder egter of dit regtig so maklik is om vinnig ryk te word en of daar ook slaggate is waarvoor hulle op die uitkyk moet wees.
’n Franchise is ’n bestaande onderneming waarvan jy ’n agentskap kan koop. ’n Franchisenemer koop dit van ’n franchisegewer. Die franchisegewer is die eienaar wat die idee begin en dit in aparte ondernemings verkoop. Sodra jy dit koop, kry jy toestemming om die franchisepakket te gebruik wat jy gekoop het. Die pakket bestaan uit: n Die ooreenkoms wat ’n prokureur moet opstel. Dit beskryf die regte en verpligtinge van sowel die franchisegewer/ die verkoper as die franchisenemer/ die koper. n Die bedryfs- en prosedurehandleiding (OPM). Die OPM is die kern van die franchisepakket. Dit bevat die sakewaardes, sakebeginsels, prosedures en riglyne in die vorm van ’n handleiding. n Opleidingsaangeleenthede – die opleiding van die franchisenemer en dié se personeel.
Waarom koop mense so ’n onderneming? Franchises lyk lekker winsgewend en maklik om te bestuur. Dit verkoop meestal ’n bekende produk of diens waarvan jy hou. Dit laat entrepreneurskap baie maklik lyk. Verder word alle opleiding deur die franchisegewer verskaf. Boonop lyk dit of jy net nou en dan daar moet opdaag en kyk of alles goed verloop. Banke verskaf ook makliker lenings vir die koop van ’n franchise as vir óf die begin van ’n eie onderneming óf vir die koop van ’n bestaande onderneming. Mense is dikwels moeg om vir iemand te werk en wil self die werkgewer wees en baie meer geld verdien.
Kan ’n franchise misluk? Baie beslis. Ongeveer 25% (een uit elke vier) van alle ondernemings wat in die eerste vyf jaar misluk, is franchises. Navorsing toon die hoofrede is die feit dat mense nie hulself afvra of hulle vir ’n bepaalde tipe franchise geskik sal wees of vir entrepreneurskap in die franchisebedryf nie. Franchisenemers (die nuwe eienaars) werk meestal 15 uur per dag, sewe dae per week. Dit verg dus baie harde werk met algehele toewyding. Jy kan dit dus nie deeltyds doen of dit laat doen (bestuur) nie. Die franchisegewer gaan dit ook nie laat werk nie, jy moet dit self laat werk.
Waak teen dié foute
Watter ooglopende en verborge foute gaan jy maak?
Jy koop ’n franchise op papier sonder dat ’n bestaande onderneming reeds bestaan. Dit beteken dat jy iemand ontmoet wat ’n sake-idee aan jou wil verkoop sonder dat dit in die mark getoets is. Daar bestaan dus geen geskiedenis vir die onderneming se verlede nie, omdat dit nog opgerig moet word.
Jy koop ’n franchise omdat dit so spotgoedkoop is. Boonop is dit die goedkoopste van 15 ander franchises wat ook geadverteer word. Dikwels is daar in hierdie gevalle óf baie lae tantieme (bestuursgelde) betaalbaar óf hoegenaamd niks nie. Onthou, jy moet uit hierdie gelde tegniese en bemarkingshulp, asook opleiding vir jou personeel ontvang. Eweneens moet jy bestuurshulp van die franchisegewer/ verkoper ontvang. Goedkoop kan gevolglik baie duur word.
Jy koop ’n franchise omdat dit regoor die land opskiet soos paddastoele. Dit kan ook beteken dat dit soveel groei dat daar nooit enige voordele vir jou sal wees nie, bloot omdat daar nie geld voor is nie. Die franchisegewer het te veel finansiële verpligtinge aangegaan.
Die franchisegewer het kontantvloeiprobleme, daarom word franchises verkoop.
’n Werklose persoon sonder enige inkomste, finansiering of sakekennis begin franchises op groot skaal verkoop.
Pasop vir ’n franchisegewer wat jou gaan toelaat om die onderneming te bestuur soos jy wil. Streng dissipline aan die kant van die franchisegewer is juis die rede waarom ’n reeds suksesvolle groep suksesvol kan bly.
