Dis nie aldag duidelik dat iemand aan alkohol-verslawing ly nie.
Ansja Ferreira
- Vir meer inligting oor funksionele alkoholiste, lees die artikel in ons uitgawe van 12 September
Sarah Allen Benton is nie jou stereotipiese alkoholis nie. Sy het ‘n meestergraad in wetenskap aan die Northeastern University in Amerika behaal en is ‘n gelisensieerde geestelike gesondheidsberader by Emmanuel College in Boston. Tydens haar herstel van alkoholisme gedurende die afgelope vyf jaar, het sy ‘n interessante boek geskryf. In die boek Understanding the High-Functioning Alcoholic: Breaking the Cycle and Finding Hope (Praeger Publishers) beskryf sy hoe hoë-funksionerende alkoholiste in staat is om ‘n gerespekteerde en selfs hoëprofiellewens te behou, gewoonlik met ‘n huis, familie, werk en vriende. Hulle slaag gewoonlik daarin om hierdie balans te behou totdat iets vreesliks gebeur wat die waarheid vir hulself en ander onthul en hulle dan dwing om ‘n behandelingsprogram te ondergaan of alles te verloor.
Alkoholisme wat nie soos ‘alkoholisme’ lyk nie
Sy beskryf dat haar boek ‘n diepgaande ondersoek van ‘n versteekte klas alkoholiste is.
“My sukses was die masker wat die onderliggende ‘demoon’ en my ontkenning gevoed het. Dit was nie voordat ek by ‘n 12-stap-herstelprogram aangesluit het dat ek in staat was om te verstaan en erken dat ek ‘n alkoholis is nie. Uiteindelik het my drinkgedrag en denke begin sin maak,” skryf sy.
Die skrywer Pete Hamill het in sy memoire A Drinking Life geskryf: “As ek in staat was om te funksioneer, in staat was om die werk te doen, was daar geen rede om oor my gedrinkery bekommerd te wees nie. Dit was deel van die lewe, een van die belonings.”
Stel só vas of jy van drank afhanklik is
Volgens die Mayo Clinic kan dit gebeur wanneer jy te veel alkohol op ‘n gereelde basis vir ‘n verlengde tyd gebruik dat jou liggaam fisiek van alkohol afhanklik raak.
Volgens DrinkIQ, ‘n globale hulpbron wat mense help om verantwoordelike keuses oor hul drinkgewoontes te maak, kan jy ‘n groter kans hê om alkoholafhanklikheid te ontwikkel as jou familie ‘n geskiedenis van alkoholafhanklikheid het.
Mense met ‘n familiegeskiedenis word ook aanbeveel om oor hierdie kwessie op te lees of dit met ‘n dokter of gesondheidsorgwerker te bespreek.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) kan hoërisiko-drinkgewoontes tot sosiale, wetlike, mediese, huislike en finansiële probleme lei. Dit kan ook jou lewensduur verminder en tot ongelukke en dood as gevolg van dronkbestuur lei. Die WGO se riglyne is twee drankies per dag vir vroue, drie drankies per dag vir mans, om nie meer as vier drankies op ‘n enkele geleentheid te oorskry nie en geen alkohol as jy onder 18, swanger is of bestuur nie.
Die Internasionale Arbeidsorganisasie skat dat tot 25% van die internasionale arbeidsmag swaar genoeg drink om die risiko van alkoholafhanklikheid te loop en dat tot 5% persent van alkohol afhanklik is. Sommige studies identifiseer beroepstres as ‘n risikofaktor vir alkoholafhanklikheid.
‘n Studie in die VSA (The State University of New York Research Institute) wys dat beroepe met die hoogste voorkoms van alkoholgebruik onder die volgende beroepsgroepe voorkom: bestuur, verkope, kuns, vermaak, sport, media, kosvoorbereiding en -bediening en gebou- en terreinonderhoud.
Nelene Flemming, ‘n lewensafrigter, verskaf die volgende vrae wat kan aandui dat jou alkoholgebruik dalk ‘n negatiewe impak op jou persoonlike, beroeps- en of sosiale funksionering het.
Ja of nee?
1. Gebruik jy daagliks alkohol?
2. Bestuur jy wanneer jy alkohol gebruik het?
3. Kry jy woede-uitbarstings teenoor jou geliefdes?
4. Is jy in ontkenning dat jy ‘n probleem het?
5. Het jy geliefdes of ‘n vriend as gevolg van alkoholgebruik verloor?
As jy ja op al hierdie vrae geantwoord het, kan neurolinguistiese programmering en lewensafrigting jou baat, sê Nelene.
Volgens Nelene kan neurolinguistiese programmering help om verslawings te bowe te kom en kan so ‘n program jou help om jou waardes te ontdek, jou rigting vorentoe duidelik te maak, jou help om jou omgewing te beheer, negatiewe emosies soos woede, hartseer, pyn, angs en vrees vry te laat, innerlike konflik te hanteer, beperkende oortuigings te verwyder en nuwe bemagtigende oortuigings te installeer, selfsliefde te bevorder, ongewenste gedrag te verander, jou selfbeeld ‘n hupstoot te gee en heel belangrikste, om jou verslawings te stop.
- Kontak Nelene by [email protected] of 082 455 8808 of besoek www.nflifecoaching.co.za