Maak ons ’n onnodig angstige, oorbeskermde generasie groot? Shanda Luyt kyk in ons 23 Januarie-uitgawe na dié onderwerp
Shanda Luyt
Het jy as kind alleen met jou fiets na ’n vriend toe gery? Of alleen bus gery skool toe? Of ’n paar blokke skool toe gestap? Of alleen by die huis gebly?
Sal jy jou kind toelaat om dieselfde te doen? Laat jy jou graad R-kind alleen in ’n winkel instap om brood en melk te koop? Of jou laerskoolkind alleen saam met maats in ’n parkie naby jul huis speel? Of selfs net alleen in jul tuin? Doen jou kind ooit enigiets alleen, onafhanklik van jou?
Suid-Afrikaanse ouers is superbewus van hul kinders se veiligheid. Min ouers is gemaklik daarmee om hul kinders alleen skool toe te laat stap of selfs net saam met maatjies in ’n parkie te laat speel. Laat jy jou kind vir ’n tyd alleen tuis, voel jy byna krimineel. Tye het verander. Dis bloot te onveilig in vandag se samelewing. Of is dit?
Dít is die kernvraag agter die “Free Range”-beweging in Amerika, wat hulle beywer vir ’n samelewing waarin kinders net weer kind kan wees, geleenthede kan kry om “kanse te waag” en dinge onafhanklik van hul ouers te doen, soos om in ’n parkie te gaan speel saam met maats of alleen skool toe te stap.
Vermy ‘universele waardes’
Deel van die probleem is waarskynlik dat mense ‘universele waardes’ wil toepas, sonder om dit by omstandighede of unieke kinders aan te pas. Alle kinders is immers nie op dieselfde ouderdom ewe volwasse nie – waar een presies sal weet hoe om in ’n noodsituasie op te tree, kan ’n ander paniekerig raak. Net so kan dit op die platteland byvoorbeeld heel veilig wees om jou kind alleen by die supermark in te stuur om melk te koop, sodat hy met ’n breë glimlag en hope selfvertroue later daar kan uitstap, maar dieselfde aktiwiteit hou in sekere dele van die stad waarskynlik meer risiko’s in.
“Ek is van mening dat misdaad orals is,” sê Marietha Robbertse, opvoedkundige sielkundige van Centurion, wat onlangs van Wolmaransstad verhuis het, “maar kinders op die platteland is dikwels nie so agterdogtig teenoor ander mense nie. Dis moontlik omdat hulle in die kultuur grootword waar alle mense gegroet word en jy definitief jou bure ken. My ervaring hier in die stad is dat bure se kinders nie eers in jou rigting kyk nie, selfs al probeer jy hulle groet of praatjies met hulle aanknoop. Selfs in die veiligheidskompleks waar ek nou woon is dit die geval. Die ironie hier is dat kinders hier in die strate kan fietsry en speel, maar nogtans nie die bure leer ken nie.”