Kry jouself slaggereed vir die seisoen
Kry jouself slaggereed vir die seisoen
Met die winter wat so te sê verby is, is dit tyd vir vernuwing – op alle vlakke. Raak van al die dooie hout wat jy deur die jaar versamel het ontslae, hetsy in jou kop, jou kas of jou huis. Jy sal nie glo hoe bevrydend so ’n skoonmaaksessie is nie!
Kyk na jou dagboek en kies ’n dag waarop jy alles gaan uitsorteer. Moenie daarvan afwyk nie! Staan vroeg op, trek gemaklike klere aan, sit lekker musiek op en begin die lente met ’n lied in jou hart. Om uit te sorteer, is dikwels ’n nostalgiese reis. ’n Ou fliekkaartjie of daardie tandestokkie van ’n restaurant toe julle ’n lekker aand gehad het, kan pragtige herinneringe oproep. Gebruik die dag om te onthou en te waardeer, maar maak plek vir nuwe herinneringe!
Jou handsak
Ons begin hiermee, want dit is een ar tikel wat oral saam met jou gaan en maklik ’n opgaarplek word. ’n Nuwe handsak is soms lekker, maar as jy met jou ou getroue sak tevrede is en weet jy gaan moeilik ’n nuttiger plaas ver vanger kry, vernuwe die een wat jy het! Sit ’n stuk koerantpapier op die bed, kombuistafel of enige oppervlak waar jy gemaklik kan werk en uitsorteer. Dop jou handsak om. Skud be hoorlik uit en maak seker daar sit niks in ’n hoekie vas nie. Kyk ook in elke kantsakkie vir versteekte pa piertjies. Stofsuig jou sak behoorlik. Vee sy buitekant af as hy van leer of plastiek is, of was dit met die hand. Laat dit behoorlik droog word. Sprinkel ’n bietjie par fuum of lekkerruikgoed aan die binnekant. Dit sal soos ’n splinternuwe sak voel en ruik! Begin nou die hoop goed uitsorteer. Plaas al die papiere op een hoop en jou beursie, ID en ander kaarte op ’n ander. Gooi al die tandestokkies, pepermente of los lekkertjies wat jy met tyd versamel het in ’n bakkie. Jy het net een tandestokkie nodig, nie nege nie! Jy kan die res van die stokkies in ’n kombuislaai bêre. Dop jou beursie om en haal elke papiertjie, koop- of OTM-strokie uit en plaas dit ook op ’n hoop. Gooi jou kleingeld in ’n houer en hou net ’n paar uit om terug te sit. Die res kan tot die kinders se snoepiegeld bydra. Bronsmunte koop ook! Plak dit met kleeflint in hopies van R1. Of sorteer dit in hoeveelhede van R5 in koeverte. Só sal jy of die kinders dit makliker gebruik. Sorteer jou papiergeld se note van groot na klein sodat jy presies weet hoeveel geld jy in jou beursie het. Probeer by dié gewoonte hou. Gaan noukeurig deur elke hopie. Behou slegs die papiere wat jy werklik nodig het en plaas dit in jou tuiskantoor om later saam met al jou persoonlike dokumente te liasseer. Gooi elke stukkie papier waarvan jy ontslae wil raak en wat persoonlike inligting bevat (soos adres, telefoon-, ID- of kaartnommers) in ’n drommetjie om later te verbrand. Dit is raadsaam om nooit dié soort inligting in die vullisdrom te gooi nie. Identiteitsdiefstal is ’n werklikheid! Knip daai kaarte wat jou verlei om te spandeer in klein stukkies en gooi dit weg. Sit ’n paar vars snesies in ’n plastieksakkie en gooi die res (wat nog skoon is, maar nie meer goed lyk nie) weg.
Jou tuiskantoor
Miskien is jy goed op datum met jou liassering, maar daar is altyd ruimte vir verbetering! Dit is raadsaam om een maal per jaar van onnodige goed ontslae te raak om plek te maak vir dit wat kom. As jy onseker is of jy sekere inligting gaan benodig, kan jy ’n lêer daarvoor skep. Alles wat met belasting te doen het, moet vir vyf jaar gehou word en dié inligting kan jy in ’n aparte houer of lêer liasseer. Skryf telefoonnommers in ’n boekie en raak van al die los papiertjies ontslae. Jy kan visitekaartjies in ’n gepaste houertjie plaas as jy dit gereeld gebruik. Maak duidelike etikette vir elke lêer sodat dit maklik is om iets op te spoor. Stoorplek is gewoonlik die grootste pro bleem. Metaalkabinette is steeds die praktiesste vir enige liasseerwerk en hulle is geredelik by winkels met tweedehandse meubels beskikbaar en nie te duur nie. As dit nie vir jou mooi is nie, kan jy na ander opsies kyk. Dekorwinkels verkoop deesdae pragtige houers wat jy as bêreplek kan inspan. Om jou nuwe sin van orde te handhaaf moet jy absoluut genadeloos wees! Maak ’n hopie van elke nuusbrief of kennisgewing wat jy al maande (of jare!) het en in elk geval nooit oopgemaak het nie. Kanselleer dit skriftelik. Jy hou miskien tydskrifte vir iets spe sifieks. Skeur dié artikels uit en maak ’n persoonlike lêer met al jou guns telinggoed. Skep ’n eiesoortige re septeboek met die smullekker Vrouekeur- wenners. As jy sekere artikels aan ’n vriendin of fa mi lielid wou wys en nog nie daarby uitgekom het nie, skeur dit uit, plaas dit in ’n koevert en pos dit of deel dit uit wanneer jy hulle weer sien. Die vernielde tydskrifte kan nou vir papier her winning weggegooi word. Vind uit waar jou naaste Mondi-blik of iets dergeliks is. Baie skole het projekte om hiermee te help. Jy kan opgegaarde heel tydskrifte na jou naas te hospies of biblioteek neem. Hulle versprei dit na plekke waar daar ’n behoefte is. Kry vir jou ’n aparte vullisdrom of houer (’n groot wasgoedmandjie werk uitstekend en is maklik om te dra) om ou koerante en papier met nuttelose inligting in te gooi. Só maak jy dit makliker om gereeld die papier vir herwinning te stuur en jy vermy die onvermydelike hopies wat oral in die huis vorm.
