Gabriëlskloof Restaurant wat hoog teen ‘n koppie buite Botrivier in die Overberg sit, het pas hul Skepkos Sondae wat familie-styl middagetes opdis, bekendgestel.
Maryke Roberts
Daar is min dinge so lekker soos ‘n ete met vriende en familie op ‘n lui Sondagmiddag – nog hout op die vuur, nog ‘n glas wyn, nog ‘n skeppie hoenderpastei.
Tot die einde Augustus sal elke Sondag by hierdie pragtige wyn-en-olyfplaas ‘n ander tipe familiefees bied, met sielskos wat in groot bakke en skottels hulle weg vanuit die kombuis na jou tafel sal vind. Ons smul aan varsgebakte ciabata met blomkoolsop met truffel-olie, voor die voorgereg van calamari en salmkoekies opdaag. Die Gabriëlskloof Shiraz gly so lekker af en die tafels om ons kreun van die kos.
Hoofgereg is ‘n gewigtige affêre met hoenderpastei, soetgebakte botterskorsie skywe, biefstuk, groente en oondgebakte aartappelgereg waarvan jy die lepel wil aflek. Saam met die hoofgereg probeer ons die Five Arches-versnitwyn en sleep ons brood deur die rooiwyn-jus op die bord.
“Met ons Skepkos Sondae wil ons daardie samehorigheidsgevoel van ouds terugbring en sorg dat jy hierdie winter skep-vir-skep saam met jou geliefdes in goeie kos, wyn en samesyn deel. Ons bedien ons tuisgemaakte disse in en op die mooiste, grootste borde en skottels waar gaste hulleself dan kan verlustig in tradisionele smake en disse. Jy skep, stuur aan, eet ‘n bietjie, vra weer die skottel aan en so raak die middag al hoe lekkerder,” vertel sjef Frans Groenewald, toe hy by die tafels kom groet.
Ons smul aan souskluitjies met melktert- en koeksisterroomys en gaan sit voor die kaggel met ons espressos en cappucinos.
Die Skepkos Sondae se spyskaart sal elke week verskil. Buiten die Skepkos Sondae wat R250 per persoon kos en al die geregte van die driegang familiefees insluit, vier Gabriëlskloof ook die lekkerte van die streek met koesterkos op sy nuwe A La Carte Winterspyskaart.
Die plaas se wen-wyne is net die regte manier om die lekker plaaskos te komplimenteer. Kies uit hul uitgebreide reeks wit- en rooiwyne. Bespreek by 028 284 9865 of stuur ‘n e-pos na [email protected] om jou plattelandse wintersfees saam met vriende en familie te bespreek.
Gabriëlskloof Landgoed is ‘n wyn- en olyfplaas in die Overberg en die tuiste van Frans Groenewald en sy vrou, Mariaan, se gewilde restaurant.
Tradisionele kos met ‘n kinkel.
Mariaan en Frans Groenewald by hul restaurant-span.
Die souskluitjies met melktert- en koeksisterroomys was hemels!
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.