Sorgvrye aftrede is nie meer vanselfsprekend nie
Volgens Hein Kruger, finansiële adviseur, is die gewone afree-ouderdom nie ’n rede om op te hou werk en jou daaglikse brood met arbeid te verdien nie. “Dit is ’n harde feit wat jou duur te staan kom as jy nie daaraan gehoor gee nie. As jy nie seker is of die tyd ‘reg’ is om af te tree nie, beteken dit eenvoudig dat die tyd nie reg is nie. Ongelukkig knyp baie mense hulle oë toe en hoop vir die beste.
Is dit ’n goeie idee om, indien julle nie op die rente op julle aftree-kapitaal kan oorleef nie, met dié geld te woeker om ’n groter maandelikse inkomste te hê? Of is dit eerder raadsaam om jou aftreekapitaal vas te belê en ’n manier te vind om die dividende aan te vul, al is dit om handwerk op vlooimarkte te verkoop?
“Die beginsel wat hier geld,” sê Kruger, “is skoenmaker, hou jou by jou lees. As jy gedurende jou leeftyd nie daarin kon slaag om genoeg kapitaal op te bou om van te leef nie, gaan jy nie skielik op jou oudag die boerpot tref nie. Die verdere beginsel wat geld is om met die kennis en ervaring wat jy jou lewe lank opgebou het, voort te gaan om jou daaglikse brood te verdien. Hou jou kapitaal in die hande van kundiges en moenie kanse waag nie. Jy gaan dit berou. As dit te goed klink om waar te wees, ís dit nie waar nie. As die opbrengs van ’n ‘beleggingskema’ nie binne die gemiddelde opbrengsmarges van die deursnee finansiële instellings lê nie, beteken dat die risiko om geld te verloor, groter is as die kans om kapitaal te preserveer saam met die inkomste wat genereer is.”
Vir verdere inligting:
http://money.howstuffworks.com/second-career-ideas/5-at-home-jobs-for-retirees.htm