Nege vrae aan Clare Jeffrey, die hoof- operasionele bestuurder van Imibala, ’n trust op Somerset-Wes wat skooluniforms aan kinders verskaf en ook kunsklasse en ander projekte aanbied
Maryke Roberts
1. Wat is jul grootste uitdagings?
Ons grootste uitdaging is om die Imibala Trust in die wyer fonds-arena te posisioneer, waar monitering en evaluasie baie belangrik is om voortgesette fondse te verseker. Die trust is nog relatief jonk, maar dis so perfek-gebalanseerd om ’n sterk speler vir korporatiewe én meer privaat-befondsing te word omdat die resultate van die programme soveel wyer strek as net die kinders wat die aktiwiteite bywoon of deel van die program is. Ons doen nie net die regte ding nie, ons doen die regte ding baie goed en verander kinders se lewens in baie belangrike maniere.
2. Watter terugvoer kry julle van leerders wat van die projek se eerste ontvangers was? Waar is hulle vandag?
Ons het pas ons eerste retrospektiewe studie afgehandel om te kyk wat die uitwerking van die skooluniforms op ontvangers gehad het. Hierdie kinders is nou in die hoërskool en ons vind: skoolpunte het verbeter; skoolbywoning het verbeter; selfvertroue is meer; minder finansiële verantwoordelikheid op die familie-eenheid en verbeterde interaksie tussen kind en onderwysers en seniors.
3. Imibala is Gaynor Rupert se breinkind. Hoe het julle op Imibala se naam en doel besluit en hoe voel sy vandag oor die projek – is dit wat sy gehoop het dit sou word?
Imibala is “kleure” in Xhosa en in die beginjare, was die slagspreuk om kleur terug te sit in grys lewens deur die skool-uniform projek, baie gepas. “Kleure” verteenwoordig al die aktiwiteite by die Imibala Trust en die naam is beskrywend vir wat ons doen. In 2014 het die trust ’n draaipunt bereik en die trustees het besluit om meer langtermyn beplanning te doen, om die projek se volhoubaarheid te verseker en tot groter blootstelling aan die sakewêreld en Korporatiewe Sosiale Investeringsprogramme en oorsese fondsinsamelingsprojekte te lei. Die aanstelling van ’n hoof- operasionale bestuurder was ’n duidelike teken dat die Imibala Trust ’n groot heringenieurswese ondergaan het om te verseker dat dit ’n sterk instelling is wat voortaan sal bydra tot die Suid-Afrikaanse dialoog tot: “Wat maak Goeie Gee?”
4. Wat is jou drome vir die projek vir die volgende 13 jaar?
Die Imibala Trustees hoop dat die Imibala-model om fondse vir kinders wat geen hoop op hul eie skooluniform het, klasse in kuns, drama, musiek en rekenaarklasse sal bewys dat dit ’n baie aantreklike, volhoubare projek vir ander gemeenskappe is om na te volg.
Die noodsaaklike element is egter om fisieke bronne te hê wat die Somerset-Wes Imibala Village nadoen. Ons geboue huisves die trust-kantore, die uniformvoorraadkamers, die pragtige kunsgalery, die restaurant en deli en die oulike handelsentrum. Dit skep ’n hibriede filantropie-model waar profyt genereer word van inkopie-, kuns- en restaurant-besigheid wat bydra tot die lopende koste van die Imibala Trust. Dit is só belangrik, want alle donasies wat gemaak word, moet aan die kind gaan en ’n direkte voordeel vir die kinders skep. Dis ’n kernelement van ons sakeplan.
5. Wat glo jy is onontbeerlik vir projekte soos julle s’n om te groei?
Ons het dringend meer borge nodig. Ons is op ’n punt waar die getal privaat individuele borge baie afneem en ons soek nou verhoogde beleggersgetalle om die volhoubaarheid van die projek te verseker. Ons wil ook graag vennootskappe met ander nie-regeringsorganisasies sluit wat in dieselfde sfeer as ons werk. Ons het baie om te deel en beste praktyke om te ontwikkel.
6. Wat is die een enkele ding wat jy glo elke kind nodig het om ’n kans te hê op sukses?
’n Geloof in hul eie vermoëns. Kinders wat elke dag soveel uitdagings moet oorkom, het geen idee hoe om in hulself te glo nie. Imibala se projekte laat stap hulle ’n pad om in hulself te glo, om ’n positiewe identiteit te groei en om in ’n gelukkige toekoms te glo.
7. Hoe kan die publiek betrokke raak by Imibala?
Gewoonlik is ’n besoek aan die Imibala Village in Brightstraat, Somerset-Wes of aan ons Graaff-Reinet-kantoor by die Drostdy Hotel, ’n goeie vertoonvenster vir wat ons doen. Die projek praat vir homself en die entoesiasme is gewoonlik aansteeklik. Hier kan die publiek uitvind hoe hulle kan deel word, hetsy as vrywilliger, of as borg. Albei maak ’n reuseverskil in ’n kind se lewe.
8. Hoekom is projekte soos Imibala so noodsaaklik?
Die kinders van hierdie generasie het hulp dringend nodig. Die onderwysstelsel is in krisis en asof dit nie erg genoeg is nie, is kinders se bestaan is onseker. Gesins-eenhede is uitmekaar geskeur deur geweld; werkloosheid, alkohol- en dwelmmisbruik is oral en bendegeweld is deel van hul daaglikse lewe. Alternatiewe moet aan hulle beskikbaar gestel word, om hulle aan te moedig om die pad te kies wat na ’n gelukkige- en vervullende lewe sal lei – baie anders as die lewe waaraan hulle gewoond is.
9. As ander mense in die land sulke projekte van stapel stuur, wat moet hulle in gedagte hou?
Ek dink dis baie belangrik dat die keuringsproses vir kinders baie regverdig, deursigtig en verifieerbaar is. Daar moet ook ’n goeie evaluering en moniteringsproses in plek wees om te verseker dat fondse aangewend word vir die doel waarvoor dit ingesamel is.
10. Watter soort terugvoer kry julle van borge?
Die meeste van ons borge is baie dankbaar vir ons projek en het groot lof vir die sorg en aandag wat die kinders kry. Die Imibala-personeel is baie na aan die kinders en hul waardigheid en veiligheid is van uiterste belang.