Finansiële kenner Nico Swart gee maandeliks raad oor hoe om jou geldsake beter te bestuur
Len en Annemarie kan nie met geld werk nie. ’n Vriendin het aanbeveel dat hulle ’n begroting moet opstel, maar hulle probeer dit al die afgelope twee maande sonder sukses. Dit lyk nie of ’n begroting vir hulle bedoel is nie. Waar kan die fout lê? ’n Begroting verwys na die beursie van ’n individu of gesin. As ’n mens begroot, probeer jy die geld in jou beursie op die beste manier moontlik aanwend. Dit beteken jy kan nie meer geld bestee en spaar/belê as wat jou beursie toelaat nie. Die geld in die beursie bestaan uit jul inkomste. ’n Mens moet dus die inkomste in jou beursie op so ’n manier bestee en spaar/belê dat die gesamentlike bedrag van besteding en belegging nie meer as die inkomste in jou beursie (begroting) is nie. Ons noem die begroting die finansiële plan vir die gesin rondom besteding en spaar/belegging. Die finansiële plan word opgestel om jul lewensbehoeftes te bevredig sowel as jul doelwitte te bereik. Hierdie doelwitte behels onmiddellike, kort-, medium- en langtermyndoelwitte: onmiddellik (betaal klererekening); korttermyn (koop ’n TV); mediumtermyn (deposito vir ’n motor); langtermyn (neem ’n annuïteit vir aftrede uit). Dis belangrik om die verskil tussen behoeftes (’n eie huis en motor) en begeertes (’n dubbelverdiepinghuis en sportmotor) te ken. Behoeftes is daardie dinge wat jy nodig het en begeertes is daardie dinge wat jy graag sal wil hê. Begeertes is dikwels daardie dinge wat ons nie kan bekostig nie.
Laat dit WERK Jul begroting werk as dit klop of as jou inkomste meer as jou uitgawes is. Dit klop ook as jou inkomste gelyk aan jou uitgawes is. Jul inkomste is dus gelyk aan (of meer as) jul besteding, plus jul spaarbedrag/beleggings. Jou begroting werk nie as jy jou bruto inkomste (salaris vóór aftrekkings) in plaas van jou netto inkomste (salaris ná aftrekkings) in jou berekening gebruik nie. Dit sal ook nie klop as jy jou uitgawes te laag skat, gesinslede meer bestee as wat hulle mag; inflasie voedsel- en ander pryse laat styg het; en jou polisse byvoorbeeld jaarliks vir inflasie aangepas word en jul maandelikse paaiemente verhoog nie. Onthou, ’n begroting werk nie vanself nie. Alle gesinslede moet tot die doeltreffende werking daarvan bydra deur by die begrote syfers vir besteding en spaar te hou. ’n Begroting los ook nie vanself wanbesteding op nie. Gesinslede oorbestee en blameer dan die begroting. ’n Begroting hang van mense en hul gedrag af en ’n begroting vervang nie die finansiële dissipline van gesinslede nie.
DIS NODIG ’n Begroting help jou om bereikbare finansiële doelwitte vir die gesin te stel; uitgawes te beplan en te beheer; tot en met aftrede (en daarna) te spaar en te belê; die gesin se doelwitte te bereik; geldprobleme vroegtydig raak te sien; prioriteite vir die gesin te bepaal; ’n skuldkrisis af te weer; uit ’n skuldkrisis te kom; en finansieel onafhanklik te kan aftree. Finansiële onafhanklikheid beteken: _ Jy is ná aftrede nie van die staat of familie afhanklik vir ’n voortbestaan nie. _ Jy hoef nie ná jou aftrede aan te hou werk nie. _ Jy kan uit eie beleggings in sowel ’n pensioenfonds (van jou werkgewer) as addisionele beleggings (om die inkomstetekort wat ná aftrede ontstaan, al behoort jy aan ’n pensioenfonds, aan te vul) ná aftrede self in jou finansiële behoeftes voorsien.