Jou huis
Beplan hoe jy jou huis gedurende die jaar gaan onderhou sodat jy nie oorweldig voel omdat jy alles op een slag moet doen nie. Pak elke maand een spesifieke groot taak aan: pak kaste reg, sorteer die kombuis uit, was gordyne, ensovoorts. Brand ’n kers met ’n hemelse geur om die muwwe winter te verban! Koop ’n bos vars blomme vir die eetkamertafel en skaf ’n mooi nuwe tafeldoek aan wat jou hart sal laat bokspring. Herrangskik jou familiefoto’s op ’n prominente plek. As jou versameling in ’n album is, kan jy goedkoop rame aanskaf en jou gesin op ’n buffet of sytafel ten toon stel. Vul jou huis met dié dinge wat dit ’n tuiste maak.
Jou tuin
Nie almal het ’n hand met ’n plant nie, maar ’n bietjie skoonmaak of ’n nuwe aan planting van blomme met helder kleure sal jou beslis lekker laat voel wanneer jy by die hek instap. ’n Pot met vrolike blomme by die voordeur is reeds genoeg om die lente uit te basuin.
Jou kinders
Dit is baie belangrik om jou kinders te betrek en te leer hoe waardevol dit is om soms goed uit te gooi. Gee hulle die geleentheid om van ou klere ontslae te raak, laaie reg te pak en speelgoed te sorteer. Skaf vir elkeen ’n trommel aan waarin hulle uitgesoekte artikels met sentimentele waarde kan plaas. Wanneer hulle “groot” is, sal dit lekker wees om terug te kyk en die herinneringe op te roep wat dié besonderse skatte meebring. Moedig hulle aan om selektief te wees. Jy wil nie net die goed van een plek na ’n ander verplaas nie! Plaas alle artikels wat hulle nie meer wil hê nie en nog gebruik kan word in ’n boks en neem dit na ’n welsynsorganisasie. Dit is baie belangrik dat hulle leer om te gee. Die waarde hiervan sal hulle die res van hul lewe bybly.
Jou motor
Jou motor is jou verantwoordelikheid. Maak die paneelkissie en ander stoorplekke waar dinge kan opgaar leeg. Gaan jou spaarwiel, bande, olie en water na. Maak seker al die gereedskap is nog in ’n werkende toestand vir daardie on voorsiene noodgeval. Moenie op jou man of ander staatmaak om jou motor te versien nie – pak die meganiese bul by die horings en doen dit vir ’n slag self. Of staan ten minste by wanneer jy iemand vra om jou daarmee te help sodat jy kan leer waarna om op te let en wat waar sit. As jy nog nie weet hoe nie, leer hoe om ’n pap wiel om te ruil. Om jouself te bemagtig is ’n wonderlike hupstoot vir selfvertroue!
Jou kop
Skryf elke ding neer waaraan jy nog nie aandag gegee het nie. Hierdie is die klein jakkalsies wat jou van energie beroof omdat jy gedurig daaraan dink en nie daarby uitkom om dit te doen nie. Pak al die take op ’n streep aan en merk dit af sodra dit afgehandel is. Dis ontsettend bevredigend!
Jou gees
Terwyl jy met uitgooi en skoonmaak besig is, kan jy gerus ’n bietjie aandag aan jou siel gee. Die fisieke skoonmaakproses gaan dalk net vir ’n seisoen hou, maar die geestelike skoonmaak sal jou die res van jou lewe baat. Stof dus hier ook af. Maak jou hart skoon. As jy ’n wrok koes ter of ongelukkig met iets of iemand is, moet jy dit hanteer en oplos, of vrede daar mee maak. Sit ’n wag voor jou mond. Neem ’n besluit om nie te skinder nie en te dink voor jy praat. As ongeduld jou soms in die hitte van die stryd lelike dinge laat sê, kan jy daar aan werk om jou sê te sê sonder om ander seer te maak. Voed jou siel. Onderneem om jou siel net met positiewe dinge te voed. Jy kan won der like geestelike krag uit die Bybel of in spirerende selfhelpboeke put. Verban die ne gatiewe deur dit so min as moontlik op te soek. Vergewe en vergeet ou koeie. Laat dié dinge gaan wat jou hart bitter maak. Gee hope liefde aan jou medemens en gesin. Dit sal na jou toe terugkom. Leer om te lag. Lag ’n bietjie meer en ook soms vir jouself! Al voel jy soms onder druk en moedeloos, is elke donker si tuasie ’n geleentheid om te leer. Moenie din ge te ernstig opneem nie. Besluit wat werklik belangrik in jou lewe is en konsentreer daarop. ’n Heerlike lente vir jou! Vk