Die jaarlikse Elgin Cool Wine and Country Food Festival is onlangs gehou
Woorde en foto’s: Maryke Roberts
Dié gebeurtenis is deur die Rola Motor Groep op Somerset-Wes geborg. Al die wynplase in die vallei rondom Grabouw het deelgeneem en verskeie aktiwiteite saam met wyn- en kosproeë is aangebied.
Die deelnemende plase was Almenkerk Wynlandgoed, Arumdale & Robin Hood Legendary Wines, Belfield, Charles Fox Wines, Corder Family Wines, Elgin Ridge, Elgin Vintners, Hannay Wines, Highlands Road Wines, Iona, Oak Valley, Oneiric Wine Estate, Paul Cluver Wines, Paul Wallace Wines, Shannon Vineyards en South Hill Vineyards.
Die fees geskied oor twee dae om gaste soveel moontlik geleentheid te gun om by verskeie plase uit te kom. Daar is rooi, wit en MCC te proe en self appelsiders kon geniet word.
LEES OOK: ’n Wyntjie met jou naam op
Besoekers kon om die damme, vleie en swembaddens ontspan, by uitkykpunte oor die valleie staar en die Franse spel, boulle of die Engelse croquet gespeel het met ‘n glas bekroonde wyn in die hand.
By sommige plase was daar lewendige musiek en vermaak vir die kinders, by ander kon jy net asemskep en aan tuisgemaakte koek smul.
Die area is bekend vir hul koeler klimaat wyne en ryg jaarliks die trofees en pryse by wynkompetisies plaaslik en oorsee in.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.