Ons finansiesghoeroe Nico Swart gee dié week raad oor buitelandse beleggings
Stefanie en Hannes het reeds afgetree, maar is steeds aktief by hul ondernemings betrokke wat deur hul kinders bestuur word. Hulle het deur die jare in verskeie soorte vaste eiendomme regoor Suid-Afrika belê, maar voel die land raak nou te riskant vir beleggings. Hulle wil oorsee belê, maar is dit wys en waar begin ’n mens? Daar is hoofsaaklik twee maniere waarop ons oorsee kan belê. Eerstens kan jy onshore (aanlandig) belê. Dit beteken jy belê oorsee, maar jou belegging moet na Suid-Afrika terugkom. Tweedens kan jy offshore (aflandig) belê, wat beteken jou belegging hoef nie na Suid-Afrika terug te kom nie. Die belegging bly vir altyd in die oorsese land. In laasgenoemde geval moet jy eers toestemming by die Reserwebank kry om die aflandige belegging te kan maak. Jy moet verskeie vorms voltooi, waarna die Reserwebank sal vasstel of jou betaling van inkomstebelasting op datum is. Daarna mag jy oorsee belê.
Verkeerde persepsies
Ons is vanaf 1997 toegelaat om oorsee te belê, maar talle beleggers wat die afgelope 15 jaar daar belê het, het aansienlike verliese gely. Dit is egter maklik om die rede daarvoor te verduidelik as ’n mens na die agtergrond van die in- en afstelling van valutabeheer in Suid-Afrika kyk. Valutabeheer is die beperking wat die regering op die uitvloei van geld en beleggings uit Suid-Afrika geplaas het. Valutabeheer is in 1960 in Suid-Afrika ingestel. Sekere politieke gebeure het daartoe gelei dat geweldig baie geld ons land in die verlede verlaat het. Ons het veral drie groot onlustetydperke beleef: in 1960 (Sharpeville); 1976 (Soweto); en 1985 (landwyd). In hierdie tye het miljarde rande die land op talle onwettige maniere verlaat. Selfs groot maatskappye het geld en byvoorbeeld groot hoeveelhede diamante oorsee geneem. Ander maatskappye het hul hoofkantore oorsee geskuif. In Januarie 1980 was die rand een van die sterkste geldeenhede ter wêreld. Ons kon 1,35 dollar vir R1 kry. Ons betaal vandag ongeveer R8 vir een dollar. Toe gebeur die volgende: In 1997 word valutabeheer afgestel en word beleggers toegelaat om R200 000 oorsee te belê. In 2001 is die rand die swakste nog en het ons R14 vir een dollar betaal. Hier het die probleem van lae opbrengste op oorsese beleggings ontstaan. Toe die rand die laagste waarde gehad het, het Suid- Afrikaners vanweë politieke vrese oorsese beleggings ten duurste en op groot skaal gekoop. (Mense was bang om alles te verloor en wou iets behou.) Hulle sou gevolglik net ’n negatiewe opbrengs hê. Vandag is dit anders. Ons rand is nou sterker (R8 per dollar) en ons mag nou R4 miljoen oorsee belê (offshore). Nou is ons egter te bang om te belê! Dit is juis nou anders as teen die begin van die 15 jaar-beleggingstermyn. Ons kan nou baie “goedkoper” oorsee belê en ’n positiewe opbrengs op ons beleggings verdien.
Hoekom oorsee?
Daar is honderde lande in die wêreld. Om al jou eiers in Suid-Afrika te hê en te belê, maak jou totale beleggingsportefeulje (al jou beleggings) baie riskant. Jou beleggingsrisiko is dus hoog ten opsigte van landrisiko, al het jy dit tussen verskeie Suid-Afrikaanse beleggingstipes belê. Jy moet eerstens oorsee belê om jou totale beleggingsrisiko te verlaag. Dit beteken egter nie dat jy nou ’n hoër opbrengs gaan ontvang as wat jy sou ontvang as jy slegs in Suid-Afrika belê het nie. Jou doelwit is nou risikovermindering, nie opbrengs nie. Tweedens moet jy oorsee belê omdat daar wel goeie beleggingsgeleenthede bestaan. Internasionale beleggingskundiges werk daagliks hiermee en kan goeie beleggings identifiseer. Derdens beskerm jy jouself teen ’n toekomstige daling in die waarde van die rand. Onthou, Suid-Afrika is ’n ontwikkelende land waar politieke onstabiliteit jou bates dalk oornag kan bedreig en die waarde daarvan kan halveer. Net so berokken ondeurdagte politieke uitsprake, sprake van nasionalisering, korrupsie, wanbestuur asook die ellelange lys van verskillende belastings, die land net skade.
