Volgens Sandra Stark, voorsitter van die Rooi Appel-disleksiespesialiste, ontwikkel alle mense met disleksie nie noodwendig dieselfde gawes en talente nie, maar sekere opvallende kognitiewe funksies kom oor die algemeen voor, naamlik
Ansja Ferreira
Kognitiewe vermoë om persepsies te wysig of nuwes te skep
• Intense bewustheid van die omgewing.
• Bogemiddelde leergierigheid.
• Denke hou verband met prentjies in plaas van woorde en/of simbole.
• Disleksiese persone is intuïtief en insigryk.
• Perseptuele waarnemings en denke is multidimensioneel. Alle sintuie word perseptueel gebruik.
• Gedagtes word realisties ervaar.
• Geweldige verbeeldingsvermoë.
“As bogenoemde vaardighede aldus talente nie onderdruk, geïgnoreer of deur ouers en/of opvoedkundige stelsels vernietig word nie, sal twee besonderse kenmerke oorheersend wees, naamlik bogemiddelde intelligensie en buitengewone kreatiwiteit.
“Hierdie begaafdheid maak van disleksiese mense meesters op hul gebied, sê Sandra.
“Albert Einstein was ’n fisika-genie en Walt Disney word as een van dié kreatiefste kunstenaars beskou.” (Albei het disleksie gehad).
Disleksie is dus die resultaat van ’n multidimensionele perseptuele talent.
Disleksiese mense is voorwaar begaafd
Sir Richard Branson is nog ’n bekende wat disleksie het. “Ek was disleksies, het glad nie verstaan wat met skoolwerk aangaan nie en sou definitief IK-toetse druip. En dit was een van die redes waarom ek op 15-jarige ouderdom skool verlaat het.”
Hy skryf op die webwerf van www.entrepreneur.com dat ’n 2005-studie bevind het dat een uit drie Amerikaanse entrepreneurs disleksie het, terwyl ander studies gewys het dat mense wat disleksie het uitstekend vaar om patrone en die groter prentjie raak te sien. Hy gee die volgende raad aan mense wat disleksie het: “Dit is belangrik om nie minderwaardig te voel net omdat jy nie elke woord in die woordeboek kan spel nie. Varieer jou aktiwiteite en belangstellings sodat jy jou sterk punte kan vind.” Hy skryf ook dat sy unieke wyse van dink gehelp het om die Virgin-groep op te bou en bygedra het tot die sukses daarvan.
Disleksie en snellerwoorde
“In alle tale kry ’n mens met kort woorde soos voorvoegsels, verbindingswoorde en dies meer te doen,” sê Sandra.
“Hierdie sogenaamde ‘sneller’-woorde (omdat dit die sneller trek vir disoriëntasie) kan nie deur visualisering versinnebeeld word nie. Met ander woorde, prentjies kan nie vir hierdie kort woorde geskep word nie, wat daartoe lei dat disleksiese mense sukkel om te lees. Selfs eenvoudige sinne kan nie visueel gekonseptualiseer word nie. Wanneer ’n disleksiese mens ’n boek of selfs net ’n paragraaf lees, ontbreek al hierdie snellerwoorde aangesien dit nie deel van so ’n persoon se visualisasie-‘woordeboek’ uitmaak nie. Dit lei tot disoriëntasie wat geweldige inspanning veroorsaak en lees sonder begrip tot gevolg het,” sê Sandra.
Kry hulp
• Die Rooi Appel Disleksie Spesialiste: [email protected] of besoek hul webwerf by www.disleksie.co.za
Addisionele bronne
www.entrepreneur.com/article/224172