Sukkel jy om te besluit hoe om ’n ekstratjie reg te belê? Ons geldghoeroe Nico Swart gee raad
Pieter en Beverley Kleinsmith van Nigel het ses maande met die afhandeling van haar pa se boedel gesukkel. Behalwe vir ’n paar meubels, het hulle ook ’n bedraggie van R20 000 geërf wat haar pa in ’n spaarrekening gehad het. Wat moet hulle nou daarmee maak? Hulle skuld nog sowat R370 000 op hul woning. Hulle droom van ’n huis by die see, maar Pieter het gesondheidsprobleme. Hulle het verskeie vriende geraadpleeg, maar elkeen het ’n ander voorstel. Hoe kan hulle self tot ’n besluit kom? Ons verwys na alle spaarmetodes en beleggings in die skryf- en spreektaal as “ons belê”, al spaar ons eintlik. Net só verwys ons na ons spaarbedrag as ons “belegging”, al plaas ons dit in ’n spaarrekening.
Spaarmoontlikhede Die funksionering van produkte wissel aansienlik tussen finansiële instellings – hier volg net algemene eienskappe.
SPAARREKENING Rente kan op ’n spaarrekening by ’n bank verdien word. Geld is onmiddellik beskikbaar sou ’n mens dit verlang. Jy betaal maandelikse bankkoste. Die geld is baie veilig.
VASTE DEPOSITO Geld kan vir 1-60 maande in ’n vaste deposito by ’n bank belê word. Die geld is veilig. Jy moet ’n skriftelike versoek aan die bank rig en vra dat jou deposito terugbetaal moet word, sou jy dit verlang. Jou deposito kan as sekuriteit dien vir die verkryging van ’n lening by ’n bank of dieselfde bank. Die rentekoers op jou deposito is vas en wissel nie saam met die ander rentekoerse nie. Jy betaal maandelikse bankkoste. Hoe hoër die bedrag van jou deposito, hoe hoër die rentekoers.
32-DAE-KENNISGEWINGSDEPOSITO Dit funksioneer presies net soos ’n vaste deposito, maar jy moet 32 dae voor die tyd skriftelik kennis gee om jou geld te kry. Die rentekoers wissel soos alle ander rentekoerse. Die groot voordeel van hierdie spaarmetode (teenoor ’n vaste deposito) is dat jy deurgaans addisionele geld by jou belegging kan voeg.
BUIGSAME DEPOSITO In geval van nood is tot die helfte van jou geld binne 24 uur beskikbaar. GELDMARKFONDS ’n Geldmarkfonds is ’n veilige belegging met ’n baie lae risiko. Hier word in die geldmark belê, dit wil sê, die mark vir korttermynfondse. Jy verdien rente op jou geld, wat belasbaar is. Jy kan jou geld binne 24 uur kry, sou jy dit benodig. Dit is veral geskik vir ouer mense wat ’n maandelikse rente verlang; mense wat geld vir ’n kort periode wil of moet belê; of terwyl rentekoerse hoog is. Raadpleeg jou bank of makelaar.
Beleggingsmoontlikhede
EFFEKTETRUSTS (KOLLEKTIEWE BELEGGINGS) Hier belê ’n mens indirek in aandele op die effektebeurs (waar aandele gekoop/verkoop word). Jy kan klein bedraggies belê en onttrek soos dit jou pas. Die dividende (inkomste) wat ontvang word, is belasbaar. Jy kan die dividende herbelê om jou belegging verder te laat groei. Die waarde van jou belegging kan oor sekere periodes daal, maar behoort oor tyd te groei. Belê hier verkieslik vir periodes van langer as vyf jaar. Kontak ’n bank of makelaar.
AANDELE Aandele behels ’n belegging in die winste (of verliese) van ’n maatskappy. ’n Belegging in aandele beteken dat jy nie jou geld kan terugkry nie, tensy jy besluit om die aandele te verkoop. Sou die aandele se waarde in daardie stadium laer wees as waarvoor jy dit gekoop het, sal jy minder as jou aanvanklike beleggingsbedrag terugkry. Dit is wel moontlik dat jy ’n wins kan maak as die aandele nou meer as die beleggingsbedrag werd is. Die risiko is baie hoog, omdat jy jou geld oor die lang termyn vir die maatskappy(e) leen waarin jy belê het. Die doel is langtermynkapitaalgroei (’n verwagte styging in die waarde van jou belegging). Jy moet deur ’n makelaar belê, wat noodwendig sekere transaksiekoste van jou beleggingsbedrag gaan aftrek. Kontak ’n aandelemakelaar vir meer inligting. Sou jy byvoorbeeld met aandele wil spekuleer (aandele op jou eie koop en verkoop), kan jy ’n rekenaarprogram (aandelepakket) vir jouself koop en dit op jou rekenaar installeer. Dit is dan ’n daaglikse werk om te kyk of jy nóg aandele moet koop en of jy sekeres moet verkoop. Jy sal vinnig sommer baie kennis oor aandele, die markte en veranderings in maatskappye en die bedryf moet opdoen. Jou doel is om ’n wins oor die kort termyn te maak. Jy gaan deurgaans aandele koop (as jy dink hulle is onderwaardeer – meer werd as wat ander beleggers dink) en verkoop (as jy dink hulle is oorwaardeer – minder werd as wat ander beleggers dink). Die op- en afwaartse verloop van aandele in die verlede word gebruik om hul toekomstige verloop te “skat”. Dit word tegniese ontleding genoem. Die koste van só ’n program beloop tussen R5 000 en R10 000. Jy kan nou die volgende uitgawes van jou wins aftrek vir doeleindes van inkomstebelasting: Die koste van die opleiding en kursus; rekenaarkoste; sagteware van die program; boekkoste; en jou adminkoste. Daar bly gevolglik nie veel geld oor (van die R20 000) om nog aandele te koop om te begin spekuleer nie – of kan jy geld byvoeg? Bel die Johannesburgse Effektebeurs vir meer inligting.
Hul finale keuse
Nadat Pieter en Beverley die eienskappe van die genoemde beleggings ontleed en met hul finansiële behoeftes vergelyk het, tref die risiko van die huisverband hulle soos ’n bom. Wat sal gebeur as Pieter regtig siek word en Beverley die broodwinner word? Hoe gaan hulle dan die verband afbetaal sonder om die betaling van die maandelikse premies op hul bestaande beleggings vir aftrede te staak? Hulle het besluit om eerder die ekstra geld op hul huisverband te betaal. Sodoende betaal hulle die verband gouer af en spaar duisende rande se rente. Die afbetaling van ’n huisverband bied die hoogste, gewaarborgde, belastingvrye opbrengs van alle soorte beleggings. Dit hou dus hoegenaamd geen risiko in nie. Gewoonlik gaan ’n hoë opbrengs in die geval van ’n huisverband nie hand aan hand met ’n hoë risiko nie. Die afbetaling van hul huisverband word hul eerste prioriteit en grootste finansiële behoefte – boonop bied dit ’n baie hoë belastingvrye opbrengs. Hulle baat met sowel die verbandrentekoers as die belasting wat hulle op die opbrengs van die belegging sou moes betaal. As dinge verbeter, kan hulle ná die afbetaling begin planne maak vir die huisie by die see – sonder om hul huis te verkoop. Hulle kan dit dan verhuur.
Besoek www.moneyskills.co.za vir meer inligting oor Nico se geldsakeboeke Vk