Hoeveel moet jy belê?
Mense wat hulself in geldterme as “gemiddeld” beskou, kan sowat 20-30% van hul beleggings oorsee doen. Welaf mense kan 50% en meer oorsee belê. Dieselfde soorte beleggings bestaan oorsee as in Suid-Afrika: Daar is byvoorbeeld versekeringsprodukte, vaste eiendom, effektetrusts, aandele en tenkhouers. As beleggers kan ons dus kies en keur. Hoewel Suid-Afrikaanse beleggings nog vandag professioneel bestuur word, word ander lande nie deur berigte van wanbestuur gekniehalter nie. Beleggings word dus as veiliger beskou.
Doen jou huiswerk
‘n Onthou jy wil belê om ná aftrede finansieel onafhanklik te kan wees. n Raadpleeg verskeie bronne van inligting (banke, bestaande oorsese beleggers, internasionale makelaars soos Brenthurst Wealth Management, die internet, oorsese koerante, ensovoorts). n Raadpleeg verskeie oorsese beleggingskundiges en makelaars. n Weet waarom jy oorsee wil belê. n Bepaal jou risikoprofiel (hoe jy voel oor risiko, hetsy hier of oorsee). n Maak seker jou beleggingsdoelwitte stem met jou aftreedoelwitte ooreen. n Vermy swendelaars en wees realisties. n Besluit in watter land jy wil belê. n Besluit in watter geldeenheid jy wil belê (dollar of pond). n Besluit in watter tipe belegging jy wil belê. n Bepaal of jy goedkeuring van die Reserwebank moet kry (jy moet vir alle offshorebeleggings goedkeuring kry). n Bepaal watter vorms jy van die Reserwebank en jou eie bank moet voltooi asook enige ander vereistes. n Bepaal hoe die beleggingsmaatskappy jou geld oorsee sal belê, dienste wat gelewer sal word en hoe hulle dit sal bestuur. n Bepaal die situasie in die land waarin jy wil belê, soos politiek, godsdiens, taal, stabiliteit, sterkte van die geldeenheid teenoor die rand, belastingwetgewing (inkomste-, geskenk- en boedelbelasting). n Stel vas of die land ’n dubbelbelastingvermydingsooreenkoms met Suid-Afrika het, anders sal jy in albei lande belasting moet betaal. n Laat jou internasionale makelaar jou help om die regte tyd te bepaal waartydens jou geld na die ander geldeenheid omgeskakel moet word. n Evalueer met die hulp van jou internasionale makelaar die beleggingsrisiko in die ander land. n Bekom inligting oor die oorsese fondsbestuurder (wat jou belegging gaan belê, bestuur en selfs herbelê) se beleggingsrekord, reputasie en personeel. n Verkry inligting van die stand van die land se ekonomie . n Bepaal die land se beleggingsgeskiedenis. n Besluit hoeveel geld jy oorsee wil belê (jy kan enige bedrag onshore belê, maar slegs R4 miljoen offshore). n Wil jy ’n enkelbedrag belê (R100 000) of wil jy maandeliks belê? n Stig ’n trust as jy die geld nie in jou eie naam wil belê nie. ’n Trust is ’n regspersoon soos ’n maatskappy waarin inkomste, bates of beleggings vir inkomste- en kapitaalbegunstigdes (soos mense, organisasies of ondernemings) bestuur word. n Gebruik ’n trust as jy belasting in ’n belastingvriendelike land kan vermy – ’n land waarin geen belasting betaal word nie. n Moenie net in ontwikkelende lande (Derdewêreldlande) belê nie. n Raadpleeg jou internasionale makelaar om jou te help om ’n aparte testament vir jou oorsese beleggings op te stel.
Besoek www.moneyskills.co.za vir meer inligting oor Nico se boeke Vk