‘n Mens stap ná verlies nie onaangeraak weg nie. En die verlies van ‘n ouer kan jou met nuwe oë na die wêreld laat kyk
Zerelda Esterhuizen
Ons almal weet dat ons ouers een of ander tyd gaan sterf. Ons ook. Maar hul afsterwe het steeds ‘n groot impak op jou. Ons praat met ‘n paar mense oor die lesse wat hulle uit die hartseer geleer het.
Dit bly ‘n pynlike proses
Adri Herbst het al albei haar ouers aan die dood afgestaan: “Ouers word so as vanselfsprekend aanvaar, asof hulle net altyd daar sal wees, maar een of ander tyd gaan ons almal daardeur – of ons jonk of oud is. Dit maak nie saak hoe oud jy is as dit gebeur nie, dit bly steeds baie seer.”
Dit laat ‘n groot leemte
Adri vertel ná haar ma dood is, het sy skielik baie tyd op hande gehad. “Dit was tyd wat gewoonlik gebruik was om dingetjies vir haar te doen. Aan die begin weet ‘n mens nie hoe jy daai tyd gevul kan kry nie. Jy raak aan ‘n nuwe lewe gewoond.”
Jy leer om met verlies saam te leef
“My pa is dood toe ek sewe jaar oud was,” sê Gerry Esterhuizen. “Dit is nou al soveel jare later, maar ek mis hom steeds, veral met groot mylpale soos die dag toe ek getroud is. Ek wonder dikwels wat hy van my kinders sou gesê het.”
Alida Ryder se ma is ‘n paar jaar gelede oorlede: “Dit het jare geneem om weer normaal te voel, maar dit het wel gebeur. Die verlange gaan nooit weg nie, maar ‘n mens leer om aan te gaan. Ek het besluit om nie elke keer as iemand oor haar praat of as ek aan haar dink hartseer te wees nie. Sy was so ‘n ongelooflike mens en sy verdien om gevier te word. Als wat ek doen word aan haar opgedra en ek het so vinniger vrede daarmee gemaak dat ek haar nie meer by my het nie.”
Jy mag maar rou
Adri sê om een ouer te verloor, was erg, maar sy het vinniger oor die seer gekom, want sy moes haar ma bystaan. “Toe Mamma egter oorlede is, het my hele wêreld ineengestort. Ek het nie geweet hoe ek dit gaan maak nie. Ek was stukkend. Alles het my aan haar laat dink en dan het die trane geloop. Ek het myself jammer gekry, want toe was ek ‘n weeskind. Almal se rouproses is anders, maar ek het geleer dat ek mag maar rou, ek mag verlang én ek mag dit doen so lank as wat ek wil.” Adri sê niemand kan vir jou sê dis nou genoeg nie, jy moet rou solank dit nodig is.
Niemand kan jou daarop voorberei nie
Dit maak nie saak of dit ‘n skielike dood of ‘n lang siekbed was nie, ‘n mens is nie daarop voorbereid nie, vertel Adri. Vir hul gesin, was sy pa se kankerdood ‘n groot skok, erken Gerry. “Dit is asof dit my skielik grootgemaak het. Die een dag was ons nog kinders en die volgende dag moes ons my ma vertroos. Skielik was ons net drie in plaas van vier.”
Die lewe gaan aan
Anlie Janse van Rensburg se pa is ‘n paar jaar gelede oorlede en haar ma is vroeër vanjaar oorlede. “My ma was altyd my steunpilaar wat vir elke probleemsituasie ‘n oplossing gehad het. Ek het altyd gevoel dit maak nie saak hoe erg enigiets is nie, sy sal ‘n antwoord hê om als weer beter te maak. Ná haar dood moes ek maar self alles wat na my kant toe gegooi word, hanteer.
“Ek sou nooit kon dink dat ek sekere situasies self sou kon hanteer nie, maar ek het, want ek moes. Ek het só ‘n nuwe ‘ek’ ontdek wat enigiets self kan hanteer en oplos. ‘n Mens is tot baie in staat op jou eie, jy moet net die regte denkwyse hê en besef dat die lewe wel aangaan.”
Niemand kan hulle vervang nie, maar ander mense sal jou ook liefhê
“Die dood laat jou besef hoe kosbaar mense is,” sê Anne Wilson, wie se ma dood is toe sy net vyf jaar oud was. “Ek het wel my ma verloor, maar ek het ander mense in my lewe gehad wat ook goed vir my was en wat steeds naby my is.”
Onthou dit ná verlies
1. Daar is nie ‘n kitskuur vir verlies nie. Dis normaal om selfs lank ná die trauma te treur.
2. Wees eerlik met jouself oor waartoe jy in staat is.
3. Gun jouself al die emosies: Jy mag kwaad wees en huil.
4. Praat met iemand oor hoe jy voel.
5. As jy voel dinge raak te veel, sien ‘n berader.