Ons geldghoeroe Nico Swart gee dié week raad rondom beleggings
Babs kon dit nog nooit regkry om haar beleggings vir langer as ’n jaar onaangeraak te laat nie. Sy kan maar net nie aanvaar dat haar beleggings so stadig groei nie. Elke keer roep sy die belegging op en gebruik die geld vir die een of ander iets wat sy wil koop. Dan begin sy maar weer van voor af in die een of ander belegging belê. Maar waar kom dié gedrag vandaan?
Waarom belê ’n mens?
Seker die algemeenste antwoord is dat jy belê om ’n opbrengs op jou geld te ontvang. Hierdie opbrengs kan óf rente óf dividende óf kapitaalgroei (’n styging in die waarde van jou geld oor tyd) wees. Ongelukkig wil ons altyd dieselfde hoë opbrengs op ons beleggingstate sien. Dit is egter nie moontlik nie vanweë ’n groot verskeidenheid ekonomiese faktore en gebeure in ons land en ander lande. Die regte antwoord sal egter wees om bepaalde finansiële doelwitte op kort, middel- en lang termyn te bereik. Jy kan nie sommer jou belegging, wat vir 40 jaar moet groei, vir aftrede oproep en gebruik soos jy wil nie. Boonop het jy die belegging gekies wat jou moet help om ’n bepaalde doelwit oor ’n bepaalde tydperk te bereik. Risiko en opbrengs Daar word algemeen aanvaar dat ’n hoër opbrengs altyd met ’n hoër risiko gepaardgaan. Selfs dit is nie altyd die geval nie – jou opbrengs kan by tye baie laer wees as die risiko van die soort belegging waarin jy belê het. Nou wat is die geheim? Die geheim is om jou belegging vir so lank moontlik (baie jare) te los sodat dit deur die verskillende ekonomiese siklusse kan groei. Soms sal dit daal, ander kere konstant bly en ander kere styg – die langtermyntendens sal ’n opwaartse styging wees. Daarom speel die tyd in ’n belegging so ’n groot rol.
Risiko’s wat jou belegging beïnvloed:
Likiditeitsrisiko Dis die risiko dat jy nie jou belegging maklik in kontant sal kan omskakel nie, byvoorbeeld ’n meenthuis wat drie maande kan neem om te verkoop, waarna jy nog drie maande vir jou geld sal moet wag.
Markrisiko Die finansiële markte waarin jy belê het, wissel voortdurend – jy moet dus nie jou belegging oproep of verkoop op die verkeerde tyd wanneer die waardes laag is nie.
Wisselkoersrisiko As jou belegging ook oorsese beleg- gings insluit, sal ons land sowel as die ander land se wisselkoersstyging of -daling, die waarde van jou belegging op ’n gegewe tydstip bepaal.
Fondsbestuurderrisiko Die vaardighede en strategieë waaroor die fondsbestuurder tydens alle marktoestande beskik, sal grootliks die opbrengs op jou belegging bepaal.
Koopkragrisiko Dis die daling in die koopkrag van jou geld wat jy oor tyd sal ontvang, hoofsaaklik as gevolg van inflasie – die styging in die pryse van dit wat jy koop.
Hou jy van risiko? Hiermee bedoel ons jou aanvaarding of verwerping van risiko. Die soorte houdings teenoor risiko is:
Risiko-aanvaarder – Jy sal selfs ’n daling in opbrengs aanvaar as risiko styg.
Risikovermyder – Jy wil ’n hoër opbrengs hê as risiko styg.
Risiko-onverskillige – Dit pla jou glad nie as daar ’n styging of daling in risiko is nie. Die huishouding waarin jy grootgeword het, bepaal grootliks jou houding teenoor geld en risiko. Jy sal egter agterkom dat jou siening van risiko verander namate jou kennis van geldsake toeneem, veral rakende beleggings. Net so verander jou siening van risiko soos wat jy ouer word. Mense met meer rykdom is ook meer geneig om risiko as deel van die lewe en die beleggingsomgewing te sien.