Pasop vir ’n franchisegewer wat jou vra om self die onderneming te bemark. Waar sal jy die geld vandaan kry en vir hoeveel jare?
Dit help nie om ’n ligging vir die onderneming naby aan jou huis te kies nie. Daar moet voldoende klante wees om by jou te kan koop. Die ligging moet gerieflik vir potensiële klante wees om suksesvol te kan wees, nie vir jou nie.
Moenie ’n franchise koop in ’n omgewing waar daar reeds ’n paar soortgelykes bestaan nie. Die mededinging is dan net te straf en jou potensiële klante word dan deur drie of vier gedeel. Die gevolg is ’n swak onderneming wat kan misluk en baie lae inkomste wat nie die uitgawes kan dek nie. Jy kan alles verloor.
Die grootste fout wat jy kan maak, is om te dink dat jy self ’n franchise kan beoordeel sonder kundiges om jou te help.
Doen jou huiswerk
Iemand wat nie ’n entrepreneur is (of nie kan leer om een te wees nie) kan nie ’n franchise koop en dit suksesvol bestuur nie. Net so moet jy in staat en bereid wees om vir baie jare die sake-idees van ’n ander persoon na te volg. Alles wat jy moet doen om die onderneming te laat slaag, behalwe jou eie motivering en harde werk, kom van iemand anders – die franchisegewer/ verkoper. Net so moet jy geleer word hoe om ’n franchise te bestuur. Die franchisegewer neem basies al die besluite rondom bemarking en veranderings (nuwe koppies, stoele en tafels, die verf van die gebou, die rekenaarprogram en die administrasie van jou franchise).
Evalueer die verkoper/ franchisegewer só
Finansiële stabiliteit – jou ouditeur sal jou kan help om dit te bepaal.
’n Goeie bestuurs- en suksesgeskiedenis.
Die gehalte van die produkte en dienslewering aan franchisenemers.
Die deurlopende verskaffing van ondersteuning aan franchisehouers/ kopers vir die duur van elke franchise.
Deurlopende ontwikkeling of die aankoop van nuwe produkte.
Die aanvanklike koste van die franchiseoprigtingskoste, aanbouings, toerusting, meubels, professionele gelde en voorraad.
Deurlopende koste ná die koop van die nuwe franchise-bedryfskoste, administrasiekoste, voorraad, vervanging van toerusting, die betaling van tantieme/ bestuursgelde aan die franchisegewer/ verkoper. En die bydrae aan die franchisegroep.
Die spesifieke vestigingsplek – hoe naby of ver van klante af.
Die beskerming van die koper in die koopooreenkoms.
Die hoeveelheid en duur van opleiding wat verskaf word.
Kry hulp
• Dit is raadsaam om eers ’n aantal bestaande en soortgelyke franchises te besoek en soveel vrae moontlik oor die spesifieke soort franchise en die verkoper te vra.
• Kontak FASA (Die Franchise vereniging van Suider-Afrika) rakende die franchise wat jy oorweeg om te koop en vra hulle alles wat jy wil weet en behoort te weet. Vra hulle ook uit oor kundiges wat jou kan bystaan in jou beoordeling daarvan en die neem van die finale koopbesluit, veral waar jy moet kies tussen een of meer franchisesoorte.
• Bestudeer voorbeelde van franchiseooreenkomste. Jy sal baie leer oor die vrae wat jy eintlik moet vra om die nodige inligting te bekom.
• Kontak ’n onderneming soos Business Partners om vir jou ’n uitvoerbaarheidstudie te doen oor die spesifieke franchise en die ligging (mark vir klante) daarvan.
• Besoek mededingers en verkry hul opinies oor die franchise.
• Laat ’n ouditeur jou help om die finansiële state/posisie van die franchisegewer te beoordeel en bepaal.
• ’n Franchisekonsultant en ’n franchiseprokureur is die geskikste mense om mee te praat – teen betaling natuurlik.
• Die internet is een van die eerste bronne wat geraadpleeg moet word.
– Nico Swart is die outeur van meer as 70 boeke oor persoonlike finansiële beplanning. Besoek www.moneyskills.co.za