Die koms van Edward Elgar was vir Engeland manna uit die hemel
Deur JOHAN MYBURG
Meer as die ander kunste, soos byvoorbeeld die skilderkuns of die letterkunde, het musiek ’n nouer band met patriotisme en selfs nasionalisme – asof musiek die nasionale strewe soveel meer en beter as beeld en woord oordra.
In hierdie rubrieke is reeds na Giuseppe Verdi en Gioachino Rossini verwys wat die Italiaanse psige met hul operas aangegryp het. Teen die einde van die 19de eeu was nasionalisme vurig aan die vlam in Europa en al wat ’n land is, het die vlag van nasietrots laat wapper. Met orkesgeskal. Behalwe in die land sonder musiek. Dit is soos ’n Duitse kritikus Engeland vroeg in die 20ste eeu beskryf het: “Das Land ohne Musik.” Ná die dood van die Barok-komponis Henry Purcell in 1695 was Engeland vir net meer as twee eeue “sonder musiek” en sonder ’n toonaangewende komponis wat ook in die buiteland roem verwerf het. Engeland het wel George Frideric Handel as sy eie komponis aanvaar, maar dié is in Duitsland gebore.
Die koms van Edward Elgar was vir Engeland dus manna uit die hemel. Eiehandig het Elgar met sy grootse benadering tot romantiese musiek nie net Engelse musiek weer in ere herstel nie, maar kort voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog ook weer patriotisme ’n hupstoot gegee. Dink maar aan sy Pomp and Circumstance-marse, veral die No. 1 met die koorgedeelte, “Land of Hope and Glory”. Dit was glo koning Eduard VII wat Elgar gepor het om ’n melodie vir AC Benson se teks te kry. Die koning het gemeen dit kan tot ’n grootse lied lei. En die koning was nie verkeerd nie. Hoewel “God Save the Queen” die amptelike volkslied van Brittanje is, is daar ’n groeiende (patriotiese) gevoel dat “Land of Hope and Glory” as die Engelse volkslied aanvaar moet word – soos wanneer Engeland vir ’n rugbywedstryd uitdraf.
LEES OOK: Klassieke klanke: Maurice Ravel
Met sy Enigma Variations het Elgar in 1899 op 42 sy stempel afgedruk. Elk van die 14 variasies verteenwoordig ’n karakter: dié van Elgar, sy vrou, vriende en kollegas. Van dié variasies is die adagio, Nimrod, seker die bekendste. Nietemin was dit met ’n minder populêre werk, en een wat deesdae gans te min gehoor word, waarmee hy in 1900 die musiekwêreld regop laat sit het. Sy Dream of Gerontius, geskoei op ’n teks van kardinaal John Henry Newman, is ’n lywige werk in twee dele en een wat die Anglikaansgesinde Engeland dalk ’n bietjie verras het – Elgar was Rooms-Katoliek.
Dit is kortliks die verhaal van Gerontius (afgelei van die Grieks vir “ou man”) wat sterwend is en deur sy vriende in gebed ondersteun word. Hy sterf en word wakker in ’n plek sonder ruimte of tyd waar die Engel hom begelei. Hy kry vir ’n oomblik God in die oog en daarmee saam die gerusstelling dat hy eenmaal die glorie van God sal smaak. Benewens ’n volle orkes maak Elgar in Gerontius van drie kore, soliste en ’n orrel gebruik – wat ’n magistrale teenwoordigheid aan dié werk gee. Van The Dream of Gerontius is die 1964-opname met John Barbirolli steeds ’n uitmuntende weergawe, juis vanweë Janet Baker se vertolking van die Engel. In 1971 het Benjamin Britten ’n opname gemaak, op die spoor van Elgar se vereistes en derhalwe met groter dramatiese impak. In dié opname sing Peter Pears die rol van Gerontius en Yvonne Minton dié van die Engel.