Al ooit gedink jy wil jou hand aan beleggings waag? Ons geldghoeroe Nico Swart gee wenke
Fred en Annatjie Baker wonder nou al die afgelope ses maande waarin hulle moet belê, maar dit lyk vir hulle of die media elke dag van ’n ander soort belegging praat. Boonop ken hulle nie die verskillende beleggings nie. As nuwe predikantspaar luister hulle ook wat welmenende gemeentelede sê, maar self weet hulle nie hoe om tussen beleggings te kies nie. Hoe nou gemaak?
Meer oor beleggings Gesinne se finansiële situasies en behoeftes verskil aansienlik en daarom bevredig verskillende soorte beleggings verskillende finansiële behoeftes en doelwitte. In ’n vorige artikel (“Bepaal jou finansiële situasie só”) het ons gewys op die finansiële behoeftes van die gesin wat ’n mens ontdek nadat jy jul finansiële situasie bepaal het. Lesers word nou gehelp om tussen die soorte beleggings te kies om in hierdie finansiële behoeftes te kan voorsien. Onthou, jy kan net belê as jy daarvoor begroot het. As jy wil belê, moet jy eerstens jou spesifieke finansiële behoefte(s) bepaal. Die volgende stap is om die eienskappe van die verskillende soorte beleggings op grond van beleggingskriteria te vergelyk. Derdens kies jy die soort belegging(s) met die regte eienskappe om jou finansiële behoefte(s) te bevredig. Dus: finansiële behoefte = eienskappe van belegging.
Hoe vergelyk jy beleggings? Gebruik die volgende beleggingskriteria om beleggings te vergelyk en die regte belegging (met die regte eienskappe) vir jou finansiële behoeftes te identifiseer. Tussen die kriteria ontdek ’n mens die rede (doelwit) waarom jy wil of moet belê. Jou gesin se finansiële situasie en finansiële behoeftes sal bepaal watter kriteria vir jou die belangrikste is.
INKOMSTE Wil jy ’n maandelikse inkomste vanuit die belegging ontvang? ’n Jongmens moet vir kapitaalgroei belê en nie vir inkomste nie.
KAPITAALGROEI Moet jou belegging op die duur in waarde toeneem, byvoorbeeld met die oog op aftrede? VEILIGHEID VAN KAPITALE BEDRAG Wil jy die kans waag dat jy van jou geld kan verloor, in die hoop om ’n hoër opbrengs te kry?
BUIGSAAMHEID Wil jy in die toekoms van die een belegging na ’n soortgelyke belegging kan omskakel?
LIKIDITEIT Wil jy die geld in jou belegging vinnig kan opvra as jy dit vir ’n noodsituasie benodig?
BELASBAARHEID Beleggings wat ’n maandelikse inkomste bied, is jaarliks belasbaar (inkomstebelasting), terwyl dié wat kapitaalgroei bied, eers belas word sodra jy sterf óf die belegging na iemand anders (kapitaalwinsbelasting) oorgedra word.
GEMAK VAN BESTUUR Beleggings word deur kundiges bestuur. Sekere soorte beleggings, byvoorbeeld waar jy met aandele wil spekuleer, vereis baie bestuursvaardighede van die belegger/spekulant.
OPBRENGS Kies daardie belegging wat die hoogste opbrengs ná belasting en inflasie lewer. Hoe hoër die opbrengs, hoe hoër die risiko.
RISIKO Dit is die kans dat ’n verlies gely kan word. Laer risiko beteken ook ’n laer opbrengs. Jonger mense moet meer riskant belê en dié ouer as 60 minder riskant.
TERMYN VAN BELEGGING Wil jy vir drie of vyf jaar of met die oog op aftrede belê? Slegs korttermynbeleggings moet vir inkomste gekies word en langtermynbeleggings vir kapitaalgroei.
BEDRAG Wil jy R200 per maand of ’n enkelbedrag van R20 000 belê? Sekere soorte sal ’n groter bedrag vereis. TRANSAKSIEKOSTE Vra die bank of die makelaar wat die koste van die belegging sal wees.
TYDSBEREKENING Tydens aandelespekulasie is die tydsberekening van die koop en verkoop van ’n aandeel vir die belegger van groot belang.
DIVERSIFIKASIE Deur in meer as een soort belegging te belê, versprei jy jou beleggingsrisiko en is die gemiddelde risiko van al jou beleggings laer.
BEHEER Watter beheer wil jy byvoorbeeld maandeliks oor jou belegging uitoefen?
KENNIS OF BESTUURSVEREISTES Dit is baie belangrik as jy met aandele wil spekuleer of in ’n hotel of vakansieoord wil belê.
