Enkelouergesinne is vandag niks ongewoons nie, maar hoe kry jy die ander ouer meer betrokke? Luisa van der Linde kyk na dié kwessie in ons 27 Februarie-uitgawe. Hier is meer inligting oor langafstandouerskap
Luisa van der Linde
Langafstandouerskap
Ouers wat ná ’n egskeiding ver van hul kinders af bly wil soms meer betrokke wees en weet nie altyd hoe nie.
Wanneer jy as ouer baie ver van jou kinders af weg is, mag die verhouding dalk, sonder dat jy dit bedoel, meer formeel raak omdat tyd saam lank vooraf beplan moet word. Die spontane oomblikke wat jy saam met jou kinders bestee, raak minder omdat jy nie by hul dag-tot-dag-aktiwiteite betrokke is nie.
Die kinders sien baie keer noodwendig minder van jou as die ver ouer se familie.
Divorcehelp het wenke vir ouers wat ver van hul kinders af bly om meer betrokke te kan wees.
Wenke
• Hou aan kommunikeer. Wanneer mense in dieselfde huishouding woon is dit relatief maklik om te kommunikeer. Jy weet wanneer jou kinders se hare gesny word, wie hul vriende is en watter stokperdjies hul graag beoefen.
• Al word jy kwaad omdat daar dalk min inligting van die ander ouer se kant af kom, hou aan om belang te stel in jou kinders se lewe.
• Vra jou kinders uit oor die volwassenes wat in hul lewe betrokke is (die au pair, die naskooltannie, die rugbyafrigter, die bure en mense by wie die gesin gaan kuier).
• Leer ken die name van jou kinders se maats.
• Vra uit oor huiswerk en buitemuurse aktiwiteite.
• Moenie wag tot jou kinders met jou kontak maak nie. Gesels eerste via e-pos/Whatsapp/selfoon. Jou kinders bedoel dit dalk nie persoonlik as hulle jou min kontak nie, hulle is dalk net nie gewoond daaraan nie.
• Wees stiptelik. As jy sê jy gaan epos stuur of bel, doen dit. Hou altyd by jou woord. Niks kom by gereelde, voorspelbare, positiewe kontak met jou kind nie.
Die sielkundige dr Daniel Swerdlow-Freed stel voor
• Stuur vir jou kinders foto’s van jou werksplek, jou nuwe woonbuurt en plekke wat jy besoek.
• Betrek jou kinders sover moontlik by vakansies wat jul saam gaan hou. Vra hulle watter plekke hulle wil besoek en by wie hulle graag wil kuier.
• Probeer om jou kinders vrae te vra wat meer van ‘n antwoord as net “ja” of “nee” uitlok. As jy weet jou kinders is besig om aan ‘n taak te werk, vra of hulle genoeg prente het om die taak te voltooi en of jy kan help om inligting te soek.
• Moet nooit die tyd wat jy met jou kinders deurbring gebruik om hulle uit te vra oor die ander ouer en wat hulle doen nie.
• As jy baie ver woon, kry Skype om te gesels.
• Wanneer julle sukkel om te kommunikeer kies ‘n tema en probeer ‘n gesprek daar rondom bou. Kyk byvoorbeeld dieselfde TV-program en gesels ná die tyd daaroor. Of as jou kind belang stel in skaak, speel aanlyn teen hom.
• Waak daarteen om net negatiewe kommentaar te lewer. As dit nodig is dat jy met jou kind oor iets raas, balanseer dit uit met positiewe kommentaar oor wat JOU KIND wel regkry.
Raad van enkelouers
Ingrid: Neem jou kinders ná die egskeiding na ‘n sielkundige te speel oop kaarte met hulle sodat hulle nie onkant gevang word nie. As ek vandag terugkyk na ons kinders, sal mens nie sê hulle was in ‘n gat nie. Ek en my eks gebruik hulle nie as tools in ‘n fight nie. Ons maak seker hulle besef ons is albei baie lief vir hulle al is ons nie meer ‘n paartjie nie. Hulle het ons albei se respek en ondersteuning, kry baie liefde en aandag en hulle blom!
Vicky: Ek het geen berou dat ek besluit het om my kind alleen groot te maak nie. Ek kan nie voorstelle aan iemand anders maak nie, elke ouer se omstandighede is uniek. My broer is ‘n sielkundige. Toe ek swanger was, het hy vir my gesê dis beter om ‘n gesonde en heel enkelouer te wees as om ‘n kind bloot te stel aan twee gebroke individue.
Lorinda: Aan al die mammas, maak seker die helfte van alles is op jou naam, of jy nou buite gemeenskap van goedere getroud is of nie. Hofsake neem vir ewig en dit is baie duur. Vir mammas en pappas, hou op om mekaar te probeer spite … Daar is ‘n rede hoekom julle skei en doen dit so gou as julle kan. Om die proses uit te rek is net moeilik vir almal.
Slot
Gedeelde ouerskap is moeilik maar moontlik. Jul kinders moet altyd besef dat hulle veel belangriker is as enige konflik wat daartoe gelei het dat die huwelik eindig. Hulle moet verseker word dat albei van julle se liefde nooit sal vergaan nie, ten spyte van veranderde omstandighede.
Gedeelde ouerskap gaan nie oor jou of jou eks se gevoelens nie, maar oor jou kind se geluk, stabiliteit en toekomstige welstand.
Meer inligting
Lees ook: Geskei – en die kinders deur Thomas A Whiteman
http://www.divorcehelpforparents.com/long-distance-parenting.html
http://www.drswerdlow-freed.com/articles/supporting-long-distance-father-child-relationships/
http://www.helpguide.org/articles/family-divorce/co-parenting-tips-for-divorced-parents.htm