Diemersdal-wynlandgoed het onlangs ’n Sauvignon Blanc-proe plus ’n paar ander spesiale wyne aangebied
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Diemersdal-wynlandgoed in Durbanville het onlangs ’n Sauvignon Blanc-proe plus ‘n paar ander spesiale wyne saam met die wynmaker en eienaar Thys Louw en wynmaker Juandré Bruwer, aangebied.
Thys is die sesde geslag Louws op die plaas en die jong sewende geslag, Tienie, is nog op laerskool, maar al klaar mal oor wynboer-speel. Die 340 hektaar plaas het 200 hektaar onder wingerd en 130 hetaar word bygehuur.
Die wyne wat te proe aangebied was, was die Sauvignon Blanc Reserve 2018; die Winter Ferment Sauvignon Blanc 2018; Eight Rows Sauvignon Blanc 2018; MM Louw Sauvignon Blanc 2017; MM Louw Sauvignon Blanc 2013; die Pinotage Reserve 2017; Private Collection 2016 en Private Collection Red Blend 1984.
Die Winter Ferment 2018 is geproe (die tweede vrystelling van ’n unieke wyn wat van gevriesde Sauvignon Blanc-druiwe gemaak word) en het baie belangstelling uitgelok, omdat Diemersdal die land se pionier op hierdie metode is. Deur die druiwe te vries word verseker dat die wyn altyd vars bly wanneer dit gemaak word.
LEES OOK: Suid-Afrika se top 10 Pinotages aangewys
Die Pinotage Reserve 2017 is ook pas aangewys as een van Suid-Afrika se Top 10 Pinotages.
Ofskoon hy ‘n selferkende Sauvignon Blanc-fanatikus is, glo Thys in Durbanville se vermoë om sommige van die beste rooiwyne in Suid-Afrika en die wêreld op te lewer.
“Die wortels van Durbanville se wingerdkunde en wynmaak was nog altyd stewig geanker in rooiwyn, lank voor dit bekend geword het as ‘n wêreldklas Sauvignon Blanc-streek,” sê Thys.
“As die sesde generasie Louw op Diemersdal, is ek die eerste een wat ‘n plaas bestuur wat hoofsaaklik betrokke is by witwynproduksie. In die 1970’s en 1980’s was ons egter bekend vir rooiwyne, veral Cabernet Sauvignon. Die feit dat waarskynlik Suid-Afrika se beste rooiwyn ooit, die GS Cabernet 1966, van Durbanville-druiwe gemaak is, beklemtoon ons area se rooiwynbloedlyn.”
Thys is veral opgewonde oor die Diemersdal Private Collection-wyn, ‘n Bordeaux-versnit bestaande uit vyf kultivars wat tans groot sukses in die mark geniet, soveel so dat produksie aansienlik verhoog is om te voldoen aan die groeiende aanvraag van die restaurant- en kleinhandelbedryf.
Die Private Collection 2016 is onlangs vrygestel en is ‘n versnit van Cabernet Sauvignon (54%), Merlot (25%), Malbec (18%), Cabernet Franc (2%), en Petit Verdot (1%).
Volgens Thys weerspieël die wyn die gehalte van die 2016-rooiwynoesjaar wat gekenmerk is deur perfekte, eweredige rypwordtoestande. Dit het hom in staat gestel om ‘n wyn te maak waarin al vyf kultivars komponente kon vorm wat in totale harmonie met mekaar is, en ‘n individuele rooiwyn met elegansie, krag en teenwoordigheid kon skep.