Die Wine Valley Safari-toere is ’n heerlike manier om agteroor te sit en iemand anders die bestuurwerk te laat doen
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Daar is ’n nuwe manier om die Robertson Wynvallei te verken – geen kommer oor daardie ekstra glas wyn nie. Die Wine Valley Safari-toere is onlangs aan die publiek bekendgestel en dis ’n heerlike manier om agteroor te sit en iemand anders die bestuurwerk te laat doen.
’n Paar gaste is onlangs genooi om dié nuwe ervaring te kom meemaak. Die oulike voertuig met sy sebrastreep-kajuit is in die somer opelug en as die windjie skraal is, word die flappe afgerol en sit jy knus binne. Dis die ideale manier om van Ashton, McGregor, Bonnievale tot Robertson te kuier, jou wynvoorraad aan te vul en sommer lekker te eet.
Daar is drie roetes, die Freestyle Wine Valley Safari Hop-On Hop-Off wat elke Vrydag en Saterdag beskikbaar is en sowat 3,5 uur duur; die McGregor Village Tour wat elke Donderdag aangebied word en sowat 8 uur duur; en die Wine Appreciation Tour wat Maandag, Dinsdag en Woensdag beskikbaar is en ook 8 ure duur. Die toere wissel van R180 tot R350 per persoon.
Die voertuig vertrek uit Robertson, maar teen ’n ekstra fooitjie kan jy in Montagu ook opgelaai word. Die toere sluit nie net wynplase in nie, maar ook ander besienswaardighede, olyfplase, laventelwandelinge en selfs ’n lekker vaart op die Breërivier. Jy kan die streek se voorste Méthode Cap Classique (MCC) – Suid-Afrika se eie vonkelwyn wat in die tradisionele Franse metode gemaak word – grappa en kos by lekkerbek-restaurante geniet.
Die toergids, Andy Kama is nie alleen ’n knap bestuurder nie, maar ook opgeleide gids en vertel by elke stopplek meer van die omgewing en die dinge wat daar te sien en te doen is.