Ons geldghoeroe Nico Swart waarsku teen die slaggate van beleggingsvoorstelle
Lydia het pas besluit om af te tree. Sy het 20 jaar vir die staat en daarna 20 jaar as aktetikster by ’n prokureursfirma gewerk. Haar man werk steeds en haar kinders is getroud en onafhanklik. Op 60-jarige ouderdom wil sy nou haar stokperdjie beoefen – sy skilder graag. Verskeie makelaars het haar reeds gebel in verband met die belegging van haar aftreepakket. Self het sy geen idee wat om te doen nie, al voel sy skielik sommer baie ryk. Kom ons help haar om ’n paar slaggate te vermy.
Wees versigtig Die oomblik as makelaars verneem dat jy ’n pakket gaan ontvang, maak hulle afsprake met die oog op moontlike kommissie. Daar is niks mee fout nie, maar doen jou huiswerk voordat jy die dokumente onderteken. Talle professionele makelaars kan jou met jou belegging help. Moet nie slegs van die een makelaar se uitnodigingspartytjie na die ander gaan bloot omdat dit jou belangrik laat voel nie. Lydia se aftreepakket is die somtotaal van haar lewe en sy moet dit soos goud bewaar. Sy moet vir die res van haar lewe hiermee uitkom en mag dit nie verloor of verkwis nie. Pasop vir vinnig-rykwordskemas – dit is altyd “verloor-vinnig-allesskemas”.
Die slaggate
Te min inligting aan die makelaar Onthou, die makelaar verwerk die inligting wat jy verskaf en aanvaar dit as korrek. Meestal is dit nie só nie. Die gemiddelde belegger van ’n aftreepakket weet hulle nie veel van geldsake af nie, gevolglik verskaf hulle onvoldoende finansiële inligting. Dikwels dink hulle dat hulle hulself beskerm deur inligting te weerhou. Die gevolg is ’n onvolledige voorstel wat nie al jou bates, skuld, beleggings en doelwitte insluit nie.
NIE GENOEG KENNIS OOR GELDSAKE NIE
Lydia moet sorg dat sy voldoende kennis van haar geldsake het voordat sy ’n makelaar raadpleeg. As sy nie tyd en energie daarvoor het nie, moet sy die makelaar betaal om haar daarmee te help. Jy moet soveel vrae moontlik aan die makelaar vra totdat jy begryp hoe jou finansiële posisie lyk. Makelaars is professionele mense wat deur die finansiële diensteraad en talle ander organisasies beheer word. Daar bestaan ook ombudsmanne vir pensioenfondse, banke en langtermynversekeraars wat kliënte teen makelaars help beskerm.
BELEGGERS EN MAKELAARS VRA TE MIN INLIGTING
Lydia moet voldoende inligting aan die makelaar verskaf. Die vorms wat sy moet voltooi, behoort nie slegs een of twee blaaie te beslaan nie, maar minstens 8-13 bladsye. Sodoende kry die makelaar voldoende inligting om te verwerk. Net dan sal die “uitslag” van die drukstuk of beleggingsvoorstel meer volledig en toepaslik wees. Dikwels vra makelaars vir meer inligting ná die ontleding van die eerste rekenaardrukstuk. Hulle wil net help! Moet dus nooit net een of twee bladsye voltooi en jou geld blindelings daarvolgens belê nie. Die inligting wat Lydia moet verskaf, moet haar finansiële posisie 100% weergee. Sy moet genoeg tyd daarvoor hê en maak.
ONSEKERHEID OOR BEHOEFTES EN DOELWITTE
Jou behoeftes en doelwitte moet die soort belegging(s) bepaal. Sou Lydia nog 20 jaar leef, moet sy besef dat die geld vir kapitaalgroei belê moet word. Sy kan dus nie maar net links en regs bestee en dikwels oorsee gaan skilder nie. Haar kapitaalbehoefte op die duur moet met haar beleggings met kapitaalgroei, die verwagte inflasiekoers asook haar beoogde lewenstandaard ná haar aftrede vergelyk word. Sy moet begrip hê van haar finansiële doelwitte tot en met haar dood, vir sowel die kort-, medium- en langtermyn. Die makelaar kan met al hierdie belangrike finansiële berekeninge vir haar toekoms help.
