Hierdie siekte plus oorgewig kan jou brein se struktuur beïnvloed, waarsku nuwe studie
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Daar is al bewys dat Tipe 2-diabetes mediese komplikasies in sekere organe kan veroorsaak, selfs in die brein. Oorgewig mense met Tipe 2-diabetes in ‘n vroeë stadium het volgens ‘n nuwe studie ernstiger abnormaliteite in hul breinstruktuur as diegene met ‘n normale gewig en Tipe 2-diabetes. Die studie se resultate is in die joernaal Diabetologia gepubliseer.
Wat die verslag basies sê, is dat Tipe 2-diabetes gekombineer met oorgewig baie gevaarlik kan wees aangesien dit ‘n ernstiger effek op jou brein se struktuur het.
Dr In Kyoon Lyoo, ‘n professor aan die Ewha-breininstituut aan die Ewha-vroue-universiteit in Suid-Korea, sê vetsug word met metaboliese wanfunksie, inflammasie en breinveranderinge geassosieer. “Ons het dus verwag dat breinveranderings baie ernstiger sal wees by oorgewig mense wat aan Tipe 2-diabetes ly.
In ander studies is daar al gevind dat vetsug tot kognitiewe probleme kan lei. Dit wil dus lyk of die kombinasie van diabetes en oorgewig nog slegter vir jou brein kan wees, maar verdere studies is nodig om dit te evalueer. Wat wel duidelik is, is dat ‘n gesonde liggaamsgewig baie belangrik is, vir jou en jou brein se gesondheid.
BRON: www.cnn.com