As dit by droom kom, hoef jy nie realisties of veilig te wees nie
Vrouekeur-span
Die lewe kan maar saai wees as jy nie gereeld vir jouself doelwitte stel nie. ’n Droom, maak nie saak hoe klein of groot nie, gee jou daardie ekstra motivering om ’n dag van roetine en ander verantwoordelikhede aan te pak. Jy weet wat ook al in die dag vir jou voorlê, sal jou nader aan jou eintlike ideale bring. Raak dus opgewonde oor die moontlikhede in die lewe en maak gereed om groot te dink en selfs nog groter te droom! Kirsten Long, ’n lewenstylgids, gee die volgende wenke oor hoe om jou ideale te benader. Dit mag dalk vir jou moeilik wees om regtig te gaan sit en dink oor wat jy uit die lewe wil hê en jou drome só te formuleer. Onthou net, jy mag maar droom!
1 Neem aksie! “Sommige mense onderdruk hul drome al so lank dat hulle glad nie meer droom nie. Ander mense bestee weer so baie tyd aan hul dagdrome dat hul drome juis net dit bly: blote dagdromery. Slegs mense wat tot aksie oorgaan, het die vermoë om hul drome in realiteit te omskep.”
2 Wat is jou droom? “Maak tyd om oor jou drome te dink en selfs nog beter, daaroor te gaan sit en skryf. Verander elke detail totdat dit vir jou perfek is. Probeer verskillende scenario’s en toets watter aspekte van jou drome jou die meeste opgewonde maak. Die drome waaroor jy passievol is, is meer geneig om ’n werklikheid te word. Skep bewustelik tyd in jou dag om aan jou drome te dink. Hoe meer jy dit doen, hoe beter sal jy daarin word,” meen Kirsten. “Vra jouself af of daar ’n stokperdjie of passie is waarvoor jy nie meer tyd het nie of bloot begin afskeep het. Dit sal jou ’n idee van jou ware passie gee.”
3 Beplan aan jou droom. As jy klaar jou droom gedefinieer het, is dit tyd vir beplanning. “Breek jou droom in sewe praktiese stappe af. Neem elke stap en breek dan ook dié stap in sewe kleiner stappies op. Doen dit totdat jy ’n lys van aksies het wat maklik bereikbaar en doenbaar is. Maak dan daardie eerste oproep, registreer vir die kursus wat jy al so lank uitstel, of kontak ’n agent oor die moontlikheid van ’n nuwe werk. Dit kan enigiets wees, solank jy die eerste stap na jou droom toe neem.”
4 Onthou, elke dag is belangrik. As jy groot dinge wil bereik, moet jy besef elke dag is van belang. “Doen dus elke dag drie dinge wat jou nader aan jou droom sal bring. Maak hierdie aksies jou grootste prio riteit vir elke dag. Jy sal só stadig maar seker al hoe nader aan jou doelwit en groot droom beweeg.”
5 Niks is onmoontlik nie. Dink jy jou droom is te groot of te onbereikbaar? Dalk het jy bloot nog net nie hard genoeg en prakties daaroor gedink nie. “As jy ’n baie groot droom het, mag dit dalk onbereikbaar voel en dit mag jou dalk afsit of afskrik om die nodige stappe te neem,” sê Kirsten. “Jy mag dit dalk selfs aflag omdat jy voel dit is belaglik. Weereens, as jy daardie spesifieke droom in kleiner deeltjies afbreek wat beheerbaar is, kan jy wel daar uitkom. Selfs al neem dit jou ’n leeftyd – dit ís bereikbaar. Onthou, geen aksie beteken geen verandering nie!”
6Bly gefokus op jou droom. Baie mense begin goed met die navolging van ’n doel wit net om weer fokus te verloor omdat hul doelwitte nie duidelik genoeg uiteengesit is nie. Kirsten stel voor dat jy minstens een keer ’n maand ’n uur neem om na jou doelwit te kyk. “Verstel dan daardie prentjie, versamel artikels wat jou inspireer om daar te kom en stel ’n aksieplan op. Bestee ’n rukkie om te visualiseer hoe dit sal wees as jy die droom verwesenlik het.” Dit alles help om jouself vir sukses te programmeer en geïnspireerd te hou.
7Dink jy te klein? “Ons word deur ons ouers, skole, gemeenskap, vriende of familie gekondisioneer om ons drome realis ties te hou. As jou selfbeeld laag is en jy geen selfvertroue in jouself of jou vermoëns het nie, kan jy die gevaar loop om jou drome en begeertes te beperk. As jy klein drome droom, sal jy uiteindelik ook net klein prestasies behaal. As jy egter groot droom en jy slegs die helfte daarvan bereik, bereik jy steeds veel meer as wanneer jy jouself sou beperk het.”
8As jou droom bereik is. Kirsten sê dit is belangrik om nuwe drome te vind. “Droom groot, selfs groter as die eerste keer en kom aan die gang. As jy voel dat jy nou reeds al jou drome bereik en bewaarheid het, kan jy moontlik onvervuld gelaat word – daar moet altyd iets wees waarnatoe jy kan werk.”
9Wees gereed. Versamel soveel moontlik inlig ting oor ’n onderwerp. Dit sal jou help om die fynere besonderhede van jou doelwit be ter te verstaan en later ook te bereik. Lees meer oor jou onderwerp op die internet, pro beer met mense in verbinding tree wat in die selfde rig ting is as wat jy graag sou wou wees en vind uit of daar organisasies is waaraan jy kan behoort.
Kirsten Long, lewenstylgids: [email protected] of besoek www. coach4life.co.za
SOURCES
Verskaf