INFLASIE Belê vir kapitaalgroei om inflasie op die duur teen te werk.
BELEGGERSDOELWIT Jou doelwitte is altyd die belangrikste oorweging by die kies van ’n belegging.
Wat van aftrede? Fred en Annatjie het intussen hul finansiële situasie bepaal en ontdek dat hulle geen voorsiening vir aftrede gemaak het nie. Hulle kry ’n klein pensioenbydrae van die kerk, maar dit sal selfs ná 30 jaar totaal onvoldoende vir hul aftreebehoeftes wees. Hulle bestudeer die verskillende kriteria sorgvuldig en besluit om maandeliks vir ’n belegging in ’n uittree-annuïteit te begroot, om hierdie inkomstetekort ná aftrede aan te vul. Die eienskappe van die annuïteit pas by hul finansiële behoefte. Dit is veilig; die risiko en opbrengs is gemiddeld; die maandelikse bedrag is nie te hoog nie; inkomste en kapitaalgroei is aanvaarbaar; daar is geen bestuursvereistes nie; en dit pas presies by hul beleggersdoelwit (voorsiening vir aftrede). Die uittree-annuïteit se eienskappe: n Dis ’n langtermynversekeringsproduk. n ‘Annuïteit’ beteken ’n gelyke bedrag inkomste per maand of per jaar. n Dit is ’n aftreeproduk wat ’n inkomste ná aftrede verskaf. n Jy kan óf maandeliks of ’n groter enkelbedrag (byvoorbeeld R30 000) daarin belê. Fred (33) en Annatjie (31) gaan maandeliks R500 daarin belê. n Jy kan nie die geld vóór die ouderdom van 55 gebruik nie. Hierdie eienskap beskerm jou teen jouself en net so kan skuldeisers nie daarop beslag lê nie, selfs al word julle bankrot verklaar. n Aftrede kan in enige stadium ná die ouderdom van 55 geneem word en dan kan die poliseienaar ’n inkomste begin ontvang. n Een derde (van die totale waarde van die belegging) kan as ’n enkelbedrag geneem word. n Die eerste R315 000 kan as ’n belastingvrye enkelbedrag ontvang word (2011) en daarna word die bedrag belas. Die ander twee derdes moet gebruik word om ’n verpligte nuwe annuïteit te koop (volgens wetgewing). n Die nuwe verpligte annuïteit sal ’n maandelikse inkomste aan die Bakerfamilie verskaf (vir solank die belegging nog geld oor het of vir solank Fred en Annatjie nog lewe). n Hulle kan kies of hulle hierdie uitbetaling net tot Fred se dood (’n individuele annuïteit) of albei se dood (’n gesamentlike annuïteit) laat aanhou. n Die langslewende maat sal hierdie voordele vir ’n maksimum periode van tien jaar kan ontvang. n In slegs Fred se geval van dood, sal die maandelikse verdienste/inkomste hoër wees as wanneer dit vir al twee se lewens is. Nogtans kies hulle dit op albei se lewens sodat die langslewende darem ook geld ontvang om van te leef. n Jy moet tussen ’n tradisionele verpligte annuïteit en ’n lewende, buigsame verpligte annuïteit kies. In die geval van die tradisionele annuïteit, verval alle voordele ná Fred en Annatjie se dood – hul twee dogters ontvang geen verdere voordele nie. In die geval van die lewende buigsame annuïteit, kan die kinders wel die oorblywende voordele ontvang, net soos die ouers vóór hul dood vir ’n periode van vyf jaar. n Fred en Annatjie kies die lewende buigsame annuïteit vir boedelbeplanning en moet nou by die versekeraar, by wie hulle die verpligte annuïteit moet uitneem, aandui watter soort inkomste hulle maandeliks wil ontvang. n Die wet laat hulle toe om jaarliks tussen 2,5% en 17,5% van die beleggingsbedrag (in die verpligte annuïteit) te ontvang. Die geheim is om solank moontlik net 2,5% te neem, anders word die beleggingsbedrag in die annuïteit te vinnig opgebruik.
As jy in ’n annuïteit wil belê Raadpleeg jou bank of makelaar. Sou jy egter oor ’n naskoolse kwalifikasie van vier jaar beskik, is ’n PPS-annuïteit van Sanlam net die produk vir jou. Die opbrengs is hoër as alle ander soort annuïteite omdat die risiko wat die groep polishouers vir die versekeraar inhou, laer is. Vk Vir meer inligting omtrent Nico se boeke, besoek www.moneyskills.co.za