Dié veltoestand kan jou tot raserny dryf, maar daar is hoop
CHRISTA SWANEPOEL
Ekseem is ’n toestand wat die vel aantas. Dit laat jou jeuk en krap en dryf jou byna tot raserny. Dis onooglik. Dit skrik mense af. Dit maak jou moedeloos en depressief. Maar daar is goeie nuus en daar is hoop: ekseem kan suksesvol behandel en bestuur word. Só sê Regina Malan in haar boek Ekseem – Jou noodsaaklike gids. Sy gee verder raad:
DIE SNELLERS VIR ’N OPVLAMMING
Dit verskil van mens tot mens. Hoe beter jy verstaan wat jou ekseem teweeg bring, hoe effektiewer kan jy ’n opvlamming voorkom. Die volgende kan snellers vir ’n ekseemopvlamming wees: Stres en emosies soos woede, vrees en bitterheid, hormoonskommelings en histamien.
Allergene sluit in:
- Dieet, soos neute, eiers, melk, graan en sojaproteïen.
- Bloedsuiker wat verhoog en die immuunstelsel verswak.
- Huisstofmyte
- Hare en velafskilferings van troeteldiere soos katte en honde
- Stuifmeel van bome, blomme en gras
- Skimmel
- Sommige medisyne
BEHEER DIT SÓ
Regina sê watter lewenstylaanpassings jy kan maak om ekseem te beheer.
IN EN OM DIE HUIS
Rondom die huis
As jy kan, koop ’n huis wat nie naby ’n sterk geïndustrialiseerde gebied is waar fabrieke rook- en ander besoedeling die lug instuur nie. Ook klammerige vleigebiede is nie ’n goeie opsie nie. ’n Huis wat min sonlig kry, kan ’n teelaarde vir muf en skimmel wees. Plant ook plante wat nie baie stuifmeel afgee nie. Kry dus ’n huis wat sonlig inlaat, maar koel is, omdat hitte die bloedvate laat swel en jeuk veroorsaak.
Binne-in die huis
Gebruik so min moontlik materiaalstofferings en drapeersels. As jy gestoffeerde meubels het, stofsuig dit weekliks. Gordyne moet een maal per maand skoongemaak word. Geverfde mure met wasbare verf is verkieslik bo muurpapier omdat dit gewas kan word. Die beste vloeroppervlak is gladde, gepoleerde hout, keramiek, viniel en marmer.
Troeteldiere
Hulle veroorsaak nie regstreeks ekseem nie. As jy allergies vir dierehare en -velafskilfering is, kan dit wel ekseem vererger. Katte is ’n groter allergie-risiko as honde. Daar is trouens gevind kinders wat in huise met honde grootword, ’n geringer kans het om ekseem te ontwikkel. Jy hoef dus nie van jou diere ontslae te raak nie, maar hou hulle van die meubels en beddens af en was hul beddegoed gereeld. Ekseemlyers moenie marmotjies aanhou nie omdat hul velafskilfering besonder irriterend vir ekseemvelle is.
Skoonmaakmiddels
Dis belangrik om skoonmaakmiddels te gebruik wat nie jou vel irriteer nie. Chemikalieë is die grootste sondaars. Bestanddele soos formaldehied, chloor en ammoniak moet heeltemal vermy word. Maak jou eie skoonmaakmiddels of gebruik natuurlike skoonmaakmiddels. Gelyke hoeveelhede suurlemoensap of asyn en water is goed, en as jy koeksoda byvoeg, kan dit as skropmiddel gebruik word. Gewone mielieblom kan gebruik word om vensters te was en matte skoon te maak terwyl olyfolie met ’n bietjie suurlemoensap as meubelolie gebruik kan word. Dra altyd handskoene as jy huistakies verrig.
Wasgoed
Dis veral die reslaag van die seep en versagters wat op die wasgoed agterbly wat die probleem is. Laat die wasgoed twee keer deur die spoelsiklus gaan om die meeste oorblyfsels te verwyder. Jy kan ook asyn by jou afspoelwater voeg. Kies ’n natuurlike wasmiddel wat vir sensitiewe velle geskik is of wat as hipo-allergenies aangedui word.