Jou beleggingsgedrag Natuurlik raak ’n mens ook emosioneel oor jou beleggings, daarom tree ons dikwels emosioneel op en doen ons sommer vinnig ’n belegging of staak ’n belegging sonder ’n goeie rede. Jou beleggingsbesluit word dus subjektief geneem op grond van jou eie persepsie van risiko, opbrengs en die lewe in die algemeen. Net soos wat sekere mense meer stres as ander kan verduur, net so kan sekere mense meer risiko as ander verduur en aanvaar. As jy ’n belegging maak, gaan jy deur verskillende emosies soos wat die belegging groei, konstant bly of selfs in waarde daal (ons kan hier van die beleggingsielkunde praat wat jou beleggingsgedrag deurgaans beïnvloed):
DIE BELEGGING STYG IN WAARDE/OPBRENGS Jou gedrag is een van, of ’n kombinasie van, die volgende: optimisme, hoop, positiwiteit en gemotiveerdheid om nog te belê.
DIE BELEGGING DAAL IN WAARDE/OPBRENGS Jou gedrag is een van, of ’n kombinasie van, pessimisme, vrees, angstigheid, depressie, desperaatheid, “ek soek nou my geld” en “stop die belegging voordat ek nog verloor”. Dit behoort net logies te wees dat ons beleggingsbesluite deur talle emosionele, subjektiewe, rasionele en ekonomiese faktore in ons lewens op ’n gegewe tydstip beïnvloed sal word. Daarom moet ons besef dat ons maklik foute maak rakende ons beleggings deur sonder meer ’n belegging te staak, op te roep of te verander. Dit is meestal nie in ons finansiële belang om só op te tree nie. Bly kalm en wag totdat die belegging weer in waarde en opbrengs styg. Natuurlik kan dit gebeur dat jy ’n swak belegging moet staak – vra jou makelaar vir hulp.
Ken jou gedrag Dit is belangrik om te weet hoe jy nog altyd opgetree het as die waarde of opbrengs op jou beleggings tydelik nie so goed lyk nie. Voorheen het jy sommer net jou belegging gaan oproep, die geld gemors of dit herbelê. Nou weet jy van beter. Jy moet wag omdat die tydperk in die mark wat jy die belegging in stand hou, jou beste beleggingsvriend is. Selfkennis is belangrik. Net so is dit belangrik om te weet hoekom jou maat belê of sommer net skielik geld wil onttrek. Dit kan geldkonflik verminder.
3 geldpersoonlikhede wat wen
Dit is ook tydens die doen van beleggings en by die ontleding van beleggingsgedrag duidelik waarom mense met sekere geldpersoonlikhede altyd meer inkomste verdien en bates bymekaarmaak oor ’n leeftyd. Dit is veral die entrepreneurs, presteerders en die geldmeesters.
ENTREPRENEURS Hulle meet sukses aan geld, neem groter risiko’s, word deur geld gemotiveer, geniet die mag en status rondom geld en mik altyd na hoër finansiële doelwitte.
PRESTEERDERS Hulle hou van spaar en belê, beplan graag hul finansies en hou van laerrisikobeleggings.
GELDMEESTERS Hulle neem gesonde risiko’s, hou van ’n finansiële plan en finansiële dissipline, bestuur hul geldsake en versamel nog bates.
Vermy gedragsfoute RAKENDE beleggings
n Moenie blindelings belê nie, belê volgens jou beplande doelwitte. n Moenie belê net omdat ander dit doen nie. n Moenie jou geld onttrek sodra ander dit doen nie. n Belê met die hulp van jou makelaar. n Luister na jou makelaar en ander kundiges. n Vergeet van hoe donker die toekoms vir jou lyk. n Pas op vir alle vinnig-ryk-word-skemas (jy gaan alles verloor). n Belê van jongs af vir so lank jy kan en soveel as wat jy kan. n Moenie te veel of te min risiko op die verkeerde tyd neem nie. n Moenie oorreageer oor die huidige marktoestande nie. n Verander ’n belegging as jou makelaar dit op grond van verwagte of huidige marktoestande voorstel. n Moenie beleggingsgeleenthede misloop nie – hou self die koerante en raad van kundiges dop. n Moenie te veel op jouself vertrou as dit by die ontleding van beleggingsmarkte kom nie. n Moenie jou eie makelaar speel nie – dit gaan jou baie duur kos. n Volg die verskillende beleggingskriteria en vergelyk dit met jou beleggingsdoelwitte voordat jy ’n belegging doen. n Moet nooit dat jou emosies met jou gesonde beleggingsdenke weghardloop nie. n Neem beheer van jou emosies as dit by beleggings kom. Nico Swart is die outeur van meer as 70 boeke oor persoonlike finansiële beplanning. Besoek www.moneyskills.co.za Vk