Lewe ligter, mooier, vroliker en meer georganiseerd en sit ’n huppel in jou stap hierdie lente! Shanda Luyt gee raad
Shanda Luyt
Skop jou skoene uit, kry jou towerverestoffer en spring aan die werk: Die lente is die ideale tyd om jou lewe weer ’n bietjie af te stof en ’n splinternuwe glans te gee.
Maak jou lewe ligter
Die lente simboliseer lig en vrolikheid, maak dus jou lewe ligter deur te kyk wat jy regtig nodig het en die res in ’n denkbeeldige asblik te gooi.
JOU HUIS Ons dra hopeloos te veel materiële bagasie met ons saam. Dit sorg net vir ekstra skoonmaak, ekstra organisasie en ekstra chaos. Hoeveel dinge is daar in jou huis wat jy in die afgelope vyf jaar nooit gebruik het nie? Het jy dit regtig nodig? Gaan krities deur jou huis en kaste (jy kan een vertrek per week neem) en vra jouself af: Gebruik ek dit? Wees ‘n bietjie roekeloos en gee weg, gooi uit en skep weer ruimte. Jy kan selfs ‘n kattebakverkoping hou om van alles ontslae te raak en vir jouself iets moois met die opbrengs te koop.
JOU KAS Gooi alles weg waarvan jy nie hou nie; nooit dra nie of hopeloos te klein of te groot is. Ook alles wat by niks anders in jou kas of by jou lewenstyl pas nie.
JOU GEWIG Die los winterjasse wat elke rolletjie verbloem, is binnekort iets van die verlede en dan kan dit nogal sukkel as die vlinder wat uit daardie kokon ontpop nie heeltemal so vaartbelyn is nie. Die lente is die perfekte tyd om aan jou lyfie te werk voor jy die somermaande in jou bikini moet aandurf. Begin nou met ‘n oordeelkundige oefenprogram. Weg met daardie dik, romerige wintersoppe en in met vars, kreatiewe slaaie!
JOU HART Jy loop dalk met soveel kwessies uit jou verlede dat dit voel of jy konstant ‘n las op jou skouers dra. Dit raak uiteindelik jou verhoudings, menswees en sukses. Raak hierdie lente van jou emosionele bagasie ontslae. Maak ‘n afspraak by ‘n goeie sielkundige om jou te help om onverwerkte kwessies aan te spreek. Doen selfondersoek. Vra jouself eerlik af wat jou terughou en dink mooi hoe jy daarmee kan klaarspeel.
Kry orde
Teen die middel van die jaar voel die meeste van ons weer goed vasgevang op die hamsterwieletjie. Om jou is dit chaos en in jou kop voel dit nie veel beter nie. Dit is nou tyd vir beter beplanning en groter orde.
IN JOU KOP As daar elke dag 110 goed is waaraan jy moet dink en dit voel of jy alles vergeet, is dit tyd om tot stilstand te kom en jou kop te orden. Neem ‘n wilsbesluit om elke dag minstens tien minute stiltyd in te bou, waar jy net kan sit en tot verhaal kom. Besluit op prioriteite en span dan elke moontlike hulpmiddel in sodat jou brein ‘vars’ kan bly. Gebruik die kalender op jou selfoon om jou aan belangrike datums te herinner of nie te vergeet om jou skoolkind ná rugby te gaan oplaai nie. Maak onthoulysies en plak dit op sigbare plekke. Skaf ‘n notaboekie in vrolike lentekleure aan om in jou handsak te hou en maak aantekeninge daarin.
IN JOU HUIS Chaos steel energie en is geneig om te sneeubal, want as jy iets nie kan kry nie, krap jy net nog meer om in jou soektog daarna. Raak van die klotter in jou lewe ontslae. Daarna is dit tyd om vir elke ding in jou huis ‘n vaste bêreplek te kry. Onthou, dis ‘n proses: Jy gaan nie jou hele huis in een dag kan orden nie, maar as jou klerekas en kamer op een dag uitgesorteer word, sal jy so lig soos ‘n vars lentebriesie voel! Die regte houers maak dit makliker.
IN JOU WERK Beplanning is die sleutel tot beter orde in jou werksdag. Ruim elke namiddag net voor jy huis toe gaan tyd in om jou volgende dag deeglik te beplan. Deel jou dag in seksies in vir sekere take, byvoorbeeld die eerste halfuur van die dag vir jou e-pos en telefoonoproepe. Vermy Facebook – dit steel tyd. Gebruik gereedskap soos ‘n lessenaarkalender om vir die week of maand te beplan. Baken vaste tye vir vaste take af – jy sal verbaas hoeveel vinniger ‘n mens iets afhandel as daar ‘n spertyd is.
