Ons geldghoeroe Nico Swart gee raad oor hoe om jou kind se finansiële toekoms te verseker
Ook maar goed Sunette se skoonfamilie het kom kuier. Hulle het lekker gekuier, maar haar en Jaco ook baie bewus gemaak van die belangrikheid om finansieel vir jou kind te voorsien. Daar is nou baie vrae in Sunette se kop oor haar drie bloedjies se finansiële toekoms – meer as ooit tevore. Die kinders is nou ses maande, vyf jaar en tien jaar oud. Waar moet sy begin en waarmee? Kinders se toekoms is tans seker die grootste bekommernis vir die meeste ouers.
Beplan vroeg al Ouers wat oor hul kinders se toekoms bekommerd is, moet gesinsbeplanning toepas. Minder kinders beteken jy kan beter vir jouself en hulle voorsien.
AS JY SWANGER IS Julle as ouers moet julle “voorberei” vir die volgende 20 jaar saam met jul kind. Jul bababegroting help julle om te begin vooruit dink. Ondersoek jul finansiële situasie vir ’n nuwe begroting (wat nou ook die nuwe baba se koste insluit). Dit is hier waar die regte grondslag vir finansiële dissipline gelê word.
NÁ DIE GEBOORTE Sou julle nie genoeg geld hê om die kind se lewenskoste te dek nie, doen dit: n Verkoop van jul effektetrusts (kollektiewe beleggings). n As julle nog aan ’n huisverband afbetaal, gebruik (leen) van die afbetaalde gedeelte van die huisverband. n As jul huisverband afbetaal is, doen by die bank aansoek om ’n gedeelte van die afbetaalde gedeelte van jul huisverband te kan gebruik (te leen).
Belê vir elke kind Ouers behoort nou die finansiële voorsorg te begin beplan en uitvoer. Dit behels eerstens die stel van realistiese doelwitte wat julle kan bekostig. Hou by doelwitte stel deur dit in jul gesinsbegroting in te sluit en dit daar te hou vir byvoorbeeld 20 jaar. ’n Doelwit kan die belegging in ’n studiepolis en/of in effektetrusts wees. Vir diegene met minder selfdissipline (wat maklik die geld gaan terugvra) kan ’n studiepolis die regte soort belegging wees. Diegene met meer selfdissipline en wat ’n baie hoër opbrengs wil hê, kan in effektetrusts vir dieselfde doelwit belê. Jy mag nie aan hierdie belegging raak totdat die kind dit nodig het nie, ook nie vir jul eie geldkrisisse nie. Die belegging se waarde moet oor tyd groei. Verhoog die jaarlikse premie met byvoorbeeld 6% om met inflasie tred te hou (wat die waarde van die belegging jaarliks verminder). Maak vir elke kind hierdie belegging.
As jou kind op skool is Hou vol met beleggings vir sowel die kind as die huishouding. Stuur jou kind na die beste skool wat julle kan bekostig. Kies een wat die meeste lewensvaardighede en veral geldvaardighede as vak aanbied. Oortuig jou kind om sakevakke te kies, tensy die kind se belangstelling en vaardighede elders lê. Die vraag en toekomstige vraag na werknemers is al meer in die finansiële sowel as professionele bedrywe. Daar is jaarliks geen vraag na honderde duisende studente met kwalifikasies (grade) nie. Gevolglik bly hulle vir jare ná skool steeds by hul ouers wat vir alles moet betaal.
Beskerm jul boedel
Boedelbeplanning behels: n Die bymekaarmaak van beleggings of vaste bates (geboue). n Die beskerming daarvan. n Die oordrag daarvan na erfgename. Onthou, jou kind se finansiële voorsiening hang van jou vermoë af om op die duur beleggings te kan maak. Beskerm dus jou eie inkomste (ook jou werk of onderneming) en beleggings. Maak seker dat jy en jou gade oor baie groot bedrae aan lewensversekering beskik ten einde jul boedel ná jul dood vir die kinders te kan behou. Neem dus dadelik ’n lewenspolis uit terwyl jy nog jonk en gesond is. Die premie is baie laag. As jy ouer en/of siek is, is die premie baie hoër.
