Vir hul konsert in die Linder-ouditorium het die Fidelio Trio werk van Ludwig van Beethoven, Maurice Ravel en Bedřich Smetana ingesluit
Deur JOHAN MYBURG
Die Ierse Fidelio Trio het naam gemaak as een van die opwindendste en ondernemendste klaviertrio’s in Europa. Hoewel die naam van dié ensemble iets van ’n klassieke allure oproep, durf dié drietal ook dikwels opdragwerke aan, asook die musiek van hedendaagse komponiste soos Toshio Hosokawa, Charles Wuorinen, Michael Nyman, Gerald Barry, Simon Bainbridge, Judith Weir en die Suid- Afrikaner Alexander Fokkens.
In sy uitgebreide reeks CD-opnames het die trio egter musiek uit die vorige twee eeue verreken – soos dié van Camille Saint-Saëns en Maurice Ravel. Vir sy konsert vir die Johannesburgse Musiekvereniging in die Linder in Parktown volgende maand sluit die Fidelio Trio juis “ouer” werk – van Ludwig van Beethoven, Maurice Ravel en Bedřich Smetana – in. Dié konsert is deel van die trio se toer na Zimbabwe en Suid-Afrika wat van 26 Augustus tot 7 September duur. Die Fidelio Trio bestaan uit Darragh Morgan, viool; Adi Tal, tjello en Mary Dullea, klavier. Die trio was in 2011 en 2012 ook in Suid-Afrika op besoek, toe met Robin Michael as tjellis. Darragh Morgan het ’n verbintenis met Suid-Afrika wat al langer as tien jaar duur.
LEES OOK: Klassieke klanke: Daniel Boico
In 2004 was hy die solis saam met die KwaZulu- Natalse Filharmonie, onder leiding van En Shao, in die Suid-Afrikaanse première van Samuel Barber se vioolkonsert. In sy loopbaan as solis het hy onder andere saam met die Estlandse komponis Arvo Pärt aan die uitvoering van sy Tabula rasa gewerk asook in die wêreldpremière van sir John Tavener se Hymn of Dawn opgetree. Adi Tal is sedert 2014 lid van die trio. Sy het haar solodebuut op 12 saam met die Israelse kamerorkes gemaak en het sedertdien saam met dirigente soos Thomas Sanderling, Aldo Ceccato, Dan Ettinger en James Judd opgetree. Mary Dullea is soos die ander twee lede van die trio ook ’n solis wat belangstel in “nuwe musiek” oftewel musiek deur 20steen 21ste-eeuse komponiste.
Sy is sedert 2008 kurator van Soundings, ’n jaarlikse fees van nuwe musiek, ’n samewerking tussen Brittanje en Oostenryk. Op die program vir die JMS-konsert is Beethoven (1770–1827) se Klaviertrio op. 70 no. 1, die sogenaamde “Spook”-trio. In 1808 het Beethoven twee trio’s geskryf en aan gravin Marie von Erdödy opgedra. Die eerste van dié twee, in D, het ’n stadige middelste beweging wat spookagtig voorkom (vandaar die bynaam) en moontlik spruit uit voorsketse vir ’n Macbeth-opera wat Beethoven in dié tyd oorweeg het. Ravel (1875–1937) se Trio in a is in 1914 geskryf, kort voordat hy vir diens in die Eerste Wêreldoorlog aangemeld het.
Die trio het vier bewegings – Modéré, wat van ’n Baskiese dans gebruik maak; Pantoum (Assez vif), ’n tradisionele scherzo; Passacaille (Très large), ’n passacaglia waarin die melodielyn tussen die drie instrumente heen en weer aangegee word; en Final (Animé), die mees orkestrale van die vier bewegings. Smetana (1824–1884) het sy Klaviertrio in g, op. 15 in 1855 geskryf, kort ná die dood van sy oudste dogter op vier aan skarlakenkoors. Die elegiese kwaliteit van die trio is, reg van die begin af onmiskenbaar. Dié trio is ’n manjifieke voorbeeld van Romantiese uitdrukking van persoonlike tragedie.