Daar is min van ons wat nog nie letterlik onder spierspasmas gebuk gegaan het nie. Kenners kyk na die oorsake en wat ons daaraan kan doen
CHRISTA SWANEPOEL
“Spierspasmas is algemeen, maar kan ’n dramatiese uitwerking op die lyer se lewenstyl hê. Doodgewone take soos om in die bed te klim en op te staan, wasgoed te was of te bestuur, kan uiters pynlik en moeilik wees. As dit nie opklaar nie, kan dit jou werk beïnvloed en jou ’n klomp geld kos. Daarby is dit emosioneel dreinerend en die aanhoudende pyn kan jou depressief en angstig maak,” sê dr Lervasen Pillay, ’n algemene praktisyn van Johannesburg, met ’n belangstelling in spierskelettoestande.
SPIERSPASMAS EN SPIERSKELETALE PYN IN ’N NEUTEDOP
- Spierskeletafwykings affekteer die bene, gewrigte, senings en ligamente of ’n kombinasie daarvan.
- Die algemeenste simptome is pyn, wat van matig tot erg wissel.
- Die hoofoorsaak is beserings.
- Die meeste mense ervaar laerug- of nekpyn. Na raming ly ses uit tien mense aan nekpyn en agt uit tien aan laerugpyn.
- Spierskelettoestande wat daartoe kan lei dat jy van die werk af moet wegbly, is gewoonlik weens ooreising soos om goed op te tel, te stoot, te trek, te dra of te draai en dit lei gewoonlik tot laerugpyn.
- Mense wat lank voor rekenaars werk, sal dikwels met pyn in die nek, rug en skouers asook in die hand en elmboog sukkel.
- Sport en oefeninge se herhalende bewegings, intensiteit, ooreising en direkte beserings kan tot spierskeletale pyn in verskeie dele van die lyf lei. Onder Suid-Afrikaanse sportlui ly twee-derdes van ouer swemmers, agt uit tien adolessente krieketspelers en meer as 90% van hokkiespelers aan spierskeletale pyn.
- Spierskeletale pyn belemmer normale daaglikse aktiwiteite en hoe langer die pyn aanhou, hoe groter is die kans dat die lyer depressie en angs sal ondervind.
- Die behandeling behels gewoonlik ’n kombinasie van pynstillers, anti-inflammatoriese middels, spierverslappers, fisioterapie en oefeninge.
- Die gebruik van spierverslappers om die simptome van akute spasmas te verlig, kan herstel bespoedig.
BEHANDELING
Die behandeling met pynmedikasie, anti-inflammatoriese middels, fisioterapie en biokinetika is alles om krag, balans en fiksheid te herstel, sê dr Lervasen. Die probleem is dat sommige mense afhanklik raak van die medikasie en die pynpille en anti-inflammatoriese middels het dikwels newe-effekte. Dis wanneer ’n spierverslapper goed te pas kom, want dit verlig die spasma, pyn en drukking op die senuwee. Dit verhaas die herstel, en voorkom langdurige pyn. ’n Spierverslapper wat vinnig werk, laat die fisioterapeut of biokinetikus toe om doeltreffender behandeling in ’n korter tyd te doen. As jy een van die ongelukkiges is, vra jou dokter daaroor sodat jy spoedig weer met jou normale take kan voortgaan.
WAAR KOM DIT VANDAAN?
- Werkverwante pyn Laerugpyn en ander spierskeletale toestande ontstaan by die werk weens ooreising of as ’n mens lang tye in een posisie sit. Die gewrig, skouer en selfs jou rug kan beïnvloed word deur die aanhoudende gebruik van die muis of deur aanhoudend te tik. Dis daarom ook nie vreemd dat driekwart van mense wat weens rugpyn van die werk af wegbly, kantoorwerkers is nie. Take waar die nek of ander gewrigte aanhoudend gebuig moet word, skielike bewegings, om lank in dieselfde posisie te sit of om langer as ’n halfuur te moet staan, kan die risiko van spierpyn verhoog.
- Sport Soos ’n mens kan verwag, beland baie sportmense by die dokter weens spierbeserings. Herhalende bewegings, strawwe oefening, ooreising en direkte beserings kan almal tot spierskeletale pyn in verskeie dele van die liggaam lei.
- Kinders en adolessente Kinders moet van jongs af geleer word om die regte bewegings uit te voer en die regte postuur te hê, want die meeste gevalle waar kinders met spierprobleme sukkel, is weens hul swak postuur en die aanhoudende gebruik van rekenaars. Kinders wat swaar skooltasse moet dra, kan ook met rugpyn sukkel.
Adcock Ingram
DIE REGTE POSTUUR
Die geheim van ’n goeie postuur lê in die spiere. Rugspiere wat behoorlik werk, stut die ruggraat. Maagspiere help om die ruggraat van voor te stut.
In Die doktersboek van tuismedisyne is daar wenke hoe om ’n perfekte postuur te kry: Staan voor ’n vollengte spieël. Plaas jou gewig eweredig op albei voete en hou jou skouers agtertoe en gelyk. Stoot jou bors uit. Jou maag sal natuurlik intrek as jy jou bekken effens agtertoe kantel. Trek jou boude in en laat die waai van jou rug baie effens buig. Jy moet ’n denkbeeldige lyn kan trek van jou nek agter jou oor, deur jou skouer, agter jou heupe en knie verby tot deur jou enkel.
’n Paar wenke
- As jy lank aaneen moet staan, sit ’n boks op die vloer voor jou en trap met een voet daarop. Dit laat spanning in die rug skiet gee.
- Sit met jou knieë gelyk en effens hoër as jou heupe. As jy nie reg sit nie, trek jou lyf vorentoe en sak jou rug inmekaar terwyl jou spiere oortyd werk om jou rug regop te hou.
- Kry ’n stoel wat só gevorm is dat dit jou rug in ’n gesonde kromming dwing of sit ’n kussing in die waai van jou rug op die stoel.
- Moenie jou bene kruis nie, want dit trek die liggaam skeef.
- Moenie op jou maag slaap nie. Slaap verkieslik op jou sy met jou knieë gebuig en op ’n dik genoeg kussing om jou kop gelyk met jou skouers te hou. Of slaap op jou rug op ’n plat kussing onder jou kop en ’n kussinkie onder jou knieë.
- Oefen om jou spiere wat jou in posisie hou, sterk te maak. Strek ook jou spiere daagliks