The Restaurant at Gabriëlskloof vier vanjaar sy 10de verjaarsdag met ’n spesiale spyskaart met al die grootste treffers
Deur CLIFFORD ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die spyskaart met van die gewildste disse van dié Botrivier lekkerbek-eetplek, sal van September tot November beskikbaar wees en is onlangs met ’n spesiale verjaardagete aan gaste bekend gestel.
Gabriëlskloof Landgoed – sowat 80 minute rit van Kaapstad – is net anderkant Botrivier op die Swartrivierpad, vanaf die N2. “Dis moeilik om te glo dat tien jaar verbygevlieg het,” het die sjef patron, Frans Groenewald, wat die restaurant in 2009 saam met sy vrou, Mariaan, en mede-sjef, Juan van der Westhuizen, geopen het, by die middagete vertel. “Ons het nog in Londen gewerk, toe ons drie begin droom het om ’n restaurant soos hierdie te besit.”
Juan het ’n paar jaar gelede ander geleenthede gaan navolg, maar Frans en Mariaan het aangehou om die restaurant se bekroonde status nog blinker te poets. Deel van hul suksesresep is die vele kliënte wat mettertyd vriende geword het en baie lief is vir die restaurant se intieme Overbergse plaasstyl.
Hierdie grootste-treffers-spyskaart vier hierdie lekkerbek-reis, met ontbyt en middagete, wat beskikbaar is.
Vir die verjaardagmiddagete was daar Frans se handelsmerk tuisgemaakte Kaap-Maleise wontons; eend bourguignon; gepluisde lam waterblommetjies; gestoomde groen groente; wortel-en-rog-risotto en blomkool en eiervrug in kokosneut. Die nagereg-ster was koffie crème brûlée met whisky roomys.
Die vonkie vir Frans se kosliefde is aangesteek deur sy ouers, wat hul eie spyseniersbesigheid besit het en ook Kevin Warwick, stigter van die befaamde sjefskool naby Hermanus, waar Frans in 1998 sy kosvlerke gekry het. Hy het oorsee gaan werk, waar hy in die kombuis van Moulin de Mougins, ’n luukse hotel buite Cannes op die Franse Riviera gekook het. Hier het hy onder meer vir Hollywood glanssterre gekook, terwyl hy sy Provensaalse kookvernuf geslyp het.
Frans se kookloopbaan het ’n goeie skeut verskeidenheid en uitdagings opgelewer en sluit onder meer professionele kookwerk tot privaat-sjef-wees in. Voor hulle die restaurant by Gabriëlskloof geopen het, was hy die privaat-sjef vir die Tollman-familie, die eienaars van die Red Carnation Hotels – ’n internasionale groep vyfster boetiek-eiendomme. Hy het ook as junior sous chef by Milestone Hotel & Apartments in Londen gewerk, waar hy vir top internasionale musikante en groepe soos Westlife, Blue, Atomic Kitten en U2 se Bono gekook het. Tydens sy reise in Engeland het hy ook as direkteur-sjef by GlaxoSmithKline – ’n multi-nasionale farmaseutiese maatskappy met hul hoofkantoor in Londen – gewerk.
Vandag is hy die trotse heerser van die Gabriëlskloof-kombuis. Die restaurant beslaan ’n vleuel van die bekroonde wynkelder op die koppie en het ongerepte uitsigte van die laagliggende vallei. In die koue maande brand die reuse kaggel gesellig. In die warmer maande is die buitestoep net die plek vir lang, uitgerekte kuiers.
Geen besoek is natuurlik volledig sonder om by die proelokaal, waar jy die topgehalte, bekroonde wyne wat Gabriëlskloof Wynlandgoed ’n huishoudelike naam gemaak het, in te loer en te proe nie. Gaste kon die middagete met ’n glas Madame Lucy MCC 2017 afskop, ’n Chardonnay en Pinot Noir versnit, voor die ete saam met The Landscape Series se wit- en rooiwyne geniet kon word.
En toe almal later onwillig moet groet, was daar vir elke gas ’n sakkie uit “Neem my Huis Toe” – die die restaurant se deli, wat gaste toelaat om ’n stukkie van die Gabriëlskloof-ervaring saam te neem huis toe. Behalwe die koek-keuses en tuisgebakte brode en seisoenale kos, is daar streeks-dekor en ’n verskeidenheid aardse geskenke. Elke gas het koekies, ’n tuisgebakte brood, konfyt en ander lekkernye gekry.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.