Kennis is mag, maar houding is kernkrag, sê Janene Visser en Christel du Toit van Divorcesmart101. Hulle kyk dié week na boedelverdeling en die staatspensioenfonds
Janene Visser en Christel du Toit
Ek en my man is al 18 jaar binne gemeenskap van goedere getroud, het twee minderjarige kinders en staan nou op skei.
Ons huis is amper klaar betaal: Ons skuld slegs R205 000 en die huis is R1 miljoen werd. Hoe gaan ’n mens te werk sodat ons so min as moontlik welvaart vernietig? Ek behoort aan ’n private pensioenfonds, wat tans R200 000 werd is. My man werk vir die staat en behoort aan die Government Employees Pension Fund; sy waarde is tans R2 miljoen. Ons albei moet nog 15 jaar tot aftrede werk – Santa, Kaapstad.
Eerstens doen ’n mens ’n berekening van jul boedel. ’n Boedel is die totale bates minus totale laste. Veronderstel jul netto boedel is R3 miljoen, dan is jy op R1 500 000 geregtig.
Finansiële beplanning is uiters belangrik tydens egskeiding. As jy teen jou man se GEPF eis, gaan daar ’n lening ontstaan wat dan elke maand teen 8% rente gehef word (gelykstaande aan die repokoers). Hierdie leningsbedrag word met aftrede van sy aftreekapitaal afgetrek tensy hy dit maandeliks voor aftrede afbetaal. Die lid het dus die keuse om die lening voor aftrede af te betaal.
Ek sou voorstel dat jy die huis behou as jy dit kan bekostig omdat daar geen oordragskoste is op eiendomme tydens egskeiding nie, en dan die oorblywende R500 000 van jou aanwas van sy pensioenfonds eis. Dit maak bogenoemde lening dus kleiner en meer bekostigbaar as hy dit maandeliks wil terugbetaal.
Die staatspensioenfonds (GEPF) se reëls is op 1 April 2012 aangepas sodat eksgades nou hul deel kan eis deur middel van die “skoonbreukbeginsel”. Dit beteken jy kan nou jou deel in kontant neem of jy kan dit belastingvry na jou eie bewaringsfonds oorplaas.
Pensioeneise
Waarvoor moet jy versigtig wees?
o Bewoording: Maak seker die naam van die fonds waarteen die eis ingestel word, word in die skikking genoem, asook die verwysingsnommer en die persentasie waarop jy aanspraak maak.
o Belasting: Die nie-lid sal verantwoordelik wees vir die betaling van belasting as jy dit in kontant neem (en jy ná 13 September 2007 geskei is).
o Endossement: Jou eis moet so gou moontlik by die GEPF aangeteken word. Maak seker jy doen dit self, al staan dit in jou hofbevel dat jou eks dit sal aanteken. Dit voorkom dat geen gelde uitbetaal word met dood, ongeskiktheid of aftrede nie.
o Leningsrekening in die fonds: Dié lening word afgetrek met aftrede. Indien jou eks teen jou fonds eis, sal jy bykomende spaarmeganismes moet instel of ander bates tydens die egskeiding moet prysgee.
o Neem altyd die belasting in berekening as jy van plan is om ’n deel in kontant te neem.
o Nadat die egskeiding afgehandel is, moet jy self begin spaar vir aftrede. Dit klink soos ’n onbegonne taak, maar jy moet so gou moontlik na jou aftrede kyk. Kry dus finansiële raad ná jou egskeiding sodat jy jou toekoms kan beplan.
Meer inligting
Bron www.gepf.gov.za
Besoek www.divorcesmart101.com. Bel 082 852 7610 of stuur ’n e-pos na [email protected]