Ons geldghoeroe Nico Swart gesels die week oor finansiële gewoontes
“Jou gewoontes het jou ingehaal”, weerklink die woorde van die skuldberader nog in haar ore. Sy is te skaam om haar man te vertel wat nou eintlik gebeur het, nogtans besef Adele dat sy met die waarheid vorendag sal moet kom. Sy moet vir skuldberading gaan. Finansiële gewoontes is die gewoontes wat verskillende finansiële besluite raak wat ons neem. Ons tree dus op spesifieke wyses op, waarvan ons nie maklik afwyk nie en waaraan ons gewoond geraak het – ongeag die positiewe of negatiewe gevolge wat daarmee gepaardgaan. Jy is en word jou gewoontes en veral jou finansiële gewoontes. Ja, jou gewoontes bepaal grootliks die pad van jou lewe.
Finansiële invloede
Net soos ons deurgaans aan die media en die sakewêreld blootgestel word om te koop, skuld te maak en te spaar/ belê, net so moet ons daagliks besluite neem wat ons finansiële gewoontes vestig en in stand hou. Ons staan in die middel van ons eie gewoontewêreld. Die algemeenste finansiële gewoontes is onder meer:
Die gewoontes eie aan ons persoonlikheid.
• Geërfde gewoontes van Ma of Pa in ons ouerhuise of gebrek daaraan.
• Aangeleerde gewoontes soos ons gegroei het en in aanraking met ander mense kom.
• Sosiale gewoontes wanneer ons ontspan of kuier of vakansie hou.
• Selfontwikkelde gewoontes wat ons in ons eie huishoudings, bepaalde omstandighede en situasies gekweek het.
• Geleentheidsgewoontes wat ons byvoorbeeld by die werksplek ontwikkel het om onsself te beskerm of ten koste van ander te verryk.
• Oorlewingsgewoontes om die pot aan die kook te hou.
Goeie gewoontes kan jou baie geld spaar
• Trek minder dikwels geld en trek meer op ’n keer.
• Weet waarom en waarvoor jy geld getrek het.
• Onthou dat jy of iemand anders hard vir die geld gewerk het.
• Besoek die winkels en winkelsentrums minder dikwels.
• Vervang swak besteding en kooppatrone met byvoorbeeld die lees van ’n boek.
• Kry jou geldsake in orde en hou by jou werklike behoeftes as jy moet bestee.
• Kyk weer opnuut na jou gesin se werklike finansiële situasie, behoeftes en doelwitte.
• Moenie te veel geld op jou voorkoms bestee nie – koop goedkoper gehalteprodukte.
• Bly in beheer van jou geldsake en skuldsituasie.
• Vra vir verwysings sodra jy van ’n makelaar gebruik wil maak.
• Moenie maar sommer enige finansiële inligting as waar en korrek aanvaar nie – vind meer daaroor uit deur verskeie bronne te raadpleeg en advies by jou prokureur, ouditeur of gesertifiseerde finansiële beplanner
in te win.
• Ry stadiger in die verkeer en bespaar brandstof sowel as onderhoudskoste.
• Moenie geld gaan mors/bestee as jy sleg of baie goed voel nie – bly in beheer van jouself en jou finansies.
• Maak notas oor jou geldsake en hou dit in ’n lêer vir toekomstige gebruik – in jou eie adminstelsel.
• Raak by jou geldsakesituasie betrokke.
• Hou by alle finansiële ooreenkomste.
• Vind oor jou regte as ’n verbruiker uit – koop ’n boek daaroor en bestudeer dit.
• Raak ontslae van verouderde dokumente wat nie meer gebruik kan word nie.
• Bewaar altyd die oorspronklike registrasiedokumente van jou motor. Dieselfde geld vir alle ander koop- en verkooptransaksies, veral as dit by vaste eiendom kom.
• Moenie sommer van enige persoon hulp by ’n OTM aanvaar nie.
• Moenie enige persoonlike inligting vir iemand gee sonder dat jy presies weet waarvoor dit gebruik gaan word nie.
• Moet nooit die instruksies op enige onbekende e-pos volg nie, jy kan baie geld verloor.