Kenners sê verhoudings tussen hierdie persoonlikhede kan wonderlik en vervullend wees, maar insig, kommunikasie en kompromieë is noodsaaklik
Ansja Ferreira
Hy is ’n ekstrovert en jy ’n introvert. Aanvanklik het die verskille tussen julle mekaar aangetrek, maar nou begin daar probleme kop uitsteek. Hy wil elke naweek vriende oornooi vir ’n groot kuier en jy wil graag alleentyd by jou gesin deurbring.
Hy praat oor sy gevoelens wanneer dinge hom pla en jy onttrek jou. Hy praat baie wanneer julle tussen mense is en wanneer daar nog ekstroverte in die geselskap is, vind daar dikwels ’n “magstryd” plaas oor wie die pittigste sêding kan kwytraak. Die introverte en stiller mense in die geselskap het nie veel kans om hul standpunte te lug nie.
Jy skryf maar eerder jou gevoelens in jou dagboek of hou dit vir jouself. Hy kan ook glad nie verstaan as jy van die werk af kom en jy eers net ’n bietjie alleen wil wees, terwyl hy dadelik oor die dag se gebeure wil begin praat nie.
Mariana Muller, ’n lewensafrigter gee die volgende wenke
’n Introverte kliënt het ’n kompromie met haar man aangegaan om Vrydagaande vriende oor te nooi en Saterdagaande was gesinstyd. Introverte moet die belangrikheid insien van die stimulasie wat ’n ekstrovert uit mense om hom of haar put. Aan die ander kant moet ’n ekstrovert ’n introvert se hunkering na privaatheid en persoonlike ruimte in ag neem.
’n Introvert kan ná werk by die huis kom en tyd nodig hê om te herlaai, terwyl ’n ekstrovert die dag se gebeure wil deel. Die introvert kan dan onder druk en die ekstrovert verwerp voel. Gee dan eers die introvert die nodige “herlaaityd”. Die introvert is daarna by magte om die ekstrovert onverdeelde aandag te gee.
As iets gebeur wat op konfrontasie kan uitloop, moet introverte en ekstroverte bereid wees om ’n verandering te maak.
Hoewel dit vir die ekstrovert moeilik is om stil te bly en nie dadelik te wil oplossings vind nie, moet hy of sy leer om eers stil te bly – moontlik ’n dag. Die introvert moet dan bereid wees om ná die gegewe tyd oor die situasie te kommunikeer.
Willard F. Harley, skrywer van die boek Sy behoeftes, haar behoeftes sê dat elke paar 15 uur per week aan mekaar moet afstaan en mekaar onverdeelde aandag moet skenk.
Meer inligting
Kontak Mariana by 083 658 6299 [email protected]
Besoek haar webwerwe by www.thebmisolution.co.za en www.beatitudomaximelifecoaching.co.za