‘n Etiket wat om iemand se nek gehang word, kan ‘n selfvervullende profesie tot gevolg hê.
Anne Marais
Wat is ’n selfvervullende profesie?
Volgens die psigologiewoordeboek behels ‘n selfvervullende profesie dat voorspellings by ‘n sekere persoon ‘n verwagting veroorsaak wat ‘n groot invloed op latere gebeure kan hê. So kan ‘n persoon vir wie ‘n ongeluk voorspel is en wat aan die voorspelling glo, onbewustelik self ‘n ongeluk veroorsaak. Dit is dus baie gevaarlik as ‘n etiket om iemand se nek gehang word en daardie persoon begin dit glo, soos dat hy of sy sal nooit sukses kan behaal nie.
As hy of sy dit hul eie maak, kan dit katastrofiese gevolge hê. Nog gevaarliker is dit as jy jouself etiketteer as byvoorbeeld iemand met wie niks goeds ooit gebeur nie. Indirek begin jy dan om die negatiewe in elke situasie raak te sien.
Daar is ‘n bekende fabel wat vertel van ‘n arend wat tussen hoenders beland het. Die arend het saam met die hoenders geleef, saam met die hoenders geëet, gedoen soos die hoenders en geglo hy is ‘n hoender. Hy het dikwels ‘n arend in die lug sien sweef en gewens hy kon dit ook doen. Hy het egter nie geglo dat hy die vermoë daartoe het nie omdat hy slegs ‘n hoender was. Uiteindelik het hy sy hele lewe saam met die hoenders deurgebring en ook as ‘n hoender gesterf. Hy het nooit sy potensiaal verwesenlik nie omdat hy geglo het dat hy slegs ‘n hoender was.
Bron: www.lifelessons4u.wordpress.com