Nico Swart is ’n dosent aan Unisa en het al meer as 50 boeke oor persoonlike finansiële beplanning geskryf. Hy gaan voortaan een keer per maand vir ons raad gee
Toe die telefoon lui, het Marinda nie geweet waarvan die makelaar praat nie. Dalk weet Danie, maar hy kom eers ná donker by die huis. Waarom wil die man boonop hul finansiële situasie bepaal? Hulle leef dan binne hul begroting. Dalk het hulle skuldprobleme waarvan sy nie weet nie. Hy werk seker vir die balju. Toe Danie stilhou, val sy dan ook dadelik met die deur in die huis. Hy stel haar dadelik op haar gemak met ’n baie praktiese verduideliking en oplossing.
WAT BETEKEN FINANSIËLE SITUASIE?
Finansiële situasie verwys na die stand van alles in jou lewe wat in geld gemeet kan word. Verder beteken dit hoe jou finansies daar sal uitsien sou jy te sterwe kom. Die meeste mense het geen idee van wat hierdie stand is nie. Sodra jy met hierdie oefening begin, kom jy agter hoeveel aangename en onaangename verrassings dit vir jou inhou. Enersyds ontdek jy ’n vergete belegging en andersyds kom jy agter hoe verouderd jou testament is. Persoonlike finansiële beplanning begin met die bepaling van die huishouding se finansiële situasie. Dit is ’n proses wat uit verskillende stappe bestaan. Jul finansiële posisie is die wegspringpunt, of punt A, vir jul beplanning. As jy beplan, wil jy vanaf jou punt A na punt B (jou doelwit) gaan. As jy nie weet waar jy is nie, kan jy nie beduie word hoe om elders te kom nie. Dieselfde geld vir ons geldsake. Waar is jy nou?
VOORDELE VIR DIE GESIN _ Gesinslede ken die stand van hul geldsake en kry die motivering om meer by die gesin se persoonlike finansiële beplanning betrokke te raak. _ Onsekerhede verminder en julle leer meer van die finansiële gedrag en prioriteite van gesinslede. _ Geldprobleme word vroegtydig ontdek en werklike behoeftes word geïdentifiseer (byvoorbeeld ons kort nog ’n lewenspolis vir ons boedelbelasting wat betaal moet word teen ’n koers van 20% op die bedrag waarmee jou netto boedel, dit wil sê totale bates minus totale laste, R3,5 miljoen oorskry). _ ’n Goeie huishoudelike finansiële rekordstelsel word geskep en in stand gehou en naasbestaandes hoef nie senuweeagtig rond te krap om belangrike dokumente of bewyse ná ’n gade se dood op te spoor nie. _ Dit vergemaklik ons inkomstebelasting-, beleggings-, boedel- en aftreebeplanning en help ons om vroegtydig die nodige voorsienings te maak, asook om huidige en toekomstige slaggate by elk te kan vermy. _ Julle is voorbereid met die nodige finansiële kennis oor jul geldsake as julle van die dienste van ’n makelaar, die bank, boekhouer of prokureur gebruik wil maak.
WAAR MOET EK BEGIN? Koop drie groot lêers in kleure van jou keuse. Koop plastieksakkies wat vir lêers bedoel is en plaas ’n groot aantal in elke lêer. Tik ’n inhoud soortgelyk aan die volgende voorbeeld wat by jul gesin se behoeftes sal pas. Hierdie inhoud word in die eerste sakkie geplaas. Tik nou die verskillende soort name (volgens die nommers in die inhoud en onderafdelings) elk op ’n aparte bladsy en plaas dit in volgorde in die sakkies wat op die inhoud volg. Nou kan jy begin om die sakkies te vul met wat ook al daarin moet kom. Jy sal sommer gou-gou agterkom dat jy nie verniet die ander lêers gekoop het nie. Die eerste lêer word gouer vol as wat ’n mens besef en dan moet jy noodwendig begin skuif.
