Wat maak van dié 120 bakstene meer as net 120 bakstene?
Deur JOHAN MYBURG
Die siniese opmerking dat enigeen deesdae eintlik kuns kan maak, het in die middel-1970’s hoog opgevlam toe die Tate-galery ’n kunswerk uitgestal het wat hy in 1972 aangekoop het.
Die vet was behoorlik in die vuur toe dit bekend word die Tate het toe £2,297 daarvoor betaal – wat destyds nogal ’n taamlike bedrag moes gewees het.
Die werk wat die publiek so warm onder die kraag gehad het dat hulle onder meer briewe aan koerante gerig het, was die Amerikaanse kunstenaar Carl Andre (1935) se Equivalent VIII, gemaak in 1966, en wat sonder omhaal tot “The Bricks” herdoop is.
Die kunswerk bestaan uit 120 bakstene wat in twee lae, ses by tien stene, op die vloer uitgepak word om ’n reghoek te vorm. Dit is een van agt soortgelyke rangskikkings (vandaar die verwysing na agt in die titel van die werk). “Equivalent” omdat al 12 stene dieselfde hoogte, massa en volume het en derhalwe ekwivalente van mekaar is.
Daar was mense wat geglo het die Tate is “ingedoen”. ‘n Stortvloed briewe en beledigings het die Tate-bestuur bereik en mense het onder meer gesê hulle sou 120 stene teen heelwat minder by die Tate kon aflaai.
Enigeen kan mos 120 stene neffens mekaar uitpak. Maak dit die stene nou die prys werd as ’n kunstenaar dit uitpak? Dit was die soort aanmerkings wat gemaak is.
Een kunstydskrif het in redaksionele kommentaar sy lesers daarop gewys dat dit “oor ’n paar dekades as gemors gereken sal word”.
LEES OOK: Die kuns van niksdoen
By monde van sy kurator Richard Morphet het die Tate volgehou dat “Andre mettertyd as ‘n belangrike kunstenaar van sy tyd gereken sal word”.
Veertig jaar later word Equivalent VIII inderdaad gereken as ‘n goeie voorbeeld van Minimalisme, ’n estetiese ingesteldheid wat in die 1960’s veral in die VSA hoogty begin vier het.
Wat maak van dié 120 bakstene meer as net 120 bakstene?
Die sleutel lê juis in die oogmerke van die Minimalisme. Ná die bravade waarmee die Abstrakte Ekspressionisme die persoonlikheid van die kunstenaar met elke enkele daad benadruk het – alles wat die kunstenaar gedoen het, was ‘n aanduiding van die kunstenaar se subjektiewe blik van en op die wêreld – wou die Minimalisme hiervan wegkom. Alle persoonlike verwysings, alle verwysing na simbolisme of allegorie is tot op die been weggesny. Al wat oorgebly het, was die voorwerp self. Soos in dié geval die stene.
Kan ‘n mens meer eenvoud kry as om 120 stene, wat niks besonders is nie, in ’n reghoek te pak?
Beskou ’n mens Equivalent VIII buite dié konteks is dit gewoon ’n spul stene. Maar dan is die gedagte van konteks in elk geval teen dié tyd geen vreemde konsep nie. Male sonder tal het dit in dié rubrieke al geblyk dat konteks ‘n onontbeerlike bestanddeel van kuns is.
Eweso kan ’n mens redeneer dat 30 bekwame rugbyspelers op ’n tennisbaan met twee rakette en ’n tennisbal geen opwindende rugbywedstryd kan lewer nie. Trouens, hulle kan nie eens ’n vrot rugbywedstryd lewer nie. Sonder die konteks is hulle bloot mans met stewels wat dalk ’n tennisbaan kan beskadig. Dit is al.
Inderdaad kan enigiemand 120 stene in ’n reghoek pak.
Wat Carl Andre daarmee vermag het, is nie iets wat enigiemand hom kan nadoen nie.