Ons geldghoeroe Nico Swart gee dié week raad vir paartjies
Dit is nie maklik om met Kobus getroud te wees nie. Hy raadpleeg Tersia net mooi nooit oor enige finansiële sake in die huishouding nie. Hy mors en bestee die gesin se geld net soos hy wil op vriende en sosiale aktiwiteite. Verder het die gesin nie eers korttermynversekering of ’n mediese fonds nie, selfs nie eers ’n hospitaalplan nie. Tot nou toe het sy alle konflik rondom dié sake probeer vermy – hy weet net altyd beter. Tersia is lief vir Kobus, maar dit kan nie langer so voortgaan nie. Wat moet sy doen en waar moet sy begin?
Hoe voel jou maat oor geld
Dit is baie belangrik om presies te weet hoe jou maat oor geld voel – sy/haar houding (wil iets dadelik besit, wil altyd ryk voorkom of is bereid om daarvoor te spaar en te wag), waardes (geld is belangriker as alles) en gedrag (koop maklik iets onnodigs of beplan en dink eers goed oor besteding na). Sonder hierdie kennis kan jare lange konflik ’n paartjie se voorland wees as gevolg van onder meer finansiële geheime, oortollige skuld, oneerlikheid en wanbestuur of wangedrag. Jou maat se gevoel (hetsy goed of sleg) spruit uit sy of haar ouerhuis sowel as vorige lewenservarings rakende geld (bankrotskap, egskeiding, kriminele sakevennote of sommer net sake). ’n Mens behoort reeds in die uitgaanjare uit te vind hoe sake staan. Ongelukkig vind die meeste dit vir die eerste keer in die saamblyverhouding of huwelik, of sommer kort ná die wittebrood, uit. Die rede is dat ons dink dit is verkeerd om voor die tyd oor geld te praat. Daarby het ons ’n algemene weersin teenoor geldsakekennis as ons nog jonk is. Boonop dink baie jongmense wat ’n lewe saam beplan dat hul ouers nie genoeg weet om hulle hieroor en oor ander lewensaspekte raad te kan gee nie. Hoe sal die ouers nou weet hoe verlief hulle is, hoe uniek of hoe suksesvol hul band gaan wees? Hulle gaan mos ook mekaar nooit los of skei nie. Ongelukkig keer die meeste paartjies met ’n skok na die werklikheid terug wanneer hulle uitvind dat Jan eintlik ’n finansiële Hitler, of net soos sy pa ’n verkwister van geld is. Of San. Gaan jy vir Jan verander? Nee, selfs nie ná baie jare se ongelukkige saamwees nie. Jan en San se geldhouding, -waardes en -gedrag is vir altyd vas, tensy jy ingryp. Die gevolge kan konflik en reg of weg beteken.
VYF belangrikE faktore
1 Moenie konflik vermy nie. Jy kan nie iemand toelaat om jou lewe te verwoes en jou emosioneel en finansieel dood te maak nie. Die huwelik is selfs meer as net ’n 50-50-saak.
2 Die gesamentlike bestuur van die huishouding se finansies veroorsaak juis die versterking van die huwelik vanweë betrokkenheid, openheid, gesamentlike bronne, gesamentlike doelwitte en beplanning met behulp van ’n gesamentlike begroting en finansiële eenwording.
3 Dié finansiële eenwording begin met kennis oor geldsake. Albei partye moet kennis hiervan hê of bekom. As julle nie het nie, moet julle julself bemagtig.
4 Jy moet selfkennis hê van jou en jou ouerhuis se waardes, houding en gedrag teenoor geld, asook jou maat en sy ouerhuis s’n.
5 Wees ingelig oor jul finansiële situasie (polisse, kort- en langtermynversekering, beleggings, mediese en pensioenfonds, skuld en lenings, oortrokke bankrekening(s), annuïteite en jul huweliksgoederebedeling). Begin ’n administrasiestelsel met al jul dokumente asook jul huishoudelike uitgawes in ’n houer (vir jul begroting en inkomstebelastingbewyse). Vra ’n makelaar vir hulp indien nodig.
Wanpraktyke in huise
Een van die beste voorbeelde is die outydse boeretestament. Hiervolgens het die seun al die plase geërf, die dogter moes trou (met ’n boer of ander ryk man) en die oorlewende vrou kon darem op die plaas aanbly of in die dorp in ’n woonstel intrek. Die “groot besitter” was dikwels ’n tiran as dit by geldsake kom. Wat hy gesê het, was wet vir almal en vir altyd. Algemene eienskappe van soortgelyke gedrag het die volgende beteken: n Die vrou mag niks weet nie of so min moontlik. n Sy mag nie uitvra nie. n Sy vrou moet hom in alles vertrou en gehoorsaam (al weet hy heeltemal niks van geldsake nie, en sy heelwat meer of sommer baie). n Vroue was baie agterdogtig as die man alleen bank toe gaan en sake doen, of glad nie, totdat sy op die een of ander dag geweldig ontnugter word. n Meestal vertel so ’n man graag van die groot lewenspolis wat hy het en wat vir altyd vir haar asook vir die kinders sal sorg as iets gebeur. (Sy het dit nog nooit gesien nie en hoop dit bestaan wel.) Sy mag nooit die bestaan van die polis bevraagteken nie – dit is mos by die bank. Dikwels was daar nooit so ’n polis nie – of die premies is lankal gestaak, of dit is piepklein en word nooit aangepas vir inflasie nie of dit is reeds as sekuriteit vir skuld vir die bank gegee (aan die bank sedeer). Finansiële vryheid is belangrik
Ja, elke party moet ook eie besluite oor die huishouding se geld kan neem – dit is deel van onafhanklikheid en menswees. Mans en vroue het verder hul eie “dingetjies” wat hulle met geld wil doen. Elkeen moet die saamwees ook op finansiële gebied geniet. Dit beteken verder persoonlike doelwitte en onafhanklike groei. Natuurlik kan ’n mens jou eie vryheid wegneem deur te veel skuld of onbeplande skuld te maak. Maar waarom sal jy jou maat in ’n “tronk” sit sonder enige vryheid as julle boonop geld het om te bestee omdat julle beplan en begroot? Neem die begroting ons finansiële vryheid weg? Nee, nooit nie. Dit bind julle aan mekaar en gee jul lewens ’n gemeenskaplike rigting. Mense ken só hul rolle in die huishouding en weet presies wat van hulle verwag word. Dit lei tot gesamentlike finansiële dissipline – die beste gewoonte in die finansiële wêreld. Boonop voel die party wat nie die broodwinner is nie daar is nou sekuriteit. Onthou net die volgende:
1 ’n Begroting is net so goed soos hoe dit opgestel word.
2 ’n Begroting is net so goed soos die waarde wat gesinslede daaraan heg.
3 Neem saam alle besluite rakende jul begroting en geldsake.
Versterk jul huwelik só As jy vir jou maat omgee en respek het, sal jy sorg dat jul verhouding positief beïnvloed word deur die manier waarop jul gesamentlike finansies bestuur word. Respekteer altyd jou maat se siening oor geld, oftewel jul finansies. Bou vertroue en gesonde kommunikasie rakende jul geldsake. Hou altyd albei se behoeftes en begeertes in gedagte as julle persoonlike finansiële beplanning doen.
Nico Swart is die outeur van meer as 70 boeke oor persoonlike finansiële beplanning. Besoek www.moneyskills.co.za Vk