Ons geldghoeroe Nico Swart gee die maand wenke vir die tyd ná aftrede
Lucy en Gawie het verlede jaar afgetree. Al was hul geldsake in orde, het hulle geen idee gehad van die talle emosionele eise wat aftrede aan hulle sou stel nie. Toe hulle jonger was, het hulle gewonder waarvan ander mense praat wat reeds afgetree het. Dit voel net of hulle nou totaal en al onvoorbereid vir verskeie eise en gebeure is. Kom ons kyk na enkele waaraan aandag gegee moet word. Verskeie aspekte hiervan het veral negatiewe finansiële gevolge op lang termyn – die laaste vyf tot 30 jaar. Ná aftrede moet jy saamleef met dit wat van jou oor is ná ’n leeftyd se werk, rampe, spanning en die lewe se stampe en stote. Hierdie tydperk hou talle uitdagings en aanpassings in. Sommiges afgetredenes kuier deurgaans, ander trek hulself steeds soggens aan vir werk en bring die dag êrens deur, terwyl die meeste mense nie weet wat om met hulself aan te vang nie (veral as die gade steeds werk).
Maniere hoe aftrede HANTEER WORD
Aftrede word op vyf maniere hanteer. Daar is … dié wat met dieselfde aktiwiteite as vóór aftrede voortgaan. dié wat nuwe uitdagings soek. dié wat verskeie dinge ondersoek totdat hulle iets kry wat vir hulle werk. dié wat die wêreld bekyk en alles wil sien wat hulle voorheen gemis het. dié wat terugtrek en net mooi niks doen nie – dit is dalk die goedkoopste op die oog af, maar kan jou duur te staan kom.
Vergeet jou vorige werk Baie kan nie hul werk vergeet nie en probeer weer 40 jaar se ervaringe ondersoek. Vergeet van jou vorige werk deur onder meer: die slegte punte te onthou en dit te begrawe; die positiewe aspekte daarvan in jou kop te vergroot; belangrike prioriteite vir jou huidige plek in dié lewensiklus van die mens, naamlik aftrede, te identifiseer. Moenie dat jonger en energieker mense jou lewe definieer nie. Jy is nou sonder die spitsverkeer ná en van jou werk en kan baie aan vervoerkoste spaar. Werkspanning is nou iets van die verlede en jou mediese koste behoort nou te daal as dit by stres kom. Hou dit só! Raak van skuldgevoelens ontslae. Deur hardop met jouself oor die verlede te praat, kan jy depressief raak as gevolg van die negatiewe gevoelens wat jy vertroetel. Depressie is die teenoorgestelde van ekspressie (om jouself uit te druk en te laat geld). Jy kan vanweë jou depressie niks doen nie. Gaan sien ’n sielkundige en spaar jouself baie mediese koste vir die toekoms. Depressie kan tot drankverslawing en huweliksverbrokkeling, teen geweldige koste, lei. Heg nuwe waardes aan jouself en moenie nutteloos begin voel nie. Bring tyd in die natuur deur en kry nuwe stokperdjies.
’n Nuwe fase n Jou lewe is sonder werkstrukture ná aftrede. Jy moet pogings aanwend om dit weer struktuur te gee. Dink daaraan om iets te skryf, mooi plekke te besoek, by die kunste betrokke te raak, nuwe kursusse op die rekenaar onder die knie te kry of praatjies oor jou vakgebied te hou. n Aftrede is vol uitdagings. Dit is baie belangrik dat jy produktief raak of bly. Ons praat van produktiewe aftrede en veroudering. Gee opnuut aandag aan jou verhoudings met jou familie en vriende. n Doen moeite om nie in jou eie oë jou waarde te verloor nie. Heg nuwe waarde aan jou nuwe lewensfase. n Beskerm jouself teen stygende mediese koste deur na jou gesondheid om te sien. Oefening is die beste medisyne ná aftrede. Dit bou spiere en voorkom dat bene so maklik verbrokkel of breek, selfs as jy val. Behou jou lidmaatskap van ’n mediese fonds en moenie dink dat ’n hospitaalplan voldoende sal wees nie. n Neem ’n langtermynhospitaalplan by ’n versekeraar uit om jou mediese fonds aan te vul. n Beskerm ook jou geestelike gesondheid deur jou nuwe lewe so gebalanseerd moontlik te maak en te hou. Moenie ophou met lewe nie, maar kry vir jou nuwe doelwitte en streef dit na. Bly aktief en beskerm jou vriendskappe. n Die balans tussen jou/jul inkomste en uitgawes moet bestuur word. Nêrens is ’n begroting belangriker as ná aftrede nie. Hopelik het jy die goeie gewoonte om ’n huishoudelike begroting op te stel regdeur jou lewe beoefen. Dit verg dus geen nuwe inspanning nie.
