Ons geldghoeroe, Nico Swart,gesels dié week oor aandele
Hoe meer Elmarie hoor dat die buurvrou voortdurend geld in nuwe aandele belê, hoe bekommerder raak sy oor haar spaarplan by die bank. Oënskynlik verdien sy minder inkomste uit haar spaarplan, maar waar moet sy tyd kry om tussen al die werk deur ook nog aandele te koop en te verkoop? Haar dogter se skoolvriendin se ma maak blykbaar ook geld deur in aandele te belê, maar sy koop en verkoop dit glad nie, of dalk nie self nie. Wat is dan die regte ding om te doen?
Wat is aandele?
Soos wat ’n maatskappy groei, benodig dit deurgaans geld vir ontwikkeling en groei. Hierdie geld kan onder meer van die publiek bekom word deur die publiek toe te laat om in die maatskappy te belê. Die maatskappy sal eerstens hul aandele op ’n effektebeurs laat noteer. In Suid-Afrika het ons die Johannesburgse Effektebeurs, wat tans in Sandton is. ’n Effektebeurs is die mark waar dienste aan aandelemakelaars en handelaars gebied word ten einde hulle in staat te stel om verskillende soorte sekuriteite te koop en te verkoop. Jy kan natuurlik self ook direk daarin belê of daarmee spekuleer. Die beurs is sentraal geleë en verskaf ’n administrasiestelsel vir alle soorte beleggers en aandelemakelaars. Die koop en verkoop van aandele vind regoor die wêreld elektronies plaas. Daar bestaan honderde verskillende effektebeurse regoor die wêreld in talle lande, waarin daardie inwoners kan belê. Dit is natuurlik ook moontlik om in daardie lande se genoteerde maatskappye te belê. Jy verkry die opbrengs (groei en dividende) op jou belegging dan direk van jou makelaar of van die spesifieke effektebeurs waarop “jou aandele” genoteer is – in watter land ook al.
Hoe kan jy in aandele belê?
Jy kan indirek in aandele belê deur in effektetrusts/kollektiewe beleggings te belê. Hiervolgens belê jy saam met ander beleggers (kollektief) in die aandele van genoteerde maatskappye. Die risiko is laer omdat die belegging van die effektetrust (die trust) oor verskeie aandele versprei is. Die risiko kan ook hoër wees as jy in riskante aandele, in riskante maatskappye, in riskante bedrywe (mynbou, byvoorbeeld) en in riskante lande belê. Jy kan direk in genoteerde aandele belê. Tans is die risiko ook betreklik laag of versprei as jy byvoorbeeld in die top- 40-aandele belê. As jy direk in aandele belê, kan jy op twee maniere daarin belê: n met die hulp van ’n makelaar (aandele-, bank- of versekeringsmakelaar), of n jy kan self elektronies daarin belê (jy kan dan die belegging in aandele vir baie jare daar laat) – ons noem dit belegging; of jy kan die aandele koop en dit hopelik gou (binne ’n kort periode, maande of ’n jaar) teen ’n wins verkoop – ons noem dit spekulasie. Sekere makelaars sal ook namens jou met jou aandele spekuleer op grond van die ooreenkoms tussen julle. Natuurlik betaal jy dan ’n kommissie aan hulle. Onthou verder dat ’n makelaar meer moeite vir ’n groter belegging as vir net ’n paar rand sal doen. Om self daarin te belê, hetsy vir die lang termyn of vir spekulasie, verg kennis van aandele, maatskappye, spesifieke bedrywe asook die ekonomie en markbewegings – styg die mark (die aandelepryse) of daal dit?
Die geheim van ’n belegging
Die goue reël van welvaart of om beleggings op te bou, is jou kennis van die verhouding tussen geld en tyd. Hoe langer jy belê, hoe meer geld sal jy opbou vanweë die verskynsel van kapitaalgroei. Jy ontvang meer groei op jou belegging omdat jy die rente of dividende as deel van die belegging vir baie jare net daar los, hopelik sowat 40 jaar. Jy verdien dus inkomste uit jou kapitaal sowel as die rente op jou rente (in die geval van aandele – dividende op jou dividende). Hoe langer die tydperk van jou belegging in die mark, hoe groter jou uiteindelike belegging. Selfs ’n betreklike klein maandelikse bedraggie sal geweldig groei as dit vir dekades in die mark gelos word.
Belegging of spekulasie?
BELEGGING Dit beteken die aandele word as ’n langtermynbelegging gekoop. Jy as belegger hou dit vir ’n lang tydperk, byvoorbeeld 10, 20 of 40 jaar. Gedurende hierdie periode verkoop jy dit nie – tensy jou makelaar jou aanraai om liewer van ’n spesifieke aandeel ontslae te raak, of om dit met ’n baie beter aandeel te vervang. Die doel van jou belegging is dus langtermynkapitaalgroei.