Handskoene
Dit bly die nommereen-produk om jou hande te beskerm. Dra skoon katoenhandskoene wanneer jy nie met water werk nie en lateks- of plastiekhandskoene as jy met water werk.
PERSOONLIK
Klere
Jou klere lê teen jou vel. Die materiaal waarvan klere vervaardig is, is dus belangrik. Wol en wolverwante stowwe se tekstuur is te grof. Dit kan die vel irriteer en penetreer. Boonop vang dit maklik stof, stuifmeel en velafskilferings vas. Ligte stowwe wat “asemhaal” en gladde vesels het, soos katoen, is verkieslik. Sintetiese stof soos nylon is wel lig, maar dit haal nie asem nie en laat ’n mens sweet. Sy is weer heerlik glad, maar dit bevat die proteïen serisien, wat ’n allergeen is. As jy warm kry en sweet, kan dit die jeukende uitslag vererger.
Slaap
Onderbroke slaap takel ’n mens af en ekseemlyers sukkel juis snags baie met die gejeuk wat met ekseem gepaardgaan. Te min slaap veroorsaak baie stres, wat wel die inflammatoriese response van die vel kan aanhelp. Bad net voor slaaptyd en wend die nodige bevogtigers aan. Dra gladde, los slaapklere en maak vensters oop sodat die kamer koel is. Hou jou vingernaels kort sodat jy nie skade met ’n gekrap in die nag aanrig nie. Jy kan ook met katoenhandskoene slaap om jou teen die gekrap te beskerm. Melatonien is ’n hormoon wat slaap bevorder en ekseemlyers se liggame het dikwels minder melatonien as ander mense. ’n Melatonien-aanvulling kan dus help om slaap teweeg te bring. ’n Warm, natuurlike drankie soos kamilletee of warm melk met heuning voor slaaptyd kan ook ’n rustiger nagrus aanhelp.
Oefening
Die grootse probleem met oefening is die swetery wat daarmee saamgaan. Die verlies aan vloeistowwe droog jou vel uit en die natrium in jou sweet kan jou vel irriteer en dit laat brand. Jou veltemperatuur skiet ook die hoogte in wanneer jy oefen en die hitte kan die gejeuk ondraaglik maak. Dit beteken nie dat oefening taboe is nie.
Tref net die volgende voorsorgmaatreëls:
- Dra los, gemaklike katoenklere in plaas van stywe klere wat van sintetiese stowwe gemaak is.
- Hou ’n handdoek gereed om sweet gereeld af te vee. Jy kan ook ’n spuitbottel met velsproei byderhand hou om tussenin af te koel. Maak ’n natuurlike velsproei met mineraalwater, ’n klein bietjie appelasyn en ’n paar druppels vlugtige olie.
- Smeer ’n dunner vogmiddel aan voor jy gaan oefen, want ’n dik room absorbeer moeilik en kan maak dat jy sweet.
- Stort of bad ná die oefensessie om van alle sweet op die veloppervlak ontslae te raak. Gebruik dan ’n dikker vogmiddel.
- Kies ’n oefening wat nie nadelig vir jou vel is nie. Oorweeg stap, tuinmaak, swem en joga.
Sonbrand
’n Sonbrand verbeter soms ekseem, maar te veel son is skadelik vir jou vel. Dit is goed om daagliks voor tienuur soggens en ná drieuur smiddae vir tien tot twintig minute sonder beskerming in die son te wees omdat ’n mens broodnodige vitamien D deur sonlig inkry. Die basis van jou sonskermmiddel is belangrik. Sommige middels het ’n chemiese basis wat ekseem vererger. Baie ekseemlyers verkies ’n sonroom met ’n minerale basis. Toets dit eers op ’n klein deeltjie onaangetaste vel en los dit vir 24 uur aan.