DIE INHOUD VAN JUL LÊERS
_ Testament(e) en trusts
_ Identiteitsdokumente (gades en die kinders, asook vyf gesertifiseerde kopieë van elk)
_ Huwelikskontrak (huidige huwelik, skikkingsakte van vorige huwelik(e))
_ Begrafnisboekie(s) (vir elke gesinslid) _ Doodsertifikaat(e) Hierdie sakkie bly leeg tot ná ’n gade se dood)
_ Finansiële bates (beleggings in pensioenfonds(e), effektetrusts, aandele, geldmarkfondse)
_ Vaste bates (geboue, erwe)
_ Harde bates (juweliersware, skilderye, en versamelings – seëls, muntstukke, koeverte, wyn)
_ Korttermynversekering (die versekeringskontrak vir die versekering van geboue, huisinhoud en voertuie, teen risiko’s soos brand, diefstal en ander skade)
_ Langtermynversekering (dis langtermynbeleggings in versekeringsprodukte soos ’n uitkeerpolis, lewenspolis en uittreeannuïteite)
_ Korttermynskuld (rekeninge, lenings)
_ Langtermynskuld (verbandstate)
_ Koopkontrakte (tegniese toerusting en meubels)
_ Huurkontrakte (vir gevalle waar julle as huurder en as verhuurder optree)
_ Finansiële jaarstate (Hou sowat vyf jaar se state met bewyse van inkomste en uitgawes. Hou ook ’n aparte houer met die huidige maand se bewyse van inkomste en uitgawes – dit vorm deel van die gesin se rekordstelsel vir die opstel van die maandelikse begroting)
_ Kapitaalwinsbelastingopsomming (Hierdie was ’n verpligte waardasie van alle vaste eiendom in 2001. Die waardes word eendag gebruik as vaste eiendom van eienaar verwissel om die bedrag aan kapitale wins te bereken. Kapitaalwinsbelasting word hierop bereken en saam met jou inkomstebelasting aan SARS betaal)
_ Dispute (byvoorbeeld met bure oor waar die grenslyn tussen jul eiendomme loop)
_ Hofsake (Hou kopieë met teenargumente)
_ Werknemerinligting (huis- en tuinwerker se identiteitsdokumente, indiensnemings kontrakte, en WVFbesonderhede)
_ Drie maande se bankstate
_ Besigheidsinligting (As julle ’n onderneming het. Nie alles nie, maar riglyne aan agtergeblewenes oor aspekte van die onderneming wat belangrik is om te weet, te doen en nie te doen nie)
_ Verduidelikings aan die gesin (Soortgelyk aan laasgenoemde oor persoonlike besittings)
_ Kredietburo-inligting (Vra jaarliks ’n bewys van jul kredietwaardigheid aan vanaf die nasionale kredietreguleerder)
_ Besonderhede van ouers in geval van hul dood _ Vorige insolvensie (finansiële rekords indien van toepassing)
_ Uitstaande skuld (mense wat julle geld/ goed skuld) Let wel, hierdie inligting kan ook elek – tronies in lêers versamel en bewaar word. Daar kan jaarliks ’n CD geskep word met alle inligting soos op 31 De sem ber. Besluit self watter metode jy wil volg.
HOEVEEL TYD SAL DIT VAN MY VRA?
Afhangend van of jy dit voltyds of net saans kan doen, gaan jy omtrent drie weke daaraan werk. Die hoofrede is dat jy alles moet opspoor en uitvind wat in jou inhoud verskyn. Boonop sal jy uitvind soos wat jy dink en doen, jy deurgaans nog iets belangriks moet byvoeg – miskien waaraan niemand nog gedink het nie. Dis die ideale werkie as jy Desember by die huis bly! Die doel is verder om die jongste inligting daarin te hou. Voorbeelde is die nuwe korttermynversekeringskontrak, polisse, die huidige/jongste waarde van jou pensioenfonds. Verwyder deurgaans verouderde dokumente wat 100% met ander vervang is, anders word die sakkies te veel. Vra ook jou bankbestuurder of makelaar vir ’n voorbeeld van die bepaling van ’n finansiële situasie. ONTHOU Jy het nog niks beplan nie, jy was slegs besig om jul punt A (die vertrekpunt vir jul beplanning) te bereken.
Vk Besoek www.moneyskills.co.za en moenie Nico se volgende artikel in ons 30 September-uitgawe misloop nie