DIE BELEGGINGSVOORSTEL IS ONDUIDELIK
’n Beleggingsvoorstel is die dokument wat jy van die makelaar ontvang waarin aangedui word hoe jy jou geld behoort te belê. Meestal bestaan dit uit een of meer opsies. Al het Lydia besluit om af te tree, behoort die beleggingsvoorstel haar onder meer te wys of sy reeds vroeër kon afgetree het, of sy wel kan aftree en of sy eerder in ’n later stadium behoort af te tree. Die berekeninge moet haar veral op die volgende wys: n Die maandelikse of jaarlikse inkomste wat sy tot byvoorbeeld 80 jaar benodig. n Die inkomste (vanuit kapitaal) waaroor sy vir hierdie termyn beskik. n Die tekort of oorskot per maand of per jaar. n Sou sy ’n tekort aan inkomste hê, moet die kapitaal bereken word wat sy moet bymekaarmaak om die opbrengs te lewer wat die tekort sal kan opmaak. n Die kapitaal word bymekaargemaak deur maandeliks in die een of ander belegging met kapitaalgroei te belê.
WANBEGRIP VAN DIE VOORSTEL
Dit help nie om ’n beleggingsvoorstel te teken as jy dit nie begryp nie. Dis dwaas om nie te weet waarvoor jy jou op aftree-ouderdom inlaat nie. Boonop kan jy nie weer ’n pakket bymekaarmaak nie. Die meeste mense kry nie weer werk ná aftrede nie en is óf te siek óf het nie meer die energie om van voor af te begin nie. Begrip gaan nie slegs oor die inhoud van die voorstel nie, maar ook oor kennis van die soort belegging(s) waarin belê gaan word. Sekere beleggings is riskant, ander nie. ’n Belegging wat ’n hoër opbrengs bied, hou ook ’n hoër risiko in om jou geld (jou kapitaal) te kan verloor. Ek dra kennis van talle mense wat uiteindelik hul pakket baie riskant op 65 jaar belê het, terwyl hulle geen risiko behoort te geneem het nie. Sommige het vooraf gelag vir beleggingsvoorstelle wat ’n lae, maar realistiese opbrengs aandui. Veral op grond van hul gebrek aan geldsakekennis, hul onvermoë om weer inkomste te kan genereer, asook hul wanbegrip van die belangrikheid van die neem van die beleggingsbesluit. Die beleggingsvoorstel wat Lydia gaan aanvaar, gaan haar finansiële toekoms beïnvloed en bepaal.
PROBEER SELF BELê
Niemand, ook nie Lydia nie, kan die beleggingsbesluit sonder die hulp van ’n makelaar neem nie. Boonop het basies niemand voldoende kennis om die totale besluit en die kies van die regte beleggings self te kan doen nie. Net so beskik niemand oor beleggingsprogramme wat hulle daarmee kan help nie. Daar is meestal ook nie voldoende tyd om die regte boeke daaroor te lees en te begryp nie. Daarom moet mense, terwyl daar voldoende tyd is, ’n opvoedkundige boek oor persoonlike finansiële bestuur bestudeer ten einde hulself te bemagtig.
Die algemeenste beleggingsfoute
‘n Potensiële beleggers (soos Lydia) weier meestal om hul gade se finansiële gegewens by hul berekeninge in beleggingsvoorstelle in te sluit. Die belegging moet ’n gade se finansiële situasie insluit en die invloed daarvan daarop bepaal. Baie mense doen hul aftreebeplanning (persoonlike finansiële beplanning) afsonderlik. Moet dit nie verwar met om finansieel onafhanklik te kan voortbestaan nie. n Die invloed van ’n pakket op die boedelbeplanning van al twee maats. Die invloed op erfgename sowel as op die stigting van een of meer trusts moet in berekening gebring word. Die pakketbelegging moet ook jou boedelplanne weergee en dien. n Net so moet die invloed van die beleggingsbesluit op Lydia se inkomstebelastingsituasie aangedui word. n Daar moet veral gelet word op die verandering van haar finansiële situasie indien een of meer annuïteite in die toekoms sal begin om uit te betaal (om haar ’n maandelikse inkomste te gee). Daar moet aangedui word hoe dit haar inkomstebelastingsituasie, boedelbeplanning en verdere beleggingsbeplanning kan beïnvloed. Sy moet daaruit kan aflei of haar belastingposisie gaan versleg, al dan nie.
Besoek www.moneyskills.co.za Vk