Die uitstalling is verreweg die “ernstigste” versameling werk wat Froud nóg gemaak het
Deur JOHAN MYBURG
Probeer ’n mens ’n portret van Gordon Froud saamstel, die man wat onbaatsugtig sulke diep spore in die kunswêreld in Suid- Afrika én ook buite die land trap, is die aspekte wat ter sprake kom dié van galery-eienaar, kurator, inisieerder en ondersteuner van talle kunsprojekte, kunsversamelaar, mentor, kunsdosent en kunstenaar.
Die afgelope 30 jaar of wat was dit min of meer die orde waarin hy sy talente aangebied het. Maar gaandeweg het dié orde begin skuif en vanjaar tree die kunstenaar besonder sterk op die voorgrond – sy omvangryke uitstalling met meer as 100 nuwe werke, Harmonia: Sacred Geometry, The Pattern of Existence, het pas in die Standard Bank-galery in Johannesburg begin. Dié uitstalling is verreweg die “ernstigste” versameling werk wat Froud nóg gemaak het en die kleinste werk in dié versameling, ’n glaskristal met ’n magdom stekelrige vlakke wat in die middel van die Standard Bank se sirkelvormige galery vertoon word, is dalk die dieptepunt van die uitstalling en meteen ook aanduiding van die erns waarmee hy dié uitstalling benader.
Die gebruik van glas is nie om dowe neute nie. Dit sien Froud as die kristallisering van jare se werk: van ondersoeke na en verkenning van poliëdriese vorms wat vroeër in veral oranje verkeerskegels met kabelbinders gestalte gekry het. Benewens dié kegels het Froud ook al ’n magdom ander konfigurasies ingespan – van vuvuzelas tot vonkproppe – om gestalte te gee aan wat hy “virusse” noem. Soos dit geblyk het uit die versameling werk wat hy in 2011 in die Pretoriase Kunsmuseum in die uitstalling Play Off saam met die skilder Lance Friedland vertoon het. Twee jaar later, in 2013, het Froud ’n groot solo-uitstalling in Nirox Projects in Maboneng aangebied.
LEES OOK: Kuns: Enslin du Plessis
Die humor waarmee hy sy werk benader, het reeds geblyk uit die titel van dié uitstalling: A Retrospective of Exhibitions I Never Had. Benewens gevonde voorwerpe as medium was dit humor wat die oog en hand van die kunstenaar gelei het. Maar, soos Froud sê: “Humor is geen grap nie.” Wat ek meen hy bedoel, is dat die kyker hom of haar nie deur woorde soos “erns” en “humor” moet laat mislei nie. Die twee sluit mekaar nie uit nie en in die oog, kop en hande van ’n man soos Froud word dit ’n uitdagende oefening. En een wat ’n mens deurentyd met oop oë en ’n nog oper gemoed tegemoet moet gaan, spesifiek op die uitkyk vir geleenthede waar Froud iets soos “harmonie” of “heilige geometrie” kan ontwrig met die doel om nuwe verstaansmoontlikhede te ontgin.
Heilige geometrie vind hy in die wêreld rondom hom: in die landskap (wat ook die stad insluit), maar ook in die menslike lyf en gees (of spirituele wêreld). Sy uitgangspunt is nie religieus gegrond nie, maar eerder ’n verkenning van die manier waarop geometrie deur die eeue in geloofstelsels beslag gekry het – van antieke Egipte en die Majas tot by die Joods- Christelike tradisie en Islam. Voeg daarby ook interdimensionaliteit en hedendaagse opvattings omtrent buiteruimtelike lewe. In Harmonia: Sacred Geometry, The Pattern of Existence gaan Froud verder as waartoe hy homself tot dusver toegelaat het. Benewens die koniese (en duidelik ook ikoniese) werk wat ’n mens dalk voorheen al teëgekom het, het hy vir dié uitstalling tekeninge (iets wat hy laas as student uitgestal het), grafiese drukwerk, digitale drukwerk, embossering en ook animasie gemaak.