SPEKULASIE Die persoon wat spekuleer, word ’n spekulant genoem. ’n Spekulant belê geld in aandele (in ons geval) met die uitsluitlike doel om wins te maak. Die spekulant stel nie in kapitaalgroei oor baie jare belang nie. ’n Aandeel kan byvoorbeeld vandag gekoop word en binne twee weke weer verkoop word. Die tydperk kan korter of langer wees. ’n Belegger koop ’n aandeel as sy/hy dink dit is onderwaardeer (dat dit meer werd is as wat die aandeel se prys is) en verkoop dit as sy/hy dink dat dit oorwaardeer is (die aandeel minder werd is as wat die aandeel se prys is). Hierdie siening geld vir sowel beleggers as spekulante.
Primêre en sekondêre aandelemark
Die primêre mark is die mark wat ontstaan sodra die maatskappy se aandele vir die eerste keer genoteer en te koop aangebied word. Die sekondêre mark is die mark wat daarna ontstaan, naamlik waar alle beleggers die aandele waarin hulle belê, by reeds bestaande beleggers koop.
Die grootte van die beleggingsbedrag
Vandag kan jy met ’n paar honderd rand in aandele belê, hetsy met die hulp van ’n makelaar of self. By die meeste banke is daar die geleentheid om in bepaalde aandele te belê. Die bank kan die gemiddelde mens in hierdie verband van groot hulp wees. As jy sou spekuleer, met ander woorde jy koop die aandele (belê daarin) om dit so gou moontlik weer te verkoop (sodra jy dink jy maak ’n redelike of groot wins op grond van die aandeleprys wat die spesifieke aandeel of aandele op die beurs behaal het), sal jy dalk so ’n bietjie meer geld benodig omdat jy dalk met meer as ’n enkele aandeel wil spekuleer. Jy moet boonop deurgaans geld hê om nuwe aandele te koop of verkoopte aandele te vervang.
Waarom in aandele belê?
Jy kan kapitaalgroei op jou belegging kry of ’n wins maak (maar ook ’n verlies). Dit kan jou welvaart verhoog mits jy die regte aandelemakelaar/s gebruik. Jy het dus die minimum kennis daarvan nodig as jy van ’n makelaar/makelaarsfirma of ’n bank/versekeringsmaatskappy gebruik maak – natuurlik sal diegene wat daarin spesialiseer meer weet en kan doen as diegene wat dit slegs as ’n verdere diens aanbied. Dit sal weer eens van die grootte van jou beleggingsbedrag afhang. Jy kan dividendinkomste uit jou aandele ontvang sodra daar dividende verklaar word.
Moet ek liewer self direk daarin belê?
Dit verg baie kennis, dissipline en motivering, maar veral tyd om kennis en ervaring oor al die duisende aspekte van die aandelemarkte en die ekonomie, verskillende maatskappye asook verskillende bedrywe te bekom. Talle skoolkinders en jongmense maak self só geld. Hulle het byvoorbeeld ’n kursus gevolg en ’n rekenaar en aandelepakket gekoop wat hulle in staat stel om met aandele te spekuleer. Hulle gebruik die tegniese benadering wat na die geskiedkundige verloop van aandeelpryse (die verlede) kyk om te bepaal watter aandele in die toekoms gekoop en verkoop moet word. Die uitgangspunt is dat die optrede van kopers/verkopers in soortgelyke marktoestande in die toekoms dieselfde sal wees. Ouers wat werk, sal dit moeilik en selfs onmoontlik vind om met die talle verpligtinge nog daarvoor ook tyd te maak. Ouer persone sal dit dikwels onmoontlik vind, hoewel talle hoogs ingeligte afgetredenes voortdurend beleggingsklubs en seminare bywoon wat hulle wel daartoe in staat stel. ’n Mens sien dit veral in die stede.
Gebruik eerder ’n aandelemakelaar of –firma
In hierdie gejaagde lewe maak dit myns insiens sin om eerder kundige mense met die nodige ervaring vir jou aandelebelegging of -spekulasie te gebruik, as wat jy self nog jare neem om te probeer uitvind watter aandele om te kies, in watter maatskappy en in watter bedryf om te belê, watter aandeleprogram om te gebruik asook wanneer om aandele te koop en te verkoop. Hulle ken al laasgenoemde aspekte, asook die ekonomie en marktoestande oor baie jare. *Skuilnaam
Nico Swart het al meer as 70 boeke oor persoonlike finansiële beplanning geskryf. Besoek www.moneyskills.co.za