Hoe samel jy vinnig geld in vir ‘n goeie doel sonder om jouself onnodig bloot te stel? Shanda Luyt het ‘n paar vrae gaan vra. Meer inligting in ons 27 Mei-uitgawe.
Slim idees
Werk deur bestaande organisasies: Soms is daar reeds-bestaande organisasies wat geld sal bewillig om met die betaal van doktersrekeninge en so meer te help. Klop dus heel eerste daar aan vir hulp of hoor of jy saam met hulle kan werk om geld vir die spesifieke persoon se mediese onkoste in te samel.
Sosiale media: Facebook en ander sosiale media het ‘n hele nuwe wêreld oopgemaak vir fondsinsameling aangesien dit nou maklik is om op een platform ‘n groot hoeveelheid mense ingelig te hou oor die siek persoon terwyl daar vir geld gevra word. ‘n Enkele versoek kan ook letterlik binne sekondes wêreldwyd versprei word, wat ‘n oneindig groot kans vir fondsinsameling skep. Skep ‘n Facebook-blad waarin jy die situasie en gepaardgaande behoeftes uiteensit. Versoek mense om die inligting so wyd moontlik te versprei en mense aan te moedig om by die blad aan te sluit. Hou mense op hoogte van die vordering met die insameling van geld. Maak seker jy is van die begin af deursigtig oor presies hoeveel julle nodig het, waarvoor dit gebruik sal word, en ook wat julle sal doen indien daar meer ingesamel word as wat julle nodig het. En moenie vergeet om dankie te sê nie.
Gewone media: ‘n Enkele berig in die plaaslike koerant, deelname aan ‘n radioprogram of ‘n artikel in ‘n nasionale tydskrif is dikwels genoeg om ‘n hele stortvloed skenkings vir ‘n saak met meriete te genereer. Gaan klop gerus by die media aan vir hulp. Die ergste wat kan gebeur is dat jou versoek geweier word, maar dis immers vir ‘n goeie doel en joune is dalk net die storie wat hulle soek.
Skarebefondsing: Baie mense maak van skarebefondsing of ‘n kombinasie van skarebefondsing en Facebook en Twitter gebruik om geld in te samel. Skarebefondsing behels basies dat ‘n groot hoeveelheid mense tot kwessies bydrae wat hulle na aan die hart lê. Jy rig dus ‘n versoek vir ‘n spesifieke doel met ‘n teikenbedrag en spertyd. Die webblad vat ‘n persentasie van die geld wat ingesamel word. Webblaaie soos Kickstarter, YouCaring, en GoFundMe, of ons eie plaaslike www.givengain.com en www.backabuddy.co.za kan gebruik word. Sommige mense verkies om die geld vir ‘n spesifieke doel te gee eerder as vir ‘n groot organisasie, omdat hulle dan seker is hul geld kom by die beoogde ontvanger uit en word nie deur administrasie opgevreet nie.
Spesiale geleenthede: Konserte, veilings, speletjiesaande vir die gesin, 4×4-avonture en gala-aande is uitstekende maniere om geld in te samel, veral op plaaslike vlak. Die kuns hier is om nie uiteindelik meer geld aan die geleentheid uit te gee as wat ingesamel word nie. Betrek vrywilligers wat saam met jou die saak ondersteun en maak seker die geleentheid word wyd genoeg bemark. Wees versigtig vir kompetisies waar lootjies verkoop word ten einde ‘n groot prys te kan wen. As jy wel so iets oorweeg, besoek die webwerf van die Nasionale Lotery-kommissie om seker te maak jy voldoen aan hul wetlike vereistes aangesien hulle beperkinge op die grootte van die prys, die prys van die lootjies en so meer plaas.