Selfportret met verbinde oor, 1889. So lui die titel van dié werk wat Vincent van Gogh (1853-1890) geskilder het pas nadat hy uit die hospitaal ontslaan is ná die voorval met sy oor.
Deur JOHAN MYBURG
Selfportret met verbinde oor, 1889. So lui die titel van dié werk wat Vincent van Gogh (1853-1890) geskilder het pas nadat hy uit die hospitaal ontslaan is ná die voorval met sy oor.
Hy is in sy ateljee, tog dra hy ‘n swaar oorjas en ‘n warm mus. Hy maak nie oogkontak nie, maar staar verby die kyker. Links van hom is ‘n onvoltooide doek op ‘n esel, en regs is ‘n prent van Sato Torakiyo, Geisjas in ‘n landskap, gemaak tussen 1870 en 1880. Verder regs ‘n deur- of vensterraam.
Tussen 1886 en 1889 het Van Gogh, die man wat in sy leeftyd nie ‘n enkele skildery verkoop het nie, meer as 30 selfportrette geskilder. In dieselfde jaar as Selfportret met verbinde oor, het hy nog vier ander selfportrette geskilder, waar onder Selfportret met verbinde oor en pyp (wat in die Tate-galery in Londen is).
LEES OOK: Kuns: Vincent van Gogh
Sy linkeroor is verbind (Van Gogh het ‘n spieël gebruik om sy selfportrette te skilder) nadat hy ‘n deel van sy oorlob met ‘n skeermeslem afgesny het. Wat presies gebeur het, is onseker. Hy was terug uit Parys in Arles waar hy ‘n kunstenaarsgemeenskap wou begin. Paul Gauguin (1848–1903), ‘n kunstenaar wat hy in Parys ontmoet het, het by hom in Arles vertoef. Dit is bekend dat die twee hewig kon stry, dikwels met geweld. In een van dié rusies het Van Gogh Gauguin glo met die lem gedreig, maar in die proses ‘n deel van sy linkeroorlob afgesny. Hy het heelwat bloed verloor en is inderhaas hospitaal toe.
Sou ‘n mens met Instagram in gedagte na Van Gogh se selfportrette as selfies uit ‘n tyd voor digitale tegnologie (die kamera het al in Van Gogh se tyd bestaan) kon verwys? Was Van Gogh daarop gesteld om sy gesig die wêreld vol te vertoon? Was dit iets van ‘n ego-streling, as ‘n mens Facebook in berekening bring? Was dit onverbloemde selfbemarking?
Dalk nie. Van Gogh was gewoon te arm om modelle te kon bekostig. Dit is een van die redes waarom hy homself oor en oor geskilder het. As bemarking? Nou ja, nie as hy niks verkoop het nie.
“Ek is op soek na ‘n beeld wat dieper lê as dié een wat ‘n fotograaf kan blootlê,” het hy aan sy suster geskryf. En dit is wat hy in dié selfportret wys. Hy nooi die kyker om die kunstenaar k, sonder skroom, en sonder dat die kunstenaar blik of bloos, in die gesig te ky. En wat die kyker sien, is meer as die uiterlike voorkoms. Dit is juis sy binnewêreld wat Van Gogh op die direkste manier probeer verbeeld.
LEES OOK: Kuns: Die Van Gogh-museum
Aan sy broer Theo het Van Gogh geskryf: “Mense sê, en ek is geneig om hulle te glo, dit is moeilik om jouself te ken. Eweso is dit nie maklik om jouself te skilder nie.”
Van Gogh se selfportret is ver verwyderd van die tuitbek-selfies waaraan ons gewoond geraak het. En des te verder van die ek-is-wie-ek-dink-jy-dink-ek-is-siening van ons tyd met die hoop op nóg ʼn like.
Tegnies is daar geen rede waarom selfies, of dan eerder selfportrette, met ‘n kamera of ‘n selfoon geneem, nie kuns kan wees nie. Die kunsgeskiedenis het hope voorbeelde daarvan, lank voordat iedereen selfies begin neem het.
Wat dié selfportret van Van Gogh van ‘n selfie onderskei, is die dodelike oppervlakkigheid van laasgenoemde.