Die Elginvallei het onlangs die afsluiting van die 2016 oes met ‘n Elgin Cool Wine and Country Food-fees gevier. Elkeen van die deelnemende wynkelders in die Elgin-vallei het hul eie aktiwiteite, kos, vermaak en proeë aangebied.
Maryke Roberts
Die vallei is bekend vir sy pragtige uitsigte. Dit is die koelste wynstreek in Suid-Afrika met sy hoë ligging en klimaatstoestande wat die druiwe stadiger laat rypword.
Gaste het hul proeglas en kaart van die vallei by Peregrine Padstal opgetel, voor die ontdekking begin het. Ons het die dag afgeskop met ontbyt by die kostrok, Jack Rabbit en ‘n wynproe by Belfield met eienaars Mike en Mel Kreft, waar die drie rooiwyne, Magnifica, Aristata en Syrah, almal ewe fluweelagtig in die keel afgly. Belfield het net 2, 5 hektaar onder wingerd en is een van die kleinste wynplase in die land.
By Almenkerk proe ons van die ouer oesjare witwyne saam met Joris van Almenkerk, wie se passie vir sy wyne aansteeklik is.
Ons skuif egter aan na Elgin Ridge, waar daar wen-organiese wyne op ons wag. Eienaar Marion Smith laat ons van haar wyne proe en vertel: “Ons doen enigiets wat ander boere doen; net sonder chemikalieë. Die plaas het ‘n perd wat die lande en wingerde omploeg, hier is Dexter-koeie en meeste van die groente wat julle vandag eet, kom uit ons eie groentetuin.” Hulle is die enigste gesertifiseerde organiese Pinot Noir-kweker in die land. Marion is baie trots op haar MCC, genaamd, MV (Marion Vineyards) wat met pragtige verpakking spog en droog en verfrissend is.
Ons maak ‘n draai by Iona en geniet die pragtige uitsig van die plaas se bekende Sauvignon Blanc.
Ons laaste stop vir die dag is Paul Wallace, wat bekend is vir hul sjokolade en wynproe. Die Belgiese sjokolade is perfek gepasmaat met onder meer die Black Dog Malbec, Brave Heart Pinor Noir, Crackerjack (Bordeaux-versnit) en Little Flirt Sauvignon Blanc. Paul en Nicky het die 25 hektaar-plaas in September 2003 gekoop; die appelboorde uitgetrek en begin wingerde – Sauvignon Blanc, Malbec en Pinot Noir – plant.
Die ander wynplase wat deelgeneem het, was Arumdale & Robin Hood Legendary Wines, Charles Fox Wines, Corder Family, Elgin Vintners, Hannay Wines, Highlands Road, Oak Valley, Oneiric, Paul Cluver, South Hill en Sutherland Vineyards and Moya Meaker @ Terra Madre Food Barn.
Vir meer inligting oor die lede van die Elginvallei Wyngilde, besoek www.elginwine.co.za.
Mike en Mel Kreft van Belfield waar die drie rooiwyne, Magnifica, Aristata en Syrah, ewe maklik afgly.
Dit het gekook by Almenkerk.
Eienaar Marion Smith en Emy Matthews, bemarking en verkope, van Elgin Ridge met die landgoed se heerlike MV MCC.
Die keuses by Iona is vir wit- en rooiwynliefhebbers nogal moeilik, want almal is uitstekend.
Sjokolade en wyn om die fees mee af te sluit by Paul Wallace saam met Bobby, Nicky en Paul Wallace. Bobby is tans ‘n finale jaar wynmaakstudent.
SOURCES
Maryke Roberts