Dink nuut!
’n Bietjie vars lentelug doen wondere om jou brein wakker te skud. Gaan sit dus in ‘n park en dink hoe jy jou lewe positief kan verander.
NUWE DISSIPLINE As die winter aan jou rem, is dit moeilik om moed bymekaar te skraap om gimnasium toe te gaan of by daardie take uit te kom wat jy altyd uitstel, maar die lente bring nuwe inspirasie en energie. Maak die beste gebruik daarvan, of dit nou is om jou ouers meer gereeld te bel of om elke aand net vinnig jou huis reg te ruk voor jy gaan slaap.
NUWE ROETINE Al is dit net om by ‘n ander supermark te gaan inkopies doen, sorg vir nuwe ervarings en is boonop goeie breinstimulasie! Probeer hierdie lente om jou roetine gereeld te verander. Wie weet, dit het dalk wonderlike, verrassende gevolge!
NUWE MIKPUNTE Wie’t gesê Nuwejaarsvoornemens is net vir Januarie? Die lente bring sy eie energie en is die ideale tyd om nuwe projekte aan te pak. Maak dit die moeite werd: Besluit om groener te leef of om elke maand iets spesiaals vir iemand anders te doen. Nou is die tyd om jou lewe in oënskou te neem, jou ou doelwitte te hersien en nuwes by te voeg.
VIER DIE LEWE! Maak jou kop oop vir nuwe uitdagings en pak iets aan wat jy nog nooit voorheen gedoen het nie. Begin met kookklasse of leer ‘n nuwe musiekinstrument bespeel. Sluit by die kerkkoor aan of gaan stap elke aand of vroegoggend ‘n ver ent en drink die geure van jasmyn, die sitrusbloeisels of die varsheid van doudeurdrenkte grond in.
Maak jou lewe mooier
Bring die varsheid en vrolikheid van die lente in jou huis en lewe in.
KLEURE (EN KLERE) WAT WERK Koop vir jou iets in die jongste modekleure. Gaan deur jou klerekas en kyk hoe jy dit wat reeds daar is, kan opvrolik, dalk met ‘n ligte somerserp in een van die modekleure. Skaf minstens een nuwe, vroulike lenterok aan – daar is geen seisoen wat hom beter tot ‘n mooi rok leen nie.
’N SKONER MOOIER HUIS Kry hulp in en maak jou huis van hoek tot kant skoon: Was die vensters en gordyne, skrop die vloere, vee in al die klein hoekies en gaatjies. Was die swaar winterbeddegoed en vervang jou winterlakens met koel katoen. Sit vars potpourri in jou kas en bring die lente met bloeisels, klippies, takkies en blomme in jou huis in. Skuif jou meubels vir ‘n splinternuwe voorkoms. Snuffel in tydskrifte vir lekker idees en gaan krap in pandjieswinkels rond vir oulike oudhede. Gebruik vars, vrolike kleure om by die vreugde van die lente te pas.
TUINBETOWERING Die lente is by uitstek tuinmaaktyd en al het jy nie ‘n groot tuin nie, kan die gevoel van vingers in tuingrond heerlike nostalgiese herinneringe by jou oproep. As jy in ‘n woonstel bly, skep vir jou ‘n vensterbanktuintjie met ‘n paar van jou gunstelingkruie met ‘n paar blomme soos malvas in ‘n ander pot, of maak tuin op jou balkon. Buite is die lente die ideale tyd om bome en struike te plant. Gaan besoek jou plaaslike kwekery vir inspirasie.
DOEN IETS VIR ANDER Maak jou lewe mooier deur ander se lewe mooier te maak. Vind uit hoe jy by ‘n behoeftige organisasie naby jou kan help en inspireer jou kollegas om saam met jou ‘n klaskamer by ‘n skooltjie te gaan verf of ‘n paar bome te plant.
IN DIE NATUUR Verryk jou lewe deur meer tyd in die natuur deur te bring. Gaan op dagstappies in jou omgewing of ry ‘n entjie uit die stad na die mooi omliggende plekke soos die wynplase in die Boland, ‘n vissersdorpie aan die Weskus, of die Magaliesberge as jy in Gauteng bly en asem net weer ‘n bietjie vars lug in.