Doen dit só Voordat ’n mens jou begroting kan opstel, het jy bewyse van al jul inkomste en uitgawes vir die maand nodig. Jul bankstaat sal ’n goeie aanduiding wees van alles wat julle gedurende die maand bestee en gespaar/belê het. Julle moet ook ’n houer of boks hou met bewyse van alles wat die gesin gedurende die maand bestee het en waarop. Dit sal veral wys wat julle met die kontant wat julle getrek het, gemaak het. Net so sal dit kan aandui waarom ’n kind byvoorbeeld nie iets kon koop nie, want hy het
Stappe by die opstel
1 Tel die netto inkomste (bedrae soos in bankrekening inbetaal) wat die huishouding ontvang het bymekaar.
2 Tel alle maandelikse uitgawes bymekaar
. 3 Trek die uitgawes se totaal van die inkomste se totaal af.
4 As die inkomste se totaal meer as die uitgawes se totaal is, dan het julle ’n surplus. ’n Surplus beteken julle kan meer bestee of spaar om doelwitte te bereik.
5 As die uitgawes se totaal meer as die inkomste se totaal is, dan het julle ’n tekort/verlies. ’n Tekort/verlies beteken julle moet minder bestee of spaar, of albei. Verander nou jul doelwitte sodat julle minder gaan bestee of spaar of albei. Verminder jul huishouding se uitgawes as julle ’n tekort/verlies het. Die gesin moet gaan sit en alle besteding binne en buite die huis neerskryf om te kyk waar daar minder bestee kan word, of verminder die bedrag wat julle spaar totdat jul inkomste weer meer is.
Stel die PROBLEEM REG Gebruik die regte finansiële beginsels vir die opstel van ’n begroting: _ Elke gesinslid se behoeftes en doelwitte moet in die begroting ingesluit word, sodoende sal hulle hul samewerking wil gee om by die begroting te hou. _ Almal moet verstaan wat ’n begroting is en vir die gesin kan beteken. As die gesin die begroting dien, sal die begroting die gesin dien. _ Gesinslede moet weet wie vir wat verantwoordelik is, byvoorbeeld: Ma stel die in kopielys op; Pa betaal die huis- en tuinwerker; Boetie moet al die koopbewyse en OTM-strokies versamel en elke aand in die houer of boks sit. _ Goeie kommunikasie is belangrik. Enige aktiwiteit of veranderinge rakende die begroting moet aan almal verduidelik word. Byvoorbeeld: Die motor het gebreek en nou sal die nuwe TV eers oor drie maande gekoop kan word. _ ’n Deeglike administratiewe stelsel is belangrik. Organiseer strokies volgens die soort besteding. _ Wees realisties, moenie inkomste te hoog of uitgawes te laag skat nie. Dit demotiveer die gesin omdat doelwitte te maklik bereik kan word of omdat dit glad nie bereik kan word nie. _ Tydsbeplanning is noodsaaklik. ’n Begroting word maandeliks opgestel. Die idee is om ’n begroting vir die gesin vir die volgende 12 maande op te stel. Die een maand se surplus of tekort/verlies, moet na die volgende maand oorgedra word. Die volgende maand se begroting word nou met hierdie nuwe syfers aangepas. _ Die begroting moet buigsaam wees, want as daar ’n nood/krisis ontstaan, moet daarvoor voorsiening gemaak kan word. _ Onthou ook persoonlikhede sowel as hoe mense geld gebruik, verskil. Aanvaar dit. _ Doen deurlopende evaluering, want surplusse so wel as tekorte moet ondersoek word. Sodoende verbeter jul persoonlike finansiële beplanning. Die begroting vorm die kern van persoonlike finansiële beplanning. Onthou, jy kan net iets koop of doen as jy dit kan bekostig. Vk Nico Swart is ’n dosent aan Unisa en het al meer as 50 boeke oor finansiële beplanning geskryf.
Besoek www.moneyskills.co.za