Moenie…
… sonder ’n geldige testament sterf nie. Laat jou prokureur ’n nuwe testament opstel sodat jou boedel volgens jou wense kan vererf. Sou jy ’n groot boedel hê, moet jy ’n testamentêre trust daarin oprig – dit gebeur ná jou/jul dood.
… jou korttermynversekering kanselleer nie. Jy benodig te alle tye, tot en met jou dood, omvattende versekering met SASRIA- (politieke oproer) dekking vir jou huis, jou huisinhoud en motor. Daarsonder kan jy alles in geval van ’n ongeluk, waterskade en diefstal verloor.
… vir jou kind borg teken nie. Sou jy borg teken, met ander woorde aanspreeklikheid vir jou kind se skuldverpligtinge aanvaar, kan jy alles verloor wat jy oor ’n leeftyd bymekaargemaak het.
… riskante beleggings maak nie. Jy moet beleggings maak met ’n baie lae risiko en nooit met jou geld dobbel nie.
… ’n duur motor gaan koop nie. Jy mag voel jy verdien dit, maar jou duur motor gaan per jaar 10% van die koopprys in waarde verloor. Koop as dit moet ’n goedkoper klein nuwe motor of ’n goedkoop groter tweedehandse motor. Onthou die omvattende versekering.
… blindelings trou nie. Dit gaan baie kos as dinge skeefloop en jy in die skeihof eindig of met ’n geldjagter of ’n verkwister sit.
… mondelinge kontrakte sluit nie. Gaan slegs skriftelike ooreenkomste aan nadat ’n kundige op die gebied die kontrak, regte en verpligtinge ondersoek het.
… dwase beleggings maak nie. Vermy piramideskemas of ander rykwordskemas tot elke prys. Gebruik ’n kundige adviseur.
… al jou annuïteite oproep nie. Jy moet jou inkomste oordeelkundig volgens jou begroting gebruik. Gebruik slegs ’n annuïteit as jy dit werklik nodig het en dan so min as moontlik per maand om jou kapitaal vir nog jare te beskerm.
… jou aftreegeld vermors nie. Talle mense tree af en kan nie wag om op die een vakansie of oorsese reis na die ander te gaan nie. Sodoende verteer jy jou aftreegeld en voordat jy jou oë uitvee, sit jy op die straat met net mooi niks.
… jou uittrek voor jy gaan lê nie. Moenie jou besittings aan jou kinders of erfgename oordra terwyl jy nog 30 jaar kan leef nie. As jy skenkings aan hulle wil maak, doen dit oordeelkundig. Jy betaal geskenkbelasting teen 20% op skenkings bo R100 000 per jaar.
… jou kinders laat sukkel nie. Help hulle finansieel as jy kan. Moenie wag tot jy 90 en hulle bankrot is nie.
… iemand anders se geld saamvat as jy sterf nie. Betaal jou skuldeisers en moenie sterf sonder om vir jou skuld voorsiening te maak nie. Betaal individue terwyl jy nog leef. Behou jou lewenspolis vir jou boedelkoste.
Doen dit reg Ja, vervang jou aftrede met produktiewe veroudering! Herdefinieer jouself en die waarde wat jy vir die samelewing, jou vriende, jou familie en jou gesin inhou.
Nico Swart het al meer as 70 boeke oor persoonlike finansiële beplanning. Besoek www.moneyskills.co.za Vk