Dumile se werk is “ondergewaardeer in die VSA” en dit is een van die redes waarom die Londense Grosvenor-galery besluit het om sy werk op Frieze Art New York te vertoon
Deur JOHAN MYBURG
Vir sy uitstalling op Frieze Art in New York vertoon die Grosvenor-galery in Londen die werk van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Dumile Feni, of Dumile, soos hy bekendgestaan het. Dié kunsskou word van 5 tot 7 Mei in Randall’s Island Park aangebied.
Dumile is in 1991 in New York dood, kort voordat hy na Suid-Afrika sou terugkeer.
Zwelidumile Geelboi Mgxaji Feni-Mslaba (sy werk kom dikwels onder die naam Feni-Mhlaba op veilings) (1942–1991) het wel die laaste 13 jaar van sy lewe in New York deurgebring, maar dié ballingskap het nie noodwendig roem in die Groot Appel beteken nie.
Charles Moore, direkteur van die Grosvenor-galery, benadruk dat Dumile se werk “ondergewaardeer is in die VSA” en dit is een van die redes waarom dié galery besluit het om sy werk op dié vooraanstaande kunsskou in New York te vertoon.
Die Grosvenor-galery is immers die plek waar Dumile sy eerste solouitstalling aangebied het nadat hy in 1968 Suid-Afrika verlaat het en hom eers in Londen en later in New York gaan vestig het. Eric Estorick, Amerikaanse kunsversamelaar wat die Grosvenor-galery in 1960 in Londen begin het, het Dumile indertyd vir ‘n uitstalling genooi.
Op dié manier kon Dumile makliker die land verlaat nadat die apartheidsregering die skroewe begin aandraai het, onder meer omdat Dumile ‘n bronsbeeld van Albert Luthuli, destydse ANC-leier wat in 1960 die Nobelprys vir vrede ontvang het, gemaak het.
Kort voor sy vertrek na Londen het Dumile se werk Suid-Afrika in 1967 nog op die biënnale in Sao Paolo verteenwoordig.
“Ek sou nie aandag getrek het as dit nie was vir my idees en die titels – altyd die titels – wat ek aan my werk gegee het nie,” het hy jare later in ‘n onderhoud gesê. “En ook vir ‘n paar komposisies wat ek gemaak het. Daar was die een komposisie van ‘n gevangene, van ‘n slagoffer – van ‘n groep figure wat almal vasgebind was en jy kon die toue sien. Ek het ook ‘n paar stukke van Luthuli gemaak.”
Ingevolge die Groepsgebiedewet is Dumile verplig om terug te gaan na die plek waar hy gebore is: Worcester. Ondanks ‘n kontrak wat hy met Gallery 101 in Johannesburg gehad het, is hy nie toegelaat om in Johannesburg aan te bly nie. As hy nie Worcester toe wou nie, was sy voorland tronkstraf of ballingskap.
Hy het laasgenoemde gekies en terwyl hy ‘n jaar vir sy paspoort moes wag, het Dumile in Bill Ainslie se huis in Johannesburg gewoon en by die Craighall-akademie ingeskryf wat deur die beeldhouer Peter Hayden in die lewe geroep is. Ainslie, kunstenaar en stigter van verskeie kunsopleidingsprogramme en ook die Johannesburgse kunsstigting, het aan Estorick geskryf en gevra of hy nie Dumile vir ʼn uitstalling wil nooi nie.
As Dumile onbekend is in New York, soos Moore sê, was hy sy lewe lank en selfs tot onlangs allermins prominent in die Suid-Afrikaanse kunswêreld. Dit was kort voor sy dood en deur die toedoen van The Neglected Tradition: Towards a New History of South African Art (1930–1988), Steven Sack se 1988-uitstalling in Johannesburg, dat Dumeli se werk in die kollig geplaas is.
In 2005 het die Johannesburgse Kunsmuseum ‘n Dumeli Feni-oorsiguitstalling aangebied wat meer prominensie aan dié suid-Afrikaanse kunstenaar begin verleen het.