‘Die groot en klassieke Broadway-musiekspele is deel van my kinderdae’
Deur JOHAN MYBURG
So ’n jaar of wat gelede het die Amerikaanse sopraan Renée Fleming aangekondig dat sy haar vlerke wil sprei – wyer as wat die operaverhoog haar toelaat. “Daar is op die oomblik te veel produksies van dieselfde ou repertorium,” het sy in ’n onderhoud met The Telegraph gesê, “met regisseurs wat al harder probeer om te vernuwe en hase uit hoede te pluk en in die proses die musiek as ’n soort klankbaan te gebruik vir die storie wat hulle besig is om te vertel.” Daar was gerugte dat sy opera vaarwel sou toewuif, maar sy het dit ontken. In plaas daarvan om “af te tree”, soos sommige gemeen het sy gaan doen, het die 59-jarige Fleming in April haar Broadway-debuut in die musiekspel Carousel gemaak – wat nog op die planke is – én ’n Tony-benoeming vir haar vertolking in dié Rodgers & Hammerstein-treffer losgeslaan.
“Die groot en klassieke Broadway-musiekspele is deel van my kinderdae,” het Fleming gesê. “Ek het die rol van Eliza Doolittle twee keer vertolk terwyl ek nog op skool was. Die repertorium is so ryk en die kwaliteit van die musiek so uitstaande dat dit ’n vreugde bly om dié liedere te sing.” Dié liefde vir musiekspele blyk duidelik uit die Renée Fleming-CD wat Decca vandeesweek uitreik: Broadway, ’n viering van die bekendste liedere vir die verhoog deur komponiste soos Stephen Sondheim, Andrew Lloyd Webber, Pasek & Paul en Rodgers & Hammerstein. In dié nuwe album is Broadway-treffers ingesluit – van die 1920’s tot die hede – en talle daarvan is spesiaal vir dié opname georkestreer.
LEES OOK: Klassieke klanke: Reneé Fleming
Die treffers sluit in The Sound of Music (Rodgers & Hammerstein), The Glamorous Life uit A Little Night Music (Sondheim), Tell Me on a Sunday uit Song and Dance (Lloyd Webber/Black), Wonderful Guy uit South Pacific (Rodgers & Hammerstein), Fable uit The Light in the Piazza (Guettel), So Big So Small uit Dear Evan Hansen (Pasek & Paul) en Something Wonderful uit The King and I (Rodgers & Hammerstein). Fleming se medewerkers sluit in Rob Fisher as musiekadviseur en dirigent van die BBC Concert Orchestra, asook die jazz-musikant Christian McBride, die pianis Dan Tepfer en die Grammy-wenner David Frost as vervaardiger. Haar CD-opnames strek van volledige operas tot Lieder en van jazz tot die klankbaan vir The Lord of the Rings. Sy het vier Grammys op haar kerfstok, asook drie Gramophone-toekennings en ’n hele rits ander groot pryse in die musiekbedryf.
In 2013 het pres Barack Obama die nasionale medalje in die kunste, die VSA se hoogste eerbewys aan ’n kunstenaar, aan haar toegeken. Sy was die eerste sanger in die klassieke tradisie wat die Amerikaanse volkslied in die Super Bowl gesing het – ’n geleentheid wat deur 111 miljoen TV-kykers gesien is. Sy het by verskeie internasionale geleenthede opgetree – van die Nobelprystoekenningsgeleentheid in Stockholm tot die diamantjubileum van koningin Elizabeth II in Buckinghampaleis. Fleming is die artistieke direkteur van die John F Kennedy Center for Performing Arts asook die kreatiewe konsultant van die Lyric Opera in Chicago. Fleming het ’n ruk gelede opnames gedoen vir die komende rolprent Bel canto, waarin haar stem as die sangstem vir die aktrise Julianne Moore gebruik word. Dié prent is op Ann Patchett se gelyknamige roman geskoei waarin Moore die rol van die beroemde Amerikaanse sopraan Roxanne Coss vertolk.