As julle genoeg geld het, moet julle: n ’n Trust oprig (koste sowat R3 000) en elke verdere eiendom in die naam van die trust koop (die kinders kan ná jul dood die inkomste- en kapitaalbegunstigdes van die trust wees – jul prokureur kan help met die oprigting daarvan terwyl julle nog lewe, dus ’n trust inter vivos). n ’n Trust vir elke kind laat oprig. n As julle reeds oor vaste bates beskik, kan julle dit ná jul dood (’n trust mortis causa) na ’n trust laat vererf waaruit die kinders kan voordeel trek (die prokureur sal die inhoud van die te stigte trust in jul testament insluit). n Seker maak jul lewenspolis se dekkingsbedrag is groot genoeg om jul totale boedel na erfgename en trusts oor te dra. Die polisdekking moet dus die boedelkoste kan betaal.
Voorsien vir ’n sorgbehoewende kind Ongeveer 20 jaar gelede het ons gehelp om wetgewing rakende mense met gestremdhede se belastingvoordele te verander. Hiervolgens is mense wat verstandelik gestremd is ook by gestremdes ingesluit; voorheen was net fisiek gestremde mense ingesluit. As gesin kan julle alle mediese koste van die hele gesin van belasting terugeis (behalwe ’n baie klein bedraggie) as julle ’n kind met ’n gestremdheid moet versorg. Skep ’n testamentêre trust vir jou gestremde kind se versorging ná jul dood. Stel in elk geval voogde vir elke kind aan.
Maak jou kind geldwys
Leer jou kind geld- en entrepreneursvaardighede. Dit is die beste en goedkoopste belegging wat jy in jou lewe kan maak. Sodoende sal jongmense gouer selfversorgend wees en kan jy as ouer beter voorsiening vir aftrede maak. Leer jou kinders van kleins af: n Die lewe skuld hulle niks nie. n ’n Mens kry niks verniet nie – jy werk daarvoor. n Hulle hoef nie die duurste motor, huis en klere te koop om gelukkig of aanvaarbaar te probeer wees nie. n Hulle moet net dit koop waarvoor hulle begroot het en dus kan bekostig. n Hul skuld (rekenings en lenings) moet in hul begroting ingesluit word. n Hulle moet reeds vanaf hul eerste salaristjek spaar en belê vir doelwitte op die kort, medium en lang termyn (byvoorbeeld aftrede).
Gee leiding as hulle trou
Teen hierdie tyd moet jou kind reeds oor geldsakekennis beskik. Dit sluit in kennis van die verskillende huweliksgoederebedelings, asook die finansiële implikasies van saambly, verloof raak, trou en skei. Kennis hiervan kan jou en jou kind miljoene rande oor ’n leeftyd spaar. Skeisyfers is hoog: 50% vir eerste huwelike; 75% indien tweede, derde en vierde huwelike bygetel word. Jy en jou kind kan miljoene of selfs alles verloor. Beskerm jou kind en jou boedel. Sorg dat jou kind buite gemeenskap van goedere met uitsluiting van die aanwasbedeling trou. As jou kind skei, help hom of haar om van ’n prokureur gebruik te maak wat sy belange sal beskerm. ’n Mens kan nooit jou eie prokureur wees nie. Sorg dat jou kind eties optree. Wees te alle tye eerlik en redelik teenoor en ten behoewe van alle belanghebbendes – ook die kinders. Leer jou kind om nie ’n finansiële toekoms te steel nie, maar om self daarvoor te werk, te beplan en te belê. Leer jou kind om sy of haar eie finansiële toekoms te beskerm.
Bemagtig die gesin
Dit is reeds algemene kennis dat dit ongeveer R1,6 miljoen kos om ’n kind groot te maak. Ongelukkig stop dit nie hier nie. Die kind se verkeerde besluite, verkeerde verhoudingskeuses en lewensgebeure soos skuld, sekwestrasies en egskeiding, verhoog hierdie bedrag met miljoene rande vir ouer sowel as kind, daarom moet elke gesin hom bemagtig wat geldsake betref. Daarsonder kan jy nie ’n finansiële toekoms vir jouself of vir jou kind help skep nie.
Besoek www.moneyskills.co.za vir meer inligting oor die meer as 70 boeke wat Nico